Op die Tussenorde kan Wesland behoorlik begin dans

Die Wesland Verenigende Ring (WVR) se verhaal is nie ’n feëverhaal nie. Dis nie die toonbeeld van ’n moeitelose herenigingsproses met ’n storieboekeinde nie. Wat dit eer­der is, is ’n opregte verhaal van omarming te midde van uitdagings en pyn; opwinding te midde van versigtigheid; van eenheid te midde van diversiteit; en van Goddelike genade te midde van menslike tekortkominge en foute.


In 2003 gebeur die wonderbaarlike: die NG Kerk se Ring van Vredenburg en die Verenigende Gerefor­meer­de Kerk se Ring van Malmesbury verbind hulleself tot kerkeenheid en tot mekaar en vorm die Wesland Verenigende Ring.

Só word hulle een van die eerste ringe in die land om as eenheid te funksioneer.

Hierdie eenheid het gou sy uitdrukking gevind in gesamentlike Pinksterdienste, kanselruilings en visitasies. Beroepe, finansies en konflikhantering is ook gesamentlik hanteer.

Twaalf jaar lank het die ring op hierdie manier saam­gewerk. Hierdie tydperk was vir sommige ’n tyd van euforie, maar in 2015 is die ring gekonfronteer met die komplekse realiteit van kerkhereniging.

Die verhouding tussen die NG Kerk en VGK het in gedrang gekom toe van die NG gemeentes in die WVR nie die voorstel vir die wysiging van Artikel 1, om die Belydenis van Belhar deel van die Kerkorde te maak, goedgekeur het nie.

Dié uitslag het die VGK se gemeentes in die ring só diep geskok en ontstel dat die samewerking tussen die VGK en NG Kerk tydelik tot stilstand gekom het. Ty­dens hierdie tyd is die eenheid van die ring heroorweeg.

In 2016 is daar egter verskeie kere vergader en is daar besluit om, te midde van die seer, wantroue, te­leur­stelling en onsekerheid, steeds as een ring saam te stap.

Sedertdien het die ring weer hulle gesamentlike funksies hervat waaronder ringsbeplanningkommis­sie­vergaderings, ’n gesamentlike ringsitting, kansel­rui­lings en plaaslike kommissiebyeenkomste.

Verder is hulle ook besig om aandag te gee aan ander praktiese punte soos ringsgrense en visitasie.

Op die pad vorentoe, sê ds Chris Stout van VG gemeente Hopefield, sal hulle egter nie tevrede kan wees met ’n blote informele eenheid nie. Dit moet lei tot volledige, formele eenheid. Ds Richard Holloway van die NG gemeente St Helenabaai, mede-voorsitter van die WVR, sê dit beteken dat daar eenheid op grond­vlak bereik moet word.

Ds Kobus van Schalkwyk van die VG gemeente Xhosa Vredenburg is ook besorg dat die eenheid wat die ring tans geniet, nog hoofsaaklik tot die leierskap beperk is en dat daar nog gewerk moet word om eenheid onder lidmate te bevorder.

Tog sê ds Lysander Prins van die VG gemeente Moorreesburg, mede-voorsitter van die WVR, dat die Tussenorde nou baie hegter eenheid moontlik maak.

Die Tussenorde, wat in 2015 deur die Algemene Sinode van die NG Kerk en in 2016 deur die Algemene Sinode van die VGK aanvaar is, bevat die kerk­regtelike reëlings vir die samewerking tussen die ker­ke binne die NG kerkfamilie wat in die proses staan van kerkhereniging.

Ds Thys du Toit van NG Vredenburg, wat ook op die Sinodale Taakspan Regte vir die Wes-Kaapse Si­node dien, is dit eens met ds Prins en beskou die Tus­se­norde as ’n verhoring van gebede.

Hy gebruik die metafoor van kerkhereniging as ’n dans tussen die VGK en NGK om die waarde van die Tussenorde te illustreer.

“Die impak wat die kerkordes op die ring gehad het, kan beskryf word as ’n ongelyke dansbaan vol klippe, stompe en gate. Die dansbaan het gereeld ver­oorsaak dat die ritme gesteur is, selfs van tyd tot tyd gemaak dat die dans gestop is. Die Tussenorde help hier ontsaglik baie deurdat dit ’n gelyke oppervlak voor­sien waarop behoorlik gedans kan word.”

Maar hoe kan die NGK en VGK saam dans in ’n ring waarvan nie al die gemeentes ten gunste van die Be­lydenis van Belhar se insluiting in die belydenisskrifte is nie?

Die oorspronklike vereniging van die ring in 2003 was immers moontlik omrede al die betrokke gemeen­tes op daardie stadium die belydenis onderskryf het.

Juis daarom was dit só ’n skok toe van die NG gemeentes nie die moontlike insluiting van die Belyde­nis van Belhar goedgekeur het nie.

Holloway sê dat die belydenis se waardes van eenheid, versoening en geregtigheid steeds vir die ring belangrik is.

Tog meen hy dat dit nie die belydenis self is wat sentraal tot die ring se verbintenis aan mekaar staan nie, maar eerder sy waardes van eenheid, versoening en geregtigheid. Om hierdie rede is dit moontlik om ten spyte van die besluite van 2015 steeds saam te loop.

“Veral na die breuk na Artikel 1, het ons weer en weer probeer,” vertel Stout. En dit is juis dít wat hom opgewonde maak oor die ring: “Ondanks ons verskille en probleme wat ons van tyd tot tyd ervaar, hou ons mekaar nog vas.”

Om meer te ‘khulumani’

As deel van hul poging om mekaar steeds stywer vas te hou, het die WVR besluit om vir hulle ringsretraite Robbeneiland te besoek.

Afgevaardigdes van die Wesland Verenigende Ring ontdek saam die waarde van saam-wees op Robbeneiland.

Op 17 Augustus 2017 het 11 NGK en 7 VGK predikante van die WVR saamgery na Kaapstad, saam op die boot geklim na Robbeneiland, saam geluister na die verhale van ander, saam geloop op die eiland, saam grappies gemaak en saam geëet.

Dit was ’n dag van saam-wees.

Dit was in daardie saam-wees wat die WVR ’n hupstoot in hulle verhoudings met mekaar ervaar het. Vir ds Lysander Prins was die dag ’n keerpunt in die verhoudinge binne die ring omdat dit die brose verhou­dings help versterk het.

Volgens ds Erik Basson, van die NG gemeente Vredenburg, was hierdie versterking moontlik omdat daar dinge in die oomblikke van saam-wees kon uitkom wat nie noodwendig uit diep teologiese gesprekke kan kom nie.

Want verhoudings, soos ds Willie Greeff van NG gemeente Vredenburg Akkerdyk sê, is nie net iets wat in ons kop gebeur en dus bevorder kan word deur diep teologiese gesprekke nie. Soms is dit nodig om jouself oop te maak vir die persoonlike ervaringe van ander en vir saam-wees-geleenthede.

Ds Cassie Zincke van die VG gemeente Vredenburg stem hiermee saam. Hy meen dat minder moeite dikwels tot geleenthede kan lei wat meer betekenis kan hê. Geleenthede wat ringsverhoudinge versterk, gaan eerder daarom om ’n veilige ruimte te skep waar almal gemaklik kan word met mekaar en waar daar nie druk is om te “perform” nie.

Na afloop van dié dag se gebeure het dit vir die ring weer opnuut duidelik geword dat kerkhereniging nie net op ’n strukturele of funksionele vlak kan plaasvind nie, maar waaraan daar ook op ’n verhoudingsvlak gewerk moet word.

In ’n herderlike brief van die sitting van die WVR skryf die voorsitters van die ring: “Ons het onlangs juis ervaar dat strukture alleen nie eenheid waarborg nie. Eenheid en samewerking moet belyn word met die roeping van die kerk as gestuurde kerk tot uitbreiding van die koninkryk … Om dit te vermag moet die gemeentes van die Ring meer by mekaar uitkom.”

Dít is hoekom dit vir Van Schalkwyk so belangrik is dat daar nog baie oomblikke van khulumani (om met mekaar te gesels en mekaar se hart te hoor) sal wees.

In hierdie khulumani, moet dit moontlik wees om met mekaar eerlik te wees, om gemaklik te praat en om vir mekaar die spasie te gee om foute te maak, sê Zincke.

Ds André Botha van die VG gemeente Darling voel ook dat die verhoudings slegs kan groei as goeie maniere en ordentlike maniere soms opsy gesit word sodat daar eerlik gepraat kan word.

Die ring het ook gevind dat dit nodig is om ’n ruimte te skep waar daar van mekaar verskil kan word sonder vrees vir kleinserigheid of beskuldigings.

Hierdie gesprekke, is die ring dit eens, is nie maklik nie. Maar tog bly die ring tot hierdie gesprekke verbonde as gevolg van hul diepe oortuiging dat kerkher­eniging ten diepste deel van die kerk se roeping is.

“Ons ring se eenheid is ononderhandelbaar,” sê Du Toit. “Nie omdat ons VGK en NGK is nie, maar omdat ons kinders van God is en die Heilige Gees dit in ons hart skryf. Ons is in die proses om te word wat God ons bedoel het om te wees.”

En dit is wat dit is: ’n proses.

By die WVR se gesamentlike ringsitting in September 2017 is daar weer opnuut bevestig dat die ring nie daarop wil aanspraak maak dat sy ’n verenigde ring is nie, maar juis ’n verenigende ring.

In hierdie enkele woord erken die ring met dankbaarheid dat hulle al ’n ver pad gestap het na kerkher­eniging. Juis daarom voel Holloway dat hy tog ’n bie­tjie sou wou spog – nie soseer omdat die WVR vol­­maak is nie, maar omdat die ring, ten spyte van die uitdagings, al so ver kon kom.

Aan die ander kant, bely die woord verenigende dat die eindbestemming nog nie bereik is nie en dat die pad wat voorlê nog besaai is met beide geleenthede en uit­dagings, seëninge en seer.

Dit is om hierdie rede dat Prins met nederigheid verklaar: “Ons is maar net ’n korreltjie sand in die bou­steen van Hoop.”

Dit is in hierdie spanning tussen wat reeds bereik is en dit wat nog bereik moet word, tussen trots en ne­derigheid, tussen omarming en seer, tussen moede­loosheid en hoop, wat die Wesland Verenigende Ring se verhaal homself uitspeel.

Maar wanneer die predikante oor die ring gesels, is daar een konstante: ’n helder “genade alleen!”

Daarom voel ds Kobus de Kock van die NG gemeente Langebaan dat die eenwordingsproses nooit “’n showpiece van prestasie” mag word nie. Die verhaal is immers, soos ds Jakes Barnard, van die NG gemeente Saldanha, dit stel: “’n verhaal van genade en, telkens, die Here se ingrype”.

“Dis ’n gebroke verhaal, vol foute en seerkry,” sluit sy kollega, ds Kotzé Olivier, by hom aan, “maar die geskenk van vergifnis is groter as ons foute. Die liefde wat ons in God en in Christus beleef, inspireer ons telkens om meer te wees as wat ons tans is en hierdie omarmende liefde weer teenoor mekaar te gaan leef.”