Reformasievieringe moet ons help reformeer

Die jaar 2017 is vir die NG Kerk ’n baie be­lang­rike jaar. Ons herdenk saam met ander Protestantse kerke die 500-jarige bestaan van die Reformasie. Kerklik gesproke, is hierdie ’n belangrike geleentheid vir ons bestaan. Die afgelope paar jaar was dan ook besonders met al die vieringe rondom die Reformasie.

In 2009 is Calvyn se bydrae gevier, die bydrae van die Nederlandse Geloofsbelydenis in 2013 en in 2018-2019 sal die bydrae van die Sinode van Dor­drecht aan die beurt kom. Met die herdenking van hierdie belangrike momente, en deur met die ge­skie­denis besig te bly, maak ons vir onsself beter uit waarin ons werklik glo, wat van meer of minder waarde vir ons is, waarmee ons kan identifiseer, en wat ons tot elke prys in die toekoms moet probeer ver­my, en hoe ons steeds moet reformeer.

Die gedagte dat ’n gereformeerde kerk altyd moet reformeer, het veral in die periode ná die Reformasie ontwikkel, ’n periode wat as die Nadere Reformasie bekendstaan. Tog is die tema wat hiermee aan die orde gestel word, ’n suiwer Bybelse tema: die kerk van Christus moet voortdurend reformeer ten einde steeds “gereformeerd” te bly, dit wil sê ’n kerk te wees waar God alleen die eer ontvang, waar Christus as enigste Verlosser bely word, en waar die Heilige Gees en die Heilige Skrif die lig en die lewe verskaf.

Geloof binne die Reformatoriese denkraam is nie ’n geslote denksisteem nie. Dit is eerder ’n le­wen­de tradisie waarvan die inhoud nie sonder meer as konsepte beskou en geanaliseer kan word nie. Ons kan dit voorstel met ’n dam wat staties en be­grens is teenoor ’n rivier wat breër en dieper vloei. Om steeds te reformeer is om steeds nuut te ontdek wat die rykdom van ons gereformeerde tradisie is.

Die belangrike vraag is daarom hoe laat ons ons toe om steeds deur die gereformeerde tradisie getransformeer te word? Om gereformeerd te leef, is meer as om maar net die solas aan te haal. Die NG Kerk se 500-jarige vieringe sal arm wees as ons nie diep gaan nadink hoe ons kerk van die Reformasie is en moet wees nie. Selfondersoek word immers voortdurend genoodsaak deur die gees van ecclesia reformata semper reformanda.

Belangrike sake wat diep nadenke verdien binne ons huidige konteks, is die volgende: Eerstens het die historiese betekenis van die uitdrukking “gereformeerd volgens God se Woord” die betekenis dat die kerk se lidmate met hulle lewenswandel die publieke lewe ten goede sal beïnvloed, en waar moont­lik selfs sal help verander, in die rigting van groter geregtigheid. In die lig van die ongelooflike armoede, korrupsie en misdaad in die gemeenskap waarin die kerk hom bevind, vra dié uitdagings diep nadenke en aksie van die NG Kerk.

Die tweede belangrike saak gaan oor die eenheid van die kerk. Die heerskappy van Christus in sy kerk noodsaak dat geleefde eenheid in ware versoe­ning en ontfermende geregtigheid beliggaam behoort te word. Daarom die wesenlike plek van kerk­verband, in enger en breër vorm, as sigbare uit­drukking van eenheid in geloof, die inklusiewe gemeenskap waarin almal tot hulle reg kom, waar allerlei verskille en diversiteit as onderlinge verry­king beleef moet word.

Kom ons verleen deur ons saamdink en -doen, onder andere aan bogenoemde sake, betekenis aan die 500-jarige herdenking van die Reformasie.

Dr Gustav Claassen is die Algemene Sekretaris van die NG Kerk.