Jannie skryf op 90 oor sy lewe se sout en peper

SOUT EN PEPER
Deur Jannie du Preez
Uitgegee deur Barnabas Uitgewers, 2017
Resensie deur Willie van Rooyen


Prof Jannie du Preez, sendingkundige en Nuwe-Testamentikus, het op 16 Augustus 90 jaar oud geword. Met hierdie “grepe uit my herinne­ringe” vertel hy onderhoudend van die sout en peper van sy lewe, en dra die boek op aan die mense wat intiem deel was daarvan: sy vrou, Tinka, en hulle vier kinders en kleinkinders. Dit is ’n smaaklike toevoe­ging tot die skrywer se vorige boek, Van dit en dat … en nog wat.

Opvallend in Sout en peper met sy 15 hoofstukke, is die skrywer se vermoë om sy gedagtes te orden en sy wedervarings so te beskryf dat dit die leser se verbeelding aangryp. Du Preez, met jare se ervaring as predikant en dosent, slaag goed daarin om sy liefde en kennis van die Skrif én sy passie om die Woord uit te dra, te verweef met alledaagse ervarings en relevante lewenskwessies.

Hy skryf in keurige Afrikaans, dra algaande ’n mag­dom lewenslesse oor, en gee ook prakties-beproef­de inligting en raad oor die benadering van mense wat byvoorbeeld die Moslem-geloof aanhang.

Die “Allegaartjie” aan die einde, bied aan die leser ’n behaaglike nasmaak wat, naas die sout en peper, ook suikersoet is. Sou dit die laaste publikasie van Jannie du Preez wees, is dit ’n gepaste afronding van ’n betekenisvolle lewe. Die boek kan by die Christelike Lektuurfonds bestel word by 021 873 6964.

Dr Willie van Rooyen is predikant van Vredelust.