Pretoria en Melodi ya Tshwane wil staan waar God staan

Die NG gemeente Pretoria en die VGKSA gemeente Melodi ya Tshwane wil een word. Tydens ’n erediens wat saamgeval het met Reformasiefees, is ’n verklaring van voorneme tot eenheid onderteken. NEELS JACKSON het die diens bygewoon en met verteenwoordigers van die twee gemeentes gesels.


Ds Hendrien van Vliet van die NG gemeente Pretoria lees die votum in Afrikaans. Dan volg die seëngroet in Engels en die eerste lied se strofes in Suid-Sotho, Zoeloe en Venda. Later word daar ook in Afrikaans en Engels gesing.

Dit is ’n gesamentlike diens in die historiese Bosmanstraatkerk van die gemeentes Pretoria en Melodi ya Tshwane. Deur die keuse van tale word daar gesê dat almal geakkommodeer word. Almal is welkom in die koninkryk van God.

Tydens die erediens word ’n nuwe kanselkleed voor aan die preekstoel gehang. Dit is helderrooi. In wit vertoon dit ’n kruis met ’n dubbele sirkel daarby. Onderaan staan die woorde: “Stand where God stands”.

Ds Hendrien van Vliet glimlag breed nadat ds Peter Maruping die nuwe liturgiese band om haar nek gehang het. Links kyk dr Braam le Roux toe en regs staan prof Klippies Kritzinger.

Die sirkel, word verduidelik, is ’n simbool van eenheid. Dit is, soos ’n ring, ’n teken van nader aan mekaar kom. Die kruis is die basis vir die eenheid: Jesus Christus se lewe, sy dood en sy opstanding. Die woor­de is ’n oproep tot eenheid, tot versoening, tot ge­reg­tig­heid. Dis ’n oproep om te staan waar God staan.

Tydens die diens hang die dominees van die twee gemeentes vir mekaar liturgiese bande om: dieselfde helderrooi as die kanselkleed; dieselfde kruis met die kring van eenheid daarop afgebeeld. Deur almal dieselfde liturgiese bande te dra, sê die predikante van die gemeente visueel: “Ons is een”.

Agter dié doelbewuste tree na eenheid, lê lang ge­skie­denisse.

Meloldi ya Tshwane is in 1992 gestig primêr as ’n ge­meente vir huishulpe. Dr Nico Smith was destyds in­strumenteel in die totstandkoming van die gemeen­te. Sedertdien het Melodi ya Tshwane heelwat ge­groei. Deesdae is baie van hulle lidmate gesinne uit die swart middelklas, sê dr Jacob Nthakhe, een van die leraars. Maar daar is ook studente. Hulle lidmate vertoon eintlik ’n goeie verspreiding van alle ouderdom­me.

Onder Melodi ya Tshwane se lidmate is daar ook ’n klompie Indiërs en witmense. Daar is Sotho’s, Zoeloes, Xhosas … sprekers van omtrent elkeen van Suid-Afrika se amptelike tale, sê Nthakhe.

Die Bosmanstraatkerk was as ’t ware die “katedraalkerk” van die NG Kerk in Pretoria. Dit was die gebou van die moedergemeente, die ouma en oumagrootjie van hoeveel ander NG gemeentes wat in en om Pretoria ontstaan het. Dit was die gemeente wat met staats­presidente geassosieer is, die kerk waaruit dr Andries Treurnicht nog in die vroeë negentigs begrawe is.

Dr Braam le Roux hou die mikrofoon vas terwyl ds Peter Maruping die teken van die brood instel.

Mettertyd het die NG Kerk se tradisionele lidmate egter weggetrek. Verskeie NG gemeentes in en om die middestad het gekrimp en gekwyn. ’n Hele ring – Pretoria, Burgerspark, Arcadia, Bronberg, Harmonie, Meintjeskop – het mettertyd weer verenig soos die dogtergemeentes weer aangesluit het by die moeder­gemeente waaruit hulle ontstaan het.

Onder Pretoria se lidmate is daar nou wit, Afrikaanse bejaardes in ouetehuise, maar ook jong swart studente en jappies. Daar is bedieninge onder straatmense en prostitute. Hulle het reeds diversiteit, sê ds Francois Smit. Dit strek oor rasse en tale, maar ook oor klasse.

In die proses van konsolidasie van die NG gemeen­tes in en om die middestad is Burgerspark en Mein­tjieskop se kerkgeboue verkoop, terwyl dié van Arcadia, Bronberg en Harmonie nou bedieningspunte van Pretoria is wat op verskillende maniere gebruik word.

In daardie stadium was Melodi ya Tshwane op soek na ’n tuiste, ’n kerkgebou waar hulle lidmate op ’n ge­reelde basis kon saamkom om te aanbid. In ’n stadium was daar gesprekke en onderhandelinge oor die moont­like koop van Meintjeskop se kerkgebou, maar dit het deur die mat geval.

Later het ’n ander opsie op die tafel gekom: dat Melodi ya Tshwane ’n 50%-aandeel in die Bosman­straat­­kerk koop. Dit het ’n werklikheid geword en se­dert­dien is die twee gemeentes mede-eienaars van dié baken in Pretoria se middestad.

Dié gedeelde besit van die Bosmanstraatkerk was een van die eerste dinge wat Pretoria en Melodi ya Tshwane aan mekaar gebind het. Nthakhe vertel dat toe hy in 2005 na Melodi Tshwane beroep is, was die gebruik dat verteenwoordigers van die gemeentes twee maal per jaar saam vergader het oor veral die be­stuur van die kerkgebou. Mettertyd het die same­wer­king oor meer dinge as die kerkgebou begin gaan en het die vergaderings kwartaalliks geword. Die afge­lo­pe twee jaar kom hulle maandeliks byeen.

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, te­ken as getuie nadat ds Francois Smit en dr Jacob Nthakhe namens die twee gemeentes die verklaring van voorneme onderteken het. Heel regs is prof Leepo Modise, moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk se Algemene Sinode, wat ook as getuie geteken het.

Met die goedkeuring van die Tussenorde deur die twee kerke se algemene sinodes en die pastorale brief van die moderators het hulle ernstig oor eenheid begin praat.

Daar is moeite gedoen om vertroue en die bou van verhoudings te verstewig. Verlede jaar was die twee gemeentes se dominees saam op ’n retraite. Hulle is lankal nie meer net kollegas nie. Hulle is vriende, sê Nthake. Smit beaam dit.

Die gesprekke oor eenheid is nie net deur die domi­nees gevoer nie. Nthakhe sê dit is deur die kerkrade bespreek en met die gemeentes deurgepraat. Almal het die groen lig gegee om voort te gaan.

Smit sê die teologiese kwessies is uitgesorteer. Daaroor is daar nie langer verskille nie. Selfs toe daar in die NG Kerk gestem is oor die insluiting van die Belydenis van Belhar in die kerk se belydenisgrondslag, was dit by hulle nie ’n kwessie nie. Hulle het ’n meerderheid van oor die 80% ten gunste daarvan gekry, en dit sluit die bejaarde Afrikaanse lidmate in.

’n Mens hoor die gedeelde teologie in die erediens. Dis ’n teologie van staan waar God staan: vir geregtigheid, vir versoening, by die gemarginaliseerdes en swak­kes, teen onreg.

Dis nie altyd maklik nie, preek Smit, maar Jesus het dit duidelik gemaak: Hy het teen die aanname gestaan dat ons hier is om vir onsself en ons klein kring te leef. Jesus roep ons om selfloos te wees.

Jesus staan teen stelsels soos apartheid en staats­kaping wat party bevoordeel. Jesus maak dit duidelik dat die koninkryk van God geen voorkeurplekke vir sommige het nie. Jesus roep ons om te staan by dié wat nie staanplek het nie.

Jesus staan teen godsdienstigheid wat sommige bevoordeel en ander benadeel, soos die godsdienstiges van sy tyd gedoen het. ’n Keuse vir mag en vir posisie is ’n keuse vir die vyand.

Dr Jacob Nthakhe hang die nuwe liturgiese band om ds Francois Smit se nek.

Voordat dr Braam le Roux van Pretoria en ds Peter Maruping van Melodi ya Tshwane die nagmaal be­dien, vertel Le Roux van die NG Kerk se geskiedenis: Die Kaapse Sinode van 1857 wat by wyse van uitsondering, as ’n toegewing aan die swakheid van sommige, besluit dat die nagmaal afsonderlik bedien kan word aan verskillende rasse; hoe dié uitsondering die reël geword het; hoe dit ’n dogma van skeiding geword het.

Nou, rondom die tafel van die Here, sien hulle uit na ’n nuwe toekoms, ’n toekoms van eenheid.

En dan word die nagmaalviering self ’n illustrasie daarvan. In vrolike, veelkleurige toue stap mense vorentoe vir die brood en wyn, dié maaltyd wat onder meer gemeenskapsmaal is.

Kindertjies en gryskoppe wat aan die banke vashou om regop te bly, diegene in netjiese kerkuniforms en dié wat informeel geklee kom aanbid, gelowiges van allerlei verskillende skakerings van velkleur wat God vir hulle gegee het, mense wie se tonge in ’n dosyn of meer tale tuis is – almal een in die geloof.

Maar die eenheid in geloof, so glo Pretoria en Melodi ya Tshwane se mense, moet ook neerslag kry in strukture, in liturgieë, in die lewe van die kerk.

Daarom word die nagmaaltafel ná die viering van die sakrament ’n tafel waar ’n formele verklaring van voorneme geteken word – met verteenwoordigers van die twee kerke se algemene sinodes as getuies.

In die verklaring word die historiese band tussen die twee gemeentes erken, maar ook die geskiedenis van geskeidenheid, van onreg wat daarmee saamgaan, en van die uiteenlopende teologie en liturgieë wat as gevolg daarvan ontwikkel het.

Die verklaring bevestig dat die proses van eenwor­ding reeds begin met die vereniging van die NG Kerk in Afrika en die NG Sendingkerk om die Verenigende Gereformeerde Kerk te vorm en dat die twee gemeentes se reis deel is van dié voortgaande verenigings­proses.

Dit bevestig ook die Tussenorde en die pastorale brief van die moderators van die algemene sinodes en verklaar dat die twee gemeentes se kerkrade beplan om een gemeente te vorm op die manier wat die Tussenorde bepaal.

Nthakhe sê eenheid is nie ’n keuse nie. God roep sy mense daartoe op. Dit is ’n kwessie van gehoorsaamheid aan die evangelie. In ’n verdeelde land is dié boodskap van versoening, eenheid en geregtigheid, die boodskap van liefde boonop nodiger as ooit.

Die uitdaging is nou om dit so te doen dat die een gemeente nie die ander insluk nie. Swart hoef nie wit te word en wit hoef nie swart te word om een te wees nie. Daar moet ruimte gemaak word vir almal. Die diversiteit is ’n seën.

Smit sê die een gemeente wat hulle voorsien, moenie NG wees nie en dit moenie VGK wees nie. Dit moet iets anders, iets nuuts wees.

Daar is moeilike, praktiese kwessies wat gehanteer moet word op die pad na eenheid. Hoe gaan hulle byvoorbeeld predikante se salarisse hanteer? Daar is groot verskille tussen wat die dominees betaal word. Hoe gaan hulle die eiendomme hanteer?

Hulle moet nou ’n lys van die hekkies gaan maak en dit een vir een hanteer.

Maar voeg hy by, daar is by hulle geen benoudheid daaroor nie. Daar is opgewondenheid.

In ’n formele verklaring sê die twee gemeentes onder meer:

  • hulle glo die kerk moet een wees – daarom werk hulle vir die sigbare en aktiewe eenheid van die kerk;
  • dat hulle saam sal werk vir geregtigheid in hulle stad;
  • dat hulle teen 31 Oktober 2020 een sentrale kerk­raad wil vestig;
  • dat daar intussen twee waarnemers van elke kerk­raad by mekaar se kerkraadsvergaderings sal wees;
  • dat daar gereelde kanselruilings sal wees totdat hulle een kerkraad het;
  • dat hulle ’n breër eenheid wil dien en daarom in die volgende jaar ’n informele ringsitting wil reël vir gemeentes van die twee kerke wat ook na dieper eenheid soek;
  • dat die gemeentes se eiendomme optimaal benut moet word vir die bediening en dat nie een van die twee kerkrade enige eiendom sonder instemming van die ander sal verkoop nie.