Te midde van alles gaan die kerk in Zimbabwe voort

Ds Paul Grobler, direkteur van die Noordelike Sinode, het Zimbabwe onlangs besoek om die Ring van Midde-Afrika se ringsitting by te woon. Hy deel van sy indrukke van die kerk en die konteks.


Dit is vroeg September. Op ’n Dinsdagoggend drink ek en Gerard Breytenbach koffie by ’n voor­stedelike winkelsentrum in Harare. In die koffiewinkel word daar gekuier, gelag en gesels soos in enige gewilde koffiewinkel in Pretoria of Kaapstad. 

By een van die tafels is iemand verdiep in die plaaslike oggendkoerant, by ’n ander lyk dit of ’n paar vroue ’n vriendin se verjaarsdag vier. By nog een is iemand druk besig op sy rekenaar se sleutelbord en by ’n ander lyk dit of twee besigheidsmanne ’n belangrike transaksie probeer beklink. Die lewe gaan aan ten spyte van Robert en Grace Mugabe se mannewales en die feit dat mense in lang toue buite die banke staan en wag in die hoop om ’n paar dollar van hulle swaarverdiende salarisgeld in kontant te kan ontvang.

Gerard, of Breyts soos almal hom ken, is getroud met Sherie en is tans die voorsitter van die Ring van Midde-Afrika wat einde Augustus in Harare in sitting was. By die ringsitting is daar onder meer gepraat oor hoe om kerk te wees as die politiek van die dag nie in jou guns is nie, as die ekonomie uitmekaarval en die gemeentes so klein geword het dat hulle nie meer voltydse dominees kan bekostig nie.

Die ring het 11 gemeentes in Zimbabwe, waarvan die kleinste 24 lidmate het en die grootste 110. Daar is net vier voltydse dominees, Gerard, Piet van Vuuren, Johan Haasbroek en Mattie Beukes. Hulle al vier is hulle hele bediening in Zimbabwe en verklaar onomwonde dat hulle baie lief is vir die land en graag end-uit daar sou wou bly. Elkeen van die vier bedien tans twee tot drie gemeentes. Op die meeste Sondae is daar dus meer eredienste in Zimbabwe wat deur ouderlinge gelei word as deur dominees.

Die jeugpastoor van die inheemse kerk aan wie die oorspronklike kerkgeboutjie van Melsetter geskenk is, saam met ds Mattie Beukes. Foto’s: Paul Grobler

Die suide van Zambië is ook deel van die ring. Die gemeente Lusaka met 760 lidmate (van wie sowat die helfte swart en helfte wit is) is tans by verre die grootste in die Ring van Midde-Afrika. Hulle het twee domi­nees, te wete Frikkie van Niekerk en Moses Zulu. Die aand na die ringsitting slaap die afgevaardigdes van Zambië en ekself by Piet-hulle in die pastorie. Sy vrou Grieta nooi sommer nog ’n paar ander ringslede om ook daar te kom eet. Daar word land en sand gekuier en die spontane hartlikheid beklemtoon die hegte bande van ’n geloofsfamilie oor taal- en kultuurgrense heen.

Die volgende dag vertrek ek saam met Mattie en sy vrou, Nicolene, na die pragtige Chipinge, 500 km suid­oos van Harare. Mattie is ’n tentmakerle­raar en hoof van die skool waar Nicolene ook skoolhou. Die pad word opgehelder deur die Msasa-bome wat hulle blare elke jaar vir die lente in skakerings van roesbruin en geel tooi. Daar is ook nie ’n tekort aan kremetarte nie en langs die pad is die mooiste matte van kre­me­tartbas te koop. Padblokkades duik male sonder tal op – ’n toets in geduld vir elke wetsgehoorsame bur­ger. 

Daar is net 47 lidmate in Chipinge oor en daar is ook nie meer tradisionele Engelse gemeentes nie. Die paar Engelssprekende kerkgangers wat dus oor is, ska­kel nou by die NG Kerk in en daarom is die eredienste in Engels. By die lente-ete na die erediens praat feitlik almal Afrikaans. Enkele van die kinders sukkel egter effe met die Afrikaans. Dalk hou dit verband met die feit dat hulle in Engels skoolgaan.

Terwyl almal gesellig om die braaivleisvure kuier, hoor jy hulle praat oor hulle kommer oor die algemene verkiesing in 2018, oor melkerye, teeplantasies, koffieverbouing en piesangs. As jy fyn luister, hoor jy ook van die verstommende nuwe planne wat boere maak om in ’n stukkende land ’n sinvolle bestaan te bly maak. Sommige van hulle moes al drie keer verhuis, want telkens is hulle van hulle grond afgesit.

Chipinge is die tweede oudste gemeente in Zimbab­we en reeds in 1895 gestig. Aanvanklik was die ge­meen­te se kerkgebou op Melsetter, die huidige Chima­nimani. Nadat die sentrum van die gemeente na Chi­pinge verskuif het, is die kerkgeboutjie aan een van die inheemse kerke geskenk. Tydens my besoek het ek en Mattie die kerkgeboutjie gaan opsoek. Dit is on­ge­lukkig tydens ’n aardbewing so beskadig dat hulle dit moes afbreek. Sommige van die materiaal is wel in ’n nuwe gebou gebruik.

Dit is my tweede besoek aan Zimbabwe. Twee jaar gelede was ek daar vir die oudste gemeente in Zimbab­we, Bulawayo, se 120ste verjaarsdag. Toe was daar nog ’n voltydse predikant, Theunis Botha. Hy het intussen vanweë siekte afgetree. As Hervormde predikant het hy die NG-lidmate, die Doppers en die Hervormers be­dien. Daarom staan die gemeente ook bekend as die Samewerkende kerke in Bulawayo.

Miskien kan ons by ons familie op ons noordelike grens tog ’n klompie dinge leer oor hoe om ’n verskil te maak as ons nie aan bewind is nie, oor ekumeniese sa­mewerking, oor die rol van ouderlinge en oor om gelukkig te wees ten spyte van materiële uitdagings. En miskien moet ons hierdie familie van ons in Midde-Afrika baie meer waardeer en spesiaal vir hulle bid – veral in die lig van Zimbabwe se verkiesing in 2018 en al die onstabiliteit wat dit kan meebring.