Briljante reisverhaal oor die Hervorming

GELOOF ALLEEN: REISE DEUR DIE KERKHERVORMINGS
Deur André Pretorius
Uitgegee deur Naledi, 2017
Resensie deur Frits Gaum


Hierdie is ’n briljante boek. Nie net is die tydsberekening uitstekend nie – dit verskyn presies in die tyd dat die Kerkhervorming van 500 jaar gelede wêreldwyd gevier word – maar die skrywer is ook buitengewoon woordvaardig en vertel die verhaal van sy reise na die wortels van ons gereformeerde geloof in baie goeie Afrikaans. Hy skryf ­boeiend en aangrypend oor fisiese reise wat algaande ook sy eie geloofsreis word.

Pretorius, die skrywer van etlike ander geslaagde reisverhale (Iets ver en nuut, 2010; Eilande en enklaves, 2012; Italiaanse intermezzi, 2016), pak hier iets unieks aan. Hy en sy seuntjie, Daniel, “steeds die wêreld se beste reisgenootjie”, wandel deur die straatjies en plei­ne van ou Europese dorpe, “die dogmatiese slag­velde van weleer”, op soek na die beginpunte van die Reformasie. (Dit moes sowaar vasbyt gekos het vir pa en veral seuntjie om saam al die stowwerige museums en ou kerke en huise en “slagvelde” te besoek!) Hy vertel in besonderhede van sy besoek aan die Wittenbergse kerk – met die kerkdeur waarteen Luther toe waarskynlik nié sy 95 Stellings vasgespyker het nie – van sy besoek aan die Wartberg-kasteel waar Luther binne ’n kort tyd die Nuwe Testament in Duits vertaal het, van sy besoeke aan Johannes Calvyn se geboortedorp en aan Genéve waar Calvyn sy stempel onuitwisbaar af­ge­druk het. Hy vertel van die uitwissing van die kloos­ters en die Dertigjarige Oorlog, van sy bedevaart na ’n grot en ’n berg, van sy reise “tot aan die uiterste van die aarde” op die spore van kerkhervormings.

Pretorius neem fyn waar. In ’n museumpie langs die “Lutherstube”, die vertrek waar Luther die “stille revolusie” van ’n Bybelvertaling in die volkstaal vol­trek het, is skilderye van verskillende figure uit Luther se lewe. “Sy ouers, Hans en Margarethe, hang neffens me­kaar en in hulle ouerlike blik op die toneel van hulle seun se rebellie is daar materiaal om elke denkbare en ondenkbare Freudiaanse en Jungiaanse interpretasie aan te stig … Om Hans se mond speel ’n af­keu­ren­de trek, asof hy pas ’n gedagte moes terugbyt en dit klonter in sy binneste … Margarethe se onverbiddelike trek eggo haar man s’n” (bl 68). Pretorius skryf dat historici saamstem dat Luther se ouers allesbehalwe ingenome was met sy keuse om monnik te word. Sy latere doen en late was waarskynlik ook vir hulle pro­blematies.

Vir my een van die treffendste gedeeltes in Pretorius se boek, is sy verbeelde “gesprek” met Calvyn. Op die spyskaart van ’n kafee op die rand van die Place du Bourg-de-Four in Genéve sien Pretorius onder die biere een genaamd Calvinus. “Die ironie is onweerstaanbaar: die Gereformeerde hoë priester met sy reputasie vir stoere vreugdeloosheid as handelsnaam vir die vreugde van ’n glas goue boetiekbier; ek bestel dit” (bl 109). En dan wonder Pretorius hoe dit sou wees om op hierdie pleintjie te sit en Calvyn te vra vir sy evalue­ring van Calvinisme 450 jaar na sy dood? Hy skraap sy moed bymekaar (nadat hy sy tweede Calvinus bestel het), en vra: “Doktor Calvyn, waarom is dit dat u so ’n hardvogtige reputasie op die lyf geloop het?” Pretorius skryf dat Calvyn waarskynlik sou sug en sê dat “Calvyn” en “Calvinisme” nie die­self­de is nie. “Ek staan soms verstom as ek sien wat as ‘Calvinisme’ bestempel word”, sou hy tien teen een gesê het (bl 110). En dan gesels die skrywer en Cal­vyn land en sand, onder meer ook oor die uitverkiesingsleer …

Ja, ’n mens word soms ’n bietjie moeg vir al die klein besonderhede in Pretorius se boek oor die vroeëre stryde en selfs bloedige gevegte oor dogma en geloof. Totdat jy agterkom dat kernvrae van destyds vandag nog, al is dit in nuwe ge­daan­tes, onder ons spook. En Pretorius ken die kuns om dorre feite ver­teerbaar te maak met speelse tussenwerpsels. Soos as hy en Daniel in die motor luister na Johann Sebastian Bach se musiek: “In die motor groei Bach se kantate tot ’n jubeling van trompette en die driejarige snip agter in die kar doenig met die iPad, besig ’n ongereformeerde frase wat hy by sy Ita­liaanse oppasser gehoor het: “Rompi la palle, questo romore!” oftewel, “Genugtig, wat ’n lawaai!” (bl 75). 

Hierdie boek is pragtig uitgegee deur Naledi en is een van die belangrikste publikasies van die jaar.