Die kerk kan deel wees van die oplossing

“Die kerk kan deel wees van die oplossing.”  

Dít was die boodskap van prof Eddy van der Borght tydens die eerste Tutu-Jonker Prestigelesing van die Fakulteit Teologie en Re­li­gie aan die Universiteit van die Vrystaat op Donder­dag­aand 19 Oktober 2017. Van der Borght is ’n sis­te­­matiese teoloog wat die Desmond Tutu-leerstoel aan die Vrije Universiteit in Amsterdam, Nederland be­­klee.

In sy voordrag, getiteld “Religions and reconciliation of conflicting socio-cultural identities”, het Van der Borght daarop gewys dat godsdienste wêreldwyd dik­wels deel vorm van polarisasie en konflik wat op ’n verskeidenheid van gebiede afspeel.

Ongelukkig staan dít in skerp teenstelling met die veronderstelling dat die kernbesigheid van godsdiens­te juis die kennis en verdere fasilitering van meganismes van versoening tussen hemel en aarde is.  

Dié roeping van die kerk tot versoening vra juis om nou wêreldwyd en ook in Suid-Afrika weens verhoog­de konflikpotensiaal duidelik gehoor te word. Volgens Van der Borght kan dié roeping aan die hand van die volgende drie bewegings vergestalt word:

Ten eerste moet versoeningspraktyke wéér heront­dek word. Die rol wat Aartsbiskop Desmond Tutu en wy­le prof Willie Jonker tydens die Rustenburgberaad van 1990 gespeel het, is ’n goeie voorbeeld daarvan. Ty­dens die hoogspanning en onstuimige oorgangsjare na ’n demokratiese bedeling in Suid-Afrika vergestalt Tutu en Jonker op ’n outentieke wyse die praktyke van be­lydenis, vergifnis en versoening.

Tweedens moet geloofsgemeenskappe aangemoedig word om meer krities te reflekteer op ’n eie geskie­denis. Die Waarheid-en-versoeningskommissie het on­­der meer die destruktiewe rol van geïnternaliseerde rassisme binne geloofsgemeenskappe uitgewys. Dit kan slegs gehanteer word as kerke hulle eie sosio-kul­tu­rele identiteit evalueer en hulleself krities afvra hoe dit hulle bydrae tot versoening in die gemeenskap beïn­­vloed.

Derdens moet kerke en geloofsgemeenskappe aan­ge­moedig word om ’n teologie te ontwikkel wat in be­son­der aandag gee aan die uitdagings van sosio-kulturele identiteite. Die verhale in Handelinge asook uit Paulus se bediening kan hierin leidinggewend vir ge­loofs­gemeenskappe wees. Die ontwikkeling van só ’n teo­logie kan kontekstuele praktyke informeer en ver­ander.

Van der Borght, wat ook as navorsingsgenoot verbonde is aan die Fakulteit Teologie en Religie van die Universiteit van die Vrystaat, het dit beklemtoon dat die kerk en teoloë as “spesialiste in versoening”, die be­­tekenis daarvan na die publieke ruimte moet dra. Juis in die bemiddeling van die versoening kan die kerk deel wees van die oplossing.