Genade is Jesus Christus

Genade is nie ’n serebrale denkkonstruk nie. Dit is ook nie ’n eenmalige gawe nie. Genade is Jesus Christus.

So het dr Stephan Joubert gesê in die feesdiens vir die Reformasie wat die drie Afrikaanse Kerke saam in die NG kerk Universiteitsoord gehou het. Die diens was ’n viering met orrel-, orkes- en koormusiek en boodskappe van prof Gert Breed van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika en Joubert.

Joubert het aangesluit by Martin Luther se vraag oor waar hy ’n genadige God sou kry, en aan die hand van die Evangelie van Lukas aangedui hoe Jesus die vergestalting van genade geword het.

Sy eerste lêplek in die wêreld was ’n voerbak vir diere waar die herders Hom gevind het. Hulle was Betlehem se “nobodies”, die afgeskryfdes, die onwelriekendes, maar hulle het God geprys, want genade verander ’n mens.

In Nasaret het Jesus sy genademanifes in ’n agteraf dorpie uitgespel: die genade vir die armes, die stukkendes en die hongeres.

Buite Kapernaum roep Jesus die tollenaar Levi met die woorde: “Volg my!” En Hy gaan eet by hom, tot die ontsteltenis van die godsdienstiges wie se wette vir hulle belangriker as verhoudings is. “Hierdie Jesus is net te vreemd vir die godsdienstiges,” het Joubert gesê. Hy het verwys na die Duitse teoloog Ernst Käsemann se uitspraak dat die kerk die rooiwarm Jesus afgekoel het tot kamertemperatuur.

Nadat Jesus die dood dood verklaar het, stap Hy saam met sy guns­telingmense, die verlorenes. En toe gaan eet hulle saam. En as die Emmausgangers teruggaan Jerusalem toe, is dit met nuwe taal: Jesus het opgestaan.

Dít het die kerk deur die eeue gedoen, want genade is Jesus Christus, het Joubert gesê.

Hy het gesê ’n mens moet so naby aan Christus leef, dat genade op jou spat en dan moet jy dit gaan uitleef.