Touwsrivier begin die pad na eenheid stap

Toe die NG gemeente Touwsrivier onlangs vir ds Andrew Esterhuizen van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) bevestig het, het hulle onwetend kerkgeskiedenis gemaak. Conette le Roux het by dié Karoogemeente gaan kuier en meer uitgevind oor die proses van moontlike hereniging met die VGK op die dorp, wat ’n weg vir ander gemeentes in Suider-Afrika kan aandui.

erkhereniging gaan nie gebeur as mense nie besluite neem soos Touwsrivier nie,” sê die VGK dominee wat saam met sy nuwe gemeente in Touwsrivier kerkgeskiedenis maak.

Op 23 Julie 2017 het ds Andrew Esterhuizen die eer­ste VGK dominee geword wat ’n leraar van ’n NG gemeente “in die volle sin van die woord” geword het.

“Die eerste opdrag wat ek het, is om gewoon predikant vir die gemeente te wees. Pastor, herder, leraar waar die normale werksaamhede van ’n predikant ingesluit is. Soos om op Sondae te preek, siekebesoek te doen en ander pastorale take.”

Volgens Andrew is dié deel van die opdrag juis wat sy pos so uniek maak. VGK leraars is al voorheen in die NG Kerk aangestel vir spesifieke take, maar nog nooit om as herder die NG lidmate te bedien nie.

“My tweede opdrag is om die gemeente se visie om ’n multikulturele gemeente te wees, te help verwesenlik. Dit beteken dat Touwsrivier oop is vir almal in die gemeenskap, maak nie saak van watter kerk nie. Maar dis tog ’n spesifieke opdrag om met die VGK op die dorp een te word. Die bedoeling met die tweede opdrag is dat ek kontak moet opbou met die VGK en moet vasstel of hulle hierdie droom om in die een dorp een gemeente te vestig, deel. Ook om vas te stel of hulle bereid is om die pad saam te stap sodat daardie droom ’n werklikheid kan word.”

Volgens Andrew het die nuwe tussenorde, wat dié twee kerke wil help om saam te reis en deur albei kerke se algemene sinodes goedgekeur is, juis dié unieke gebeurtenis moontlik gemaak. Hy vertel die NG gemeen­te en VGKSA in Wynberg se poging tot hereniging in 2008 het skipbreuk gely omdat dié tussenorde nie in plek was nie.

Wanneer jy Andrew uitvra oor sy gevoel om betrokke te wees by só ’n geskiedkundige gebeurtenis, is hy baie nederig. Hy beskryf homself as bloot ’n “begenadigde” in hierdie unieke proses.

“Die kerkraad het ’n kans gewaag om die eerste stap te neem na ’n droom wat wyd gedeel word in die NG Kerkfamilie,” het hy onlangs op dié Karoodorp in sy ken­merkende sagte stem gesê. “Ek is eintlik net hier om die gemeente te help.”

Skuins oorkant Andrew sit Gerhard du Toit wat die afgelope 16 jaar reeds voorsitter van Touwsrivier se kerkraad is. Hy vertel toe hulle ’n VGK dominee be­roep het na hulle gemeente, het die kerkraad nie vir een oomblik besef hulle maak geskiedenis nie. Dit was vir hulle vanselfsprekend, sê hy.

“Toe die vorige leraar bedank, was dit ’n groot skok. Toe het die situasie hom voorgedoen dat ons iemand moet beroep. So het ons vir ds Gielie Loubser van Gemeentebegeleiding gekry om met ons te kom praat. En die dag toe Gielie vra hoe ons sal voel om iemand van die VGK te beroep, was dit doodeenvoudig van al ons lede slegs ’n kopknik. Die kerkraad het nie een oom­blik getwyfel dat dit die regte ding is om te doen nie. Kleur was beslis nie ter sprake nie, solank hy hulle multikulturele droom kon help verwesenlik.

“Wat nou gebeur, is vir my ook ’n nuutjie. Die toekoms van ons kerk lyk vir my nou baie meer rooskleurig as die afgelope 16 jaar. Ons moet hierdie geleentheid omarm. Ek het geen twyfel daaraan dat dié proses gaan werk nie. Andrew het gekom om die voetwerk vir die NG Kerk en VGK in Suid-Afrika te doen.”

Die groot draaipunt

Gerhard woon al die afgelope 42 jaar op Touwsrivier. Wanneer hy terugdink, sê hy hulle gemeente het reeds lank terug besef hulle en die VGK hoort saam. Volgens hom kom die aanloop na dié beroeping eintlik al ’n lang pad. “Hoekom moet ons swaarkry terwyl ons bymekaar hoort?” sê dié finansiële adviseur. “Jy weet, hierdie ‘hulle’ en ‘ons’ het my nog altyd gepla. Beide gemeentes hou al jare lank gereeld saam nagmaal.

“Die laaste 11 jaar is daar ook nie meer net blanke lidmate in die kerk nie. Daantjie Prins, ’n bruin ouderling by Touwsrivier, is byvoorbeeld reeds agt jaar in dié amp. Hy sê eenvoudig hy ‘hoort hier.’”

Maar die groot draaipunt vir albei gemeentes en vir die dorp het gekom toe die Spoorweë in die 90’s uit Touwsrivier onttrek het. Gerhard skets die prentjie: “Binne ’n kwessie van drie maande het sowat 300 ge­sinne die dorp verlaat. Hierdie dorp se woonhuise het leeg gestaan. In ’n stadium het net elke vierde, vyfde huis se ligte gebrand.”

Dít beteken lidmate het weggetrek om elders te gaan werk en die oorblywende, ouer lidmate is uiteindelik ouetehuis toe. Dit alles het daartoe gelei dat bydraes aan die kerk afgeneem het.

Gerhard du Toit, voorsitter van Touwsrivier se kerkraad. “Ons was baie haastig om Andrew te bevestig. Toe ek die derde aand met Pinkster moet preek, het ek gevoel ek crack,” het Gerhard, wat eintlik ’n besigheidsman is, tydens ’n ligte oomblik opgemerk.

“In die besigheidswêreld is vernuwing en verande­ring so moeilik. Want jy het soveel mense wat daarteen skop. Maar dit is ’n middel tot voortbestaan. Ek het dit ook nou in die kerk ervaar. As jy nie bymekaar staan en bymekaar gooi ter wille van oorlewing nie, gaan ons dit ook nie maak in die kerkopset nie. Ek sien geen ander toekoms vir die NG Kerk en die VGK as om een te wees nie. Ons kan nie wegkom daarvan nie.”

Die prentjie van die Touwsrivier-gemeente lyk taamlik donker. Daar is slegs 140 belydende lidmate. Volgens Andrew het die VGK-gemeente reeds lankal nie meer ’n predikant nie en word sowat een keer per maand deur hulle konsolent, ds Malcolm James, bedien. Anders staan lidmate in.

Die pad na eenheid

Volgens Andrew volg hy basies twee benaderings om dié droom ’n werklikheid te maak. “Die een is om deur die amptelike kanale kontak te maak en van daar om die dinge amptelik te doen. Die tweede is ’n organiese benadering om soos geleenthede ontstaan en hulle voor­doen, dit te benut. Dit is dikwels in dié toevallige geleenthede en ontmoetings wat daar baie betekenis­volle verhoudings gevestig word en dit ontwikkel dan in groeipunte en gee energie wat mense opgewonde maak oor wat kan gebeur.”

Soos ’n toevallige ontmoeting met ’n VGK lidmaat toe Andrew ’n pastorale besoek gebring het aan ’n NG lidmaat nadat haar pa oorlede is. “Ek kry toe ’n boodskap dat die buurman oorkant die pad graag met my wil gesels na my besoek. Die buurman het toe vir my gevra of ek na my preek by die NG Kerk nie by hulle wil kom preek op ’n Sondag nie. Hier in ’n onbeplande gesprek, vra gewone lidmate oor moontlikhede. Hulle sien dus nie struikelblokke nie, maar geleenthede waar ons met mekaar kan saamwerk.”

Wat die formele proses betref, vertel hy hy het onlangs met die ringskommissie van Worcester, waarvan Touwsrivier deel is, ontmoet.

“Ek het hulle iets vertel van die droom van die NG gemeente op Touwsrivier en die moontlikheid dat ons dit wil ondersoek. Dié ringskommissie was baie opgewonde daaroor en het dit voorgedra tydens die ringsitting en aanbeveel dat die ring hierdie poging ondersteun.”

Intussen het hy ook al met Malcolm, konsulent vir VGK Touwsrivier en leraar by VGK Worcester-Suid, gesels. “Ons het ’n goeie gesprek gehad en hy is heeltemal ontvanklik vir die idee om gesprekke te voer.”

Malcolm het by navraag gesê hy is baie positief oor die hereningsproses, maar voel dit moet nie aangejaag word nie. “Ek en Andrew gesels eintlik al ’n geruime tyd oor dié visie en droom. Maar, ons moet nie haastig wees nie. Dit moet met versigtigheid deurgetrap word, want die wonde van die verlede lê nog diep.”

Intussen het Andrew ook met die VGK Touwsrivier se kerkraad gaan gesels en die kerkraad was glo positief oor ’n gesprek om eenwording te ondersoek. Die plan is dan om ’n taakspan aan te stel wat die proses verder sal begelei, sê hy.

Oor sy ervaring by Touwsrivier tot dusver is Andrew “aangenaam verras”. “Ek is so verras deur die hartlikheid en openheid waarmee ek ontvang is in die gemeente. So asof daar absoluut geen mure tussen ons is nie. Ek word ontvang as die dominee van die gemeente. Ek voel tuis, ek voel deel. Mense praat met my oor intieme dinge wat beteken ek word aanvaar as pastor. As versorger van mense. Dit laat my voel dat mense nie net die diens wat ek lewer nie, maar vir my as mens aanvaar.

Andrew lag. “As alle VGK-predikante in die NG Kerk só ontvang word, sal VGK-kerkrade mooi met hul predikante moet werk om hulle te behou.

“Ek voel tuis waar ek is. Ek glo dis die regte plek vir my om nou te wees,” sê Andrew wat 26 jaar predikant in die VGKSA gemeente Kraaifontein was. Gerhard sê vinnig: “Mense raak onmiddellik lief vir Andrew. Hy is so passievol oor sy werk.”

Andrew besef tog dat daar wel uitdagings sal wees. “Mense wil dikwels hê dinge moet dieselfde bly al is daar nie ’n volhoubare toekoms nie. Mense het persepsies en vooroordele van mense wat anders is. Ek voel nie ongemaklik daaroor nie en ons hanteer dit soos dit kom. Eintlik deur blootstelling aan mekaar sal ons leer die ander mag anders wees, maar ons deel dieselfde waardes.

“Die uitdaging is wanneer mense van ’n laer ekonomiese klas deel word van ’n middelklas-gemeente dat mense daarmee sal sukkel om mense te integreer en om te aanvaar. Maar dis hoekom ek hier is – om daarmee te help.”

Kyk video hier