‘Ons dans ’n boodskap van hoop – en dít genees’

As laerskooldogtertjie in Pretoria was balletprentjies vir haar die mooiste. En ’n volkspele-tiekiedraai het haar laat voel sy wil net aanhou draai en draai. Caroline Kotzé van NG gemeente Nelspruit het vir ANNALISE WIID vertel hoe dans mettertyd vir haar ’n uitdrukkingsvorm van die evangelie geword het.


Caroline Kotzé se eerste koordansklas was eers as getroude vrou met drie seuns. Sy het so gesukkel dat sy gedink het sy gaan dit nooit regkry nie. “Maar,” vertel Caroline, “met ons eerste dans in The Reeds (die NG gemeente in Pretoria waar sy toe lidmaat was) het daar iets in my hart begin gebeur toe ons op There is none like You gedans het. Ons het daarna I was made to love You, I was made to worship at your feet gedans. En met hierdie lied het my hart vlam gevat.

“Dans bring my nader as naby aan die Here. Dit bring my by alles gee. My hele liggaam word met energie gevul. En diepte, wat wegraak-oomblikke word, bring daardie vreugde wat my hart te klein laat voel vir die oorvloed. Dan kom die vryheid, die oorgawe, om God net te eer, te loof, te aanbid en te dans van sy grootheid, goedheid, genade en liefde. Asof ek vlerke kry, om dieper, groter te glo. En dit te wil deel.”

Mettertyd het Caroline gesien hoe lofdanse ’n werklike bediening word; nie meer as net “danse” gesien word nie. Sedert hulle verhuising in 2008, skakel sy in by Nelspruit Moedergemeente se lofdansbediening. Daar vul dans maandeliks die Sondagboodskap aan.

Tydens geloofsbedieningsvergaderings ontvang sy ’n lys van preekbeurte en temas. Daarvolgens soek sy dan geskikte aanvullende dansliedere en lê dit as be­die­ningsmoontlikhede voor aan die predikante.

“Mense word werklik daardeur verryk. Die mooiste woorde is wanneer ’n hartseer vrou sê: ‘Julle dans het vanoggend baie vir my beteken, ek het dit so nodig gehad,’ of as iemand anders sê: ‘Julle bewegings saam met die woorde het my hart vanoggend so geroer.’ ’n Ouer leierfiguur in ons gemeente het onlangs opgemerk dat die danse genesend is.  

“Om deel te neem moet ’n mens net kan beweeg, al is dit stadig!” sê Caroline. “Ons dans met ons hart. Geen dansonderrig is daarvoor nodig nie.”

Nelspruit se dansgroep saam met die kinders van die Brakfontein Education Centre, op ’n plaas buite Citrusdal. Tydens hulle onlangse toer na die Wes-Kaap, het die dansgroep pakkies met lekkergoed en ’n speeldingetjie daar uitgedeel. Agter die kinders staan Lorraine Duvenhage, Maritha du Plessis, Lieze Loots en Caroline Kotzé tussen die personeel van die kleuterskool.

Tog choreografeer sy met keurigheid. “Party van die vroue kan weens swak knieë nie meer kniel nie, dan staan hulle terwyl ander kniel. Party kan nie draai nie omdat hulle duiselig word, dan doen hulle net die armbewegings terwyl die ander draai. En dié wat onfiks is, leer gou om korter paaie te vat. Ons het selfs ’n vrou met veelvuldige sklerose wat saamdans.”

Ouderdomme wissel van hoë 20’s tot 72. Caroline lei ook ’n junior Lofdansgroepie, van voorskool tot graad 7. “En dis soveel vreugde om te beleef hoe die dogtertjies dit met oorgawe doen!”

Die danse kring veel wyer as hulle gemeente uit. Na Witrivier en Sabie. Sowel as Nelspruit se Hervormde gemeente. Waar die danse aanvanklik ná die diens geplaas was, sodat mense kon loop as hulle nie daarin belang stel om te kyk nie, is dit nou volledig deel van die erediens. Hulle dans ook nie net in kerke nie, maar by vrouegeleent­hede in ’n tuin, by ’n skoolopening, by ’n karnaval op ’n rugbyveld en vele meer.

Selfs so ver van die huis as Citrusdal: “Tom en Hanneke Ferreira het jare lank ’n plaas bestuur hier in Nelspruit. Hulle is baie lief vir die Here en het ’n passie om mense te verryk en op te lig tot beter. Ons het soms hier by hulle kerk gaan dans. Later het hulle Citrusdal toe verhuis, maar kontak met ons dansgroep behou.

“Toe hulle in 2014 hoor dat ons Lofdansbediening gaan doen tydens blommeseisoen in die Kaap, het Tom gevra of ons nie asseblief hulle werkers wil kom bedien nie. Dit het ’n instelling geword en gegroei. Vanjaar kon ons, buiten lofdansbediening, ook pakkies gaan uitdeel een oggend by ’n kleuterskool op die plaas. Dit was groot lekkerte om die kindertjies en personeel se vreugde te beleef toe ons vra hulle moet saam met ons dans. Die middag het ons ’n ouetehuis in Citrusdal met dans bedien, asook die siek mense besoek, bietjie gesels en boekmerkies uitgedeel.

“Die aand terug op die plaas, het al die plaaswer­kers en kindertjies in die skuur bymekaar gekom, waar ons ’n boodskap gebring het saam met elke lofdans wat ons gedoen het. Dit was lekker om ook daar verrassingspakkies aan almal te kon uitdeel. Voor ons die aand uitmekaar gegaan het, het álmal ’n kring om ons gemaak en vir ons gebid vir die pad vorentoe. Kinderhandjies het warm op ons gerus.

“Een vrou se seëngebed het die Here gedank omdat ons dink hulle is waardig genoeg dat ons hierdie tyd aan hulle afstaan, ‘om die Woord op hierdie manier te bring’. Ons dans ’n boodskap van hoop – en dít genees.”