Pretdraf met Jesus-liefde in Merweville

Merweville het vir baie mense die “Boekklub-dorp” geword weens kykNET se gewilde TV-reeks. Maar daar gebeur veel meer as net TV-opnames.

Lizanne van Zyl en haar twee dogters, Zanelle en Inné, van Helderberg-gemeente in Somerset-Wes het drie jaar gelede ’n uitreikprojek by die George Frede­rick Primêre Skool begin. Hulle help die kinders hoofsaaklik met skryfbehoeftes, maar doen jaarliks ook iets lekker. Die eerste jaar was dit ’n speletjiesdag; toe ’n fliekaand met springmielies. Vanjaar, ’n pretdraf.

En pret was dit beslis. Lizanne vertel: “Dit was eintlik Priscilla Burger, predikantsvrou van Merweville en ad­junk­hoof by George Frederick Primêr, se blink idee. Ons moes eers toestemming vir die pretloop by Beaufort-Wes se munisipaliteit kry. Hulle het vir ons ’n po­li­sie­voertuig gestuur om heelpad saam met die kinders te ry.

“Ons het twee watertafels gehad met ysies en koe­kies aan weerskante van die dorp. Mense uit die ge­meen­skap het die tafels help beman. Kinders van graad 4 tot graad 9 kon deelneem. En daar was pryse vir die wenners, vir die eerste drie seuns en eerste drie dogters. Wol en breipenne, want die kinders brei nou so graag. Selfs die seuns.

“Wat ’n voorreg om te kon deel wees van so ’n lekker dag. Die kinders het dit baie geniet! Ons is bly daaroor. Dit was ons doel. Ons wil nie slegs hulle skryf­behoeftes borg nie. Ons wil hulle ook plesier gee. En hulle waardeer. Die kinders smag na aandag en lief­de. Met die pretdraf kon ons Jesus se liefde so ’n bietjie aan die kindertjies bewys.”

Vier projek-donateurs, Johan en Katie Swart asook Christo en Anna Albertyn, was saam Merweville toe. Hulle het by “die Boekklub se gastehuis” geslaap, reg langs die baie mooi ou kerk. En die skool besoek.

“Ons het geruime tyd in die klaskamers deurgebring. En was baie beïndruk. Hulle is so netjies en gedissiplineerd,” sê Christo. “En dankbaar,” voeg Johan by. “Hulle het vir ons in die stoorkamer gaan wys: al die rekenaar-, fotostaat- en toiletpapier wat hulle kon aankoop uit ons fondse.” Katie vertel dat hulle omgeegroep 130 mussies vir die kinders gebrei het. “As ons ’n klas binnestap, staan die kin­ders op: ‘Môre ooms, môre tan­nies.’”

Hulle besoek en bydraes maak ’n groot en praktiese ver­skil in die kinders se alle­daagse lewe. Maar, soos mees­al met ’n uitreik, sê die deel­ne­mers: Ons het baie meer ge­kry as wat ons gaan gee het.