CLF se eerste 60 jaar

IN ELKEEN SE EIE TAAL: DIE KLEURRYKE VERHAAL VAN DIE CHRISTELIKE LEKTUUR­FONDS
Uitgegee deur Christelike Lektuurfonds, 2017
Resensie deur Frits Gaum


Christelike Lektuurfonds (CLF) is vanjaar 60 jaar oud. In ’n jaar van baie feesvierings – die Kerk­hervorming het 500 jaar gelede plaasgevind, die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van Pretoria is ’n eeu oud, die gesinstydskrif LiG, die eer­tydse Voorligter, is 80 – mag CLF se 60 jaar nie uit die oog verloor word nie. Hulle het rede om fees te vier!

CLF is 60 jaar gelede gestig om te voldoen aan die behoefte vir literatuur in verskillende tale om gebruik te word in die kerke wat uit die sending van die NG Kerk gebore is. Van der Watt vertel ’n verhaal met uit­son­derlike hoogtepunte, ’n verhaal van idealisme en daadkrag, van die toewyding van mense wat hulle ganse lewe in diens van ’n droom gegee het.

“Die verhaal gaan egter ook oor teleurstellings en, tot beskaming, onderlinge twis en spanning,” skryf hy, en voeg dan by: “Tog gaan dit uiteindelik, soos met enige kerk- of sendinggeskiedenis, oor hoe God met sy kerk, met sy kerk se mense en bedieninge op weg gaan en dan, ondanks die kerk en ten spyte van mense, groot dade verrig”.

In die geskiedenis van CLF is daar etlike mense wat ’n deurslaggewende rol gespeel het om ’n sterk fonds vir Christelike publikasies op te bou: die broers Bernard en Andries Odendaal, Japie Jacobs, Abraham Dekker, Sam Pellissier, Dawid Snyman, Johan Botha, Giep Louw, Japie du Plessis, Piet Meiring, Willem Botha, Gerrit Lotz, en ander.

In die onlangse jare het vroue as uitvoerende amptenare ’n groot bydrae gelewer – eers Christelle Vorster en toe Charmaine Stoffberg. CLF spits hom (of haar?) deesdae veral toe op die publikasie van pamflette, plakkate en boeke.

Terwyl CLF deur die jare bekend geword het vir hulle “traktaatjies”, word met “pam­­flette” doelbewus iets an­ders as die traktaatjies van ouds bedoel. Die pam­flet­te wat gepubliseer word, is visueel, aktueel, informatief en oorredend met as doel om vaardighede en ingesteldhede ten goede te verander.

Onder CLF se boeke, tel amptelike kerklike mate­riaal in verskeie Afrikatale, boeke vir geloofsvor­ming, en veral ook boeke gerig op kinders. In hierdie verband is CLF se reuse-projek, “Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders,” van groot belang. Die be­ken­de Kinderbybel, God se kinders: Verhale uit die Bybel, soos vertel deur Desmond Tutu, maak deel van die pro­jek uit, soos ook die reeks Ja! Kleuter.

Van der Watt het ’n besonder eerlike boek geskryf. Vanselfsprekend skryf hy uit ’n bepaalde perspektief; daar is ook ander perspektiewe wat van syne sal verskil. Hy vertel van die prestasies van CLF, maar ook van struwelinge en onmin in die vroeë 2000’s toe ernstig probeer is om al die NG Kerk-verwante media-bedrywighede onder een dak tuis te bring. CLF moes in die proses sy Bloemfonteinse wortels uittrek en Wel­lington toe skuif.

Die on­der een dak-ideaal het egter nie uitge­werk nie, en daar is op die ou end eerder gekies vir goeie samewerking tussen CLF, as afsonderlike organisasie met eie beklemto­nings, en Bybel-Media, wat ’n mediahuis met baie kamers geword het. Die huidige leiers van die NG Kerk se media openbaar groot begrip en waardering vir mekaar se strewes en bydraes, en die samewerking is waarskynlik beter as ooit. Daarvoor kan ’n mens baie dankbaar wees. Hartlik geluk aan CLF vir ses dekades se toewyding en harde werk om die evangelie van Jesus Christus in baie tale uit te dra!