Dié boek kan jy elke jaar weer lees

SIMPLY BRILLIANT
Skrywer: William C Taylor
Uitgewer: Penguin, 2016


Johan Heyns is bekend vir sy gesegde dat dominees met ’n koerant in die een hand en die Bybel in die ander hulle vir Sondae moet voorberei.

Met die snelveranderende wêreld en die uitdagings (disruptions) wat dit aan die kerk en besighede stel, beleef ek nou dat preekstoel en kleinhandel-toonbank en die voorsitterstoel by Anglo se direksie en Arcadia se kerkraadsvergadering baie na aan mekaar gekom het. Dalk sal prof Heyns nou geskryf het dat geen dominee ’n week moet laat verbygaan sonder om ’n goeie bestuursboek te lees nie.

Vir iemand wat dit oorweeg, sou een van die eerstes om te lees sekerlik Simply brilliant van William C Taylor wees.

Die subopskrif sê reeds veel: “How organizations do ordinary things in extraordinary ways.”

Wat uniek van die boek is, is dat hy nie stelsels of sisteme beskryf nie, maar die waardes wat een besigheid bo die ander laat uitstyg en laat oorleef het. Die enkele sin wat hy oor en oor met verhale van omdraaistrategieë gedemonstreer is: “It’s easy to be clever, but not so easy to be kind. In a world reshaped by technology what we so crave is small gestures of kindness that remind us what it means to be human.”

Vir leiers noem hy deur die boek vier beginsels. Die laaste een het besonders met my gepraat!

1. Leierskap impliseer dat jy veranderinge inisieer.

2. Groot verandering is die resultaat van ’n klomp klein aanpassings.

3. Hoe meer jy verander hoe meer gaan jy uitgedaag word om te verander.

4. Jy kan nie verandering omhels indien jy nie bereid is om mislukking te aanvaar nie.

Dalk kan sy hele bestuursfilosofie die beste saamgevat word in wat hy noem “a Lighthouse identity”. Maak seker waar jy staan. Werk daaraan om jou lig helderder te maak. Laat jou lig só skyn dat mense dit kan raaksien, ongeag waar hulle staan. Bou jou lighuis op rotse – golwe kan soms rof onverwags wees!

’n Boek wat ek naby hou en beslis elke jaar moet lees.

Dr Johan Pienaar was vroeër moderator van die Noordelike Sinode en doen na sy uittrede bestuurskonsultasie by verskeie besighede en instansies.