Dankie, Thapelo en Bongani

Dr Hannes Theron van Helderberg-gemeente, Somerset-Wes, skryf:

Op ’n vlug tussen Kaapstad en Gauteng beland ek tussen twee jongmans: Thapelo, ’n 20-jarige, links van my, en Bongani, ’n 30-jarige, aan my regterkant. Toe die vliegtuig net so wil begin beweeg, sê Thapelo baie benoud: “Ek het so ’n hol kol op my maag; ek voel naar; dit is die eerste keer dat ek vlieg; ek is bang.

Ek probeer hom kalmeer en vertel wat die doel van die papiersakkie voor hom is. Bongani, wat lid is van die Springbok-vrouerugbyspan se afrigtingspan en baie vlieg, help ook kalmeer.

Ek en Bongani het mekaar eers leer ken en Bongani sê vir Thapelo: “Jy is so gelukkig om langs ’n dominee te sit; hy sal jou help om kalm te bly.” So begin ons drie kuier, onder andere om vir Thapelo kalm te hou.

Thapelo vertel ons sy storie: hoe daar probleme was met sy geboorte en sy familie vir hom gebid het. Daarom is hy Thapelo gedoop; dit is die Sotho-woord vir “gebed”. Hy het grootgeword in ’n plakkerskamp in Johannesburg by sy ouma wat ’n sjebien en bordeel vir oorlewing bedryf het.

Vier jaar gelede ontmoet hy ’n meisie wat uit ’n Christelike huis kom, haar familie ontferm hulle oor hom en hy ontdek die vreugde daarvan om kind van die Here te wees. Ons gesels lekker saam oor God, sy genade en sy wil vir ons lewe.

Hierdie 20-jarige jongman begin met my gesels oor geloofsonderskeiding en roeping. Sy droom is om te skryf en te “rap”.  Hy wil so graag ’n verskil onder die jongmense maak deur sy skryfwerk en rap-musiek. Ons gesels lekker saam oor jazz, blues en klassieke musiek.

Ons wou nog gesels oor Bongani se storie toe land die vliegtuig. Bongani is ’n toonbeeld van liefde, vriendelikheid en hulpvaardigheid. Hy is ’n afgestudeerde student in sportwetenskap aan Kovsies. Toe die vliegtuig land, sluit die mense om ons aan by ons gesprek.

 Ek het vandag die gesig van Jesus op die vliegtuig beleef. Ek het met soveel hoop afgeklim en opnuut besef hoe belangrik dit is om juis in dié tyd met mekaar oor grense heen kontak te maak en net te luister. Thapelo en Bongani kon my seuns gewees het en ek het vandag so baie van hulle twee geleer en ontdek van wie God is. “Thapelo en Bongani – julle was nie gelukkig om langs ’n dominee te kon sit nie; die dominee was bevoorreg om vandag tussen julle twee jongmans te kon sit. Dit was so spesiaal”.

 Ek dank God om juis in dié deel van God se koninkryk hier in Suid-Afrika te kan wees.