Vryburg slaan twee vlieë met een klap­

Dit was twee goed wat haar gepla het, vertel Mariëtte van Huyssteen, ’n maatskaplike wer­ker van Caritas Gemeenskapsfokus op Vryburg.

Die een was dat mense en kinders vasgevang is in armoede en sukkel met selftrots. Die ander was dat van die woongebiede so met rommel bestrooi is. Dit het haar laat wonder oor ’n herwinningsprojek wat ter­selfdertyd kan help om armoede te verlig. Twee vlieë met een klap.

Caritas se kantoor het ’n paar jaar gelede al ’n voorlegging vir die projek aan die Nasionale Loterykommissie gedoen. Mei vanjaar kry hulle die nuus dat dit goedgekeur is. Die kommissie sal die projek finansier.

“Dit was vir ons ’n totale nuwe veld waarvan ons as maatskaplike werkers nie veel kennis gedra het nie, maar ons het dit as ’n uitdaging gesien en ’n geleentheid om ’n verskil te maak,” vertel Mariëtte.

Daar was geld vir ’n nuwe bakkie met ’n waentjie en die basiese bedryfsuitgawes verbonde aan die projek vir ’n jaar. Die projek is bekendgestel in die plaaslike koe­rant, op Caritas se facebook-blad en by skole en kerke.

Dit werk op ’n puntestelsel waar persone en kinders hul herwinbare produkte kan inbring en hulle dan volgens gewig punte verdien. Punte kan maandeliks of voor Kersfees omgeruil word vir voedselprodukte.

Behoeftige kliënte uit die hele gemeenskap neem nou deel. Blikkies, bottels, plastiek, karton en papier wat vroeër weggegooi sou word of die strate vol gelê en die dorp ontsier het, het nou ’n bron van inkomste vir baie geword. In sakke of met kruiwaens bring hulle die herwinbare produkte om geweeg te word.

Een ma vertel dat haar staptyd met haar kinders van die skool af nou langer neem omdat haar kinders gre­tig herwinning doen op pad huis toe. Hulle het elk­een al ’n hele paar punte op hulle kaarte verdien.

Boonop is die strate sommer ook nou skoner.

Besighede in die dorp is versoek om hulle herwinbare wit papier en kartondose te skenk om te help om die projek finansieel volhoubaar te maak – en die besighede het goed gereageer. Verskeie gegoede huis­hou­dings en boere in die omgewing gee hulle herwinbare rommel verniet. Dit help Caritas om arm mense meer te betaal vir die herwinbare produkte as wat hulle uit die herverkoop daarvan kry.

Harde werk lê nog voor om die projek verder uit te brei en reserwefondse op te bou om die projek volhoubaar te maak, sê Mariëtte, maar sy is optimisties dat hulle hier ’n projek begin het wat op die duur ’n groot ver­skil gaan maak.

– Ander instansies wat ook so ’n projek wil begin of persone wat ’n bydrae wil maak tot Caritas se projek, is welkom om hulle kantoor te skakel by 053 927 2374.