Só gebruik God mense om ’n ramp om te keer

Dit was ’n ramp wat soveel liefde losgemaak het dat dit baie gelowiges uiteindelik met ’n oorweldigende gevoel van dankbaarheid gelaat het.

Op die plaas Rietpoort naby Britstown het Gerrit Raath op die oggend van 10 Oktober meer as 400 ver­kluimde ooie in die veld gekry.

Dit was ’n totale frats, vertel hy. Hy het die skape geskeer, want dit was immers al somer. Maar toe kom daar ’n bui reën wat omtrent net op sy plaas val. En die temperatuur val van 6 grade tot by -6. Die wind waai. Boonop was die skape maer weens die droogte.

Hy was verslae. Saam met sy vrou, Didi, het hulle in die veld gestaan en huil. Met ’n vrou en drie kinders, sy ouers vir wie hy sorg, het hy nie geweet hoe vorentoe nie. Hy het ’n wonderwerk nodig gehad.

Didi het haar desperaatheid op facebook uitgestort. Sy skryf onder meer: “… and yes … this very moment I do question faith”. Maar dan vra sy in haar vertwyfeling dat mense vir hulle moet bid, “because the Lord takes from us but He always gives more than he takes”.

’n Goeie vriend, Pieter-Louis Smith, het boodskap­pe begin uitstuur waarin hy om hulp vir Gerrit-hulle vra. En van oral oor het mense laat weet dat die Here hulle dit op die hart druk om te help. In die spieël van Gerrit-hulle se verlies, het boere van heinde en verre op ’n manier gesien hoeveel hulleself het om voor dank­baar te wees.

Die liggaam van Christus, God se mense, sy hande en voete, het in beweging gekom. Party het geld in Gerrit se koöperasierekening inbetaal. Ander het skape gebring. Nog ander het voer kom aflaai. Uit hulle eie omgewing, maar ook van plekke soos De Aar en Graaff-Reinet het die hulp ingestroom. Van hoeveel plekke af het mense vir wie Gerrit en Didi en Pieter-Louis glad nie ken nie, kom gee – omdat hulle gevoel het die Here sê hulle moet.

Die eerste middag, vertel Gerrit, het iemand vir hom 10 ooie en 10 lammers gebring. Die volgende mid­dag was daar nog 10 ooie en 10 lammers. Toe kom die vragmotors vol skape. Mense kom laai voer af.

Uiteindelik het hy meer as 500 skape gekry. Dis nie die teelooie wat hy gehad het nie. Hy sal moet werk om sy teelkudde weer op die punt te kry waar dit was, maar hulle kan nou weer voortgaan.

Gerrit sê dit was nie so maklik om net te ontvang nie. Hy het hard grond toe gekom. Maar hy het geleer alles behoort aan die Here. Hy is baie dankbaar.

Didi sê wat gebeur het, was buite hulle hande. Hulle gebede is verhoor – en dit deur mense vir wie hulle nie eens ken nie.

Pieter-Louis sê hy het gesien hoe die genade van die Liewe Vader na vore kom. Hy kyk nou met nuwe oë na die manier waarop die Liewe Vader werk deur mense van wie jy nog nooit gehoor het nie.

En intussen, vertel hy, het Gerrit weer help betaal aan vervoerkoste om vir ’n ander boer in nood voer aan te ry.

Ds Hanri Joubert, predikant van die NG gemeente Britstown waar Gerrit, Didi en Pieter-Louis lidmate is, sê hy is getref deur die hoop wat die Here deur sy kerk gee. Hy wonder waar wil die Here nog oral sy mense gebruik om deur hierdie soort liefde hoop te bring.