Gelowig en groen

Taal is ’n kragtige stuk gereedskap wat, afhangende van hoe ons dit gebruik, volgens Jesus en Jakobus genees of verwond; bou of breek. Aan die hand van die verhaal van die Barmhartige Samaritaan onderskei ons drie “dialekte”, elk met ’n eie woordeskat en ’n bepaalde stel gevolge vir ons verhouding met ons medemens en die skepping.

Daar is die geweldstaal van die rowers wat verwoes, verwond en vernietig. Die een aan die ontvangkant daarvan lê bloeiend, vuil en kaal langs die pad.

Die traak-my-nie-taal van die kerklike funksionarisse wat verkies om anderpad te kyk, vererger bloot die lot van die arme slagoffer.

Genadiglik is daar die versorgingstaal van die Samaritaan wat hoop en heling, ja die lewe self vir die mishandelde verseker het.

Indien dié verhaal gelowiges kan aanspoor om oor die algemeen, maar spesifiek met die omgewing versorgings­taal te praat, is daar tog hoop op ’n toekoms vir die aarde.