’n Oomblik van waarheid

Die kerk is die plek waar verwarde gewetens (perplexis conscientiis) ontvang en vertroos word, en “my rol” – skryf Martin Luther – “is om arme, verwarde gewetens te vertroos”. Dit is juis hierdie oortuiging wat Luther telkens sou dring om homself ondubbelsinnig te posisioneer binne die de­batte van sy dag; binne oomblikke van waarheid.

“Gewete” was vir Martin Luther belangrik, en hy sou hom telkens op sy eie gewete beroep. Die mees bekende voorbeeld is waarskynlik sy toespraak voor Prins Frederick III by die Ryksdag van Worms (1521), waar hy gekonfronteer is met die klag van leerdwaling. Hierop antwoord Luther dat sy gewete hom bind aan die Woord van God. Hy weier om sy standpunte te herroep omdat dit ongeoorloof en verkeerd – teenoor God en sy gewete – sou wees om dit te doen.

Dit is ’n aangrypende oomblik, juis omdat Luther se “nee” aan die pous sowel as die keiser verreikende rimpelingsgevolge sou hê; gevolge wat ook binne die Gereformeerde tradisie sou uitkring. Gereformeerde kerke is immers soekende kerke wat binne die woelinge van die geskiedenis, binne oomblikke, die drie-enige God bely.

In ’n Oomblik van waarheid (1984) word so ’n oom­blik beskryf as ’n beslissende en gewigtige oom­blik; ’n oomblik waarin die evangelie self op die spel is. So ’n oomblik is anders as ander oomblikke, want dit vereis die vermoë om die erns van die oomblik te begryp. Dit is ’n uur van beslissing, sou Willie Jonker sê, waarin die kerk voor ’n keuse gestel word; ’n oomblik wat roep om belydenis, die verwoording van geloofs­waarheid.

Hierdie waarheid is egter nie ’n waarheid wat ons probeer uitvang nie. Dit is ’n waarheid wat ons bevry. In Bevrydende waarheid (1993) skryf Willie Jonker dat die evangelie ons troos en bevry omdat dit die evangelie van God se genade is.

Verder is daar ook géén kompetisie tussen geloofs­waarhede nie. ’n Oomblik van waarheid kan slegs deur hierdie één waarheid gedra word. Daar is geen ander geloofswaarheid wat ons gewete kan vertroos as heils­waarheid nie.

Tog is dit weliswaar in die naam van “die waarheid” wat kerke en gelowiges sou dwaal; dat leerdwalings en afdwalings teologies regverdig sou word; dat hierdie waarheid verbuig sou (kon) word om die trooswoord van God se genade te vertroebel.

Daarom bely ons dat ons slégs onder leiding van Woord en Gees – en saam met al die heiliges – die rykdom van die waarheid van ons verlossing kan begryp, want ’n oomblik van waarheid is niks minder nie as die Heilige Gees se aanraking van die kerk in ’n uur van beslissing.

As mense van die Mensgeworde Woord word die kerk geroep om te getuig aangaande God se bevrydende waarheid. Dit gaan om ’n belydenis van dié Woord, van Christus Self, wat ons versamel, versorg, en vertroos. Ons is immers die ontvangers van hierdie heilswaarheid. 

Maar dit gaan ook om óns woord; om ons te hou by ons woord, om ons woorde te tel, om daad by woord te voeg – want oomblikke van waarheid ontmasker óók ons diepste vooroordele en inkonse­kwenthede.

Dit beteken dat ons nie “ja” kan sê vir selfdege­slag­verhoudings by een sinodesitting, net om daarna weer ons eie “ja” deur ’n regstegniese interpretasie om te keer na ’n “nee” nie.

Dit beteken dat ons nie “ja” kan sê vir die Belydenis van Belhar by een sinodesitting, en daarna weer ons eie “ja” deur ’n demokratiese stemproses omkeer na ’n “nee” nie.

Dit beteken dat ons “ja” vir vroue in die bediening niks beteken as ons nie vrouepredikante beroep en afvaardig na kerklike vergaderings nie.

Vroeër vanjaar sou Najla Kassab, die nuutverkose president van die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke, haar preek in die Kasteelkerk in Wittenberg begin deur te sê: “Hier staan ek …” Dit was ’n gewigtige oomblik om juis hiérdie vrou – ’n vrouepredikant van die Gereformeerde kerk in Libanon en Sirië – in juis hiérdie tyd – te midde van die oorlog in Sirië en die vlugtelingkrisis in Europa – op hiérdie preek­stoel hiérdie woorde te hoor sê: “Here I stand, a Middle Eastern woman in the pulpit of Luther; if just Luther imagined that, this could have been his 96th question to the church – not why is there a woman in this pulpit, but why did it take this long?”

’n Oomblik van waarheid toets ons aan ons eie diep­ste oortuigings; verál waar dit gaan om “verwarde gewetes”. Die kerk is immers ’n waarheidsoekende gemeenskap; ’n gemeenskap wat lééf binne oomblikke van waarheid; ’n gemeenskap wat bevrydende waarheid bely.

Laat ons “ja”, “ja” wees, en ons “nee”, “nee” (Matt 5:37).

Dr Nadia Marais doseer Sistematiese Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.