Hier is gebaretaal se Storie-Baas

Ons maak nie onderskeid tussen volwassenes en kinders nie. Die fokus is op die vreugde van stories vertel en dít kan oud en jonk ewe prettig doen! Dít is die Nal’ibali Trust se ingesteldheid met hulle Story Bosso-kompetisie. Annalise Wiid het Henrico Frans, 2017 se storie-baas in gebaretaal, op Worcester gaan ontmoet.


Henrico Frans (19) is, soos elke bobaasstorie­verteller, ook ’n meesleurende akteur. Moenie dink hy praat gebaretaal slegs met sy hande nie. Sy ganse lyf praat: sy skouers, sy heupe, arms, bene, voete, oë, gesigsuitdrukking – die hele hy word in­gespan om sy wen-storie te vertel.

Dit is ’n eenvoudige verhaal van ’n man wat op ’n snikhete dag deur die son “aangerand” word en be­sluit om in die see te gaan afkoel. Henrico vertel só lekker, jy sién hoe die boepensmannetjie sweet; jy sién sy kokende huisie op sy kaalgeskroeide werf; jy sién hoe hy uitgemergel aansukkel water toe; en jy sién hoe hy uiteindelik, salig, in die koel see dobber. Henrico laat jou eintlik voel asof die koel saligheid oor jousélf spoel.

Nal’ibali, ’n Xhosa-woord, beteken: “Hier is die storie.” September is Story Bosso-maand by Nal’ibali. Dan soek hulle, elke jaar, na uitmuntende vertellers regdeur die land. In al 11 amptelike landstale. Die beste storieverteller in elke provinsie word aangewys, en ’n nasionale Story Bosso-wenner word ook ge­kroon. Nal’ibali het vanjaar 6 500 inskrywings ontvang.

Die NG Kerk se Diensgroep Diaconia is, as deel van hulle vroeëkinderontwikkelingsdoelwit, in vennootskap met Nal’ibali. Saam moedig hulle die vestiging van leesgroepe in gemeenskappe aan. Vanjaar het Dia­conia, vanuit hierdie verbintenis, die vrymoedigheid geneem om Nal’ibali uit te daag: “Wat van gebaretaal?”

“Persone met gestremdhede word so maklik oor­ge­sien en uitgelaat,” verduidelik ds Nioma Venter, PSD Diaconia. “Meestal gebeur dit maar net as gevolg van on­kunde of ’n gebrek aan blootstelling.” Nal’ibali was on­middellik bereid om, met die bemiddeling en hulp van Diaconia, ’n storievertelgeleentheid te skep vir men­se wat gebaretaal gebruik.

Vir 2017 se inskrywings in gebaretaal het Diaconia drie pryse geborg: R1 000 vir die wenner, ’n tweede prys van R500 en ’n derde prys van R300.

In 2018 sal Nal’ibali die kategorie wyd bemark. Hulle hoop om dan inskrywings van oor die hele land te ontvang. Vanjaar kon hulle egter net ’n geleentheid vir uitdunne in Worcester reël. Die Nuwe Hoop Sentrum, De la Bat Skool, die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) Kollege, NID-personeel met gehoorge­stremdheid en enige ander volwassene wat deur die boodskap bereik is, is genooi om aan ’n uitdunrondte deel te neem.

Story Bosso werk so: Enigeen kan inskryf deur ’n stemopname na Nal’ibali te stuur. Maar gebaretaal werk natuurlik anders. ’n Mens moet juis die storie­verteller kan sien! Daarom is video-opnames van die gehoorgestremdes gemaak. Elke storieverteller moes ook ’n ‘voice over’-tolk hê. Iemand wat ’n stem gee aan die gebareverteller se taal.

Die Dowe Familie Kerk (vroeër bekend as die NG gemeente De la Bat, Worcester) het, saam met Diaconia, ’n groot rol gespeel. Lisle Lourens, hulle jeugwer­ker en ook teologiestudent, het die voorlopige uitdunne gereël. Vyf finaliste is uit 15 inskrywings gekeur. Die beoordelaars was Nioma en Nicola Vermeulen van Diaconia (Nicola, ’n voormalige hoofmeisie van De la Bat Skool, is gebore met doofheid), Emsie Joubert (oud-dosent in tale) en Nickus Venter (’n graad 12-dramastudent). Daarna het die Steundienste van NID video-opnames gemaak, wat ingestuur is na Nal’ibali.

Op 2 November het Diaconia en Nal’ibali die drie beste inskrywings en hulle eie gebaretaal Story Bosso tydens ’n prysuitdeling by De la Bat Skool in Worcester gekroon. “Stories is belangrik,” het Nioma by die geleentheid gesê, “dit gee vir ons nuwe woorde; nuwe prentjies. Dit maak ons wêreld groot. Dit laat ons reis, al het ons nie eens ’n kar nie. Dit sit ons voete op die maan.”

Henrico het sy storie van die verskroeide mannetjie en die see self uitgedink. “Ek hou van stories,” sê hy, “en ek wou wys Dowes kán stories vertel.” Hy het in graad 5 al sy eerste storievertel-kompetisie gewen. Nou is hy in graad 10. En Henrico droom daarvan om akteur te word. Maar dit gaan baie harde werk kos. En sy uitdagings, weens sy gehoorgestremdheid en huislike omstandighede is buitengewoon groot. Dalk kan hy eendag by die Dowe TV gaan werk. Of slaan hy nog ’n rol los in 7de Laan!

Hy vertel, met ’n ondeunde onthou-vonkel in die oog: “Tannie Bettie het al in die kleuterskool vir my ge­leer ek kan act. Ek was ’n varkie.” Hy druk sy neus se punt met sy handpalm plat, boontoe. Lag lekker. “Dis daar waar ek my passie vir stories en acting ontdek het.” Nee, hy hou nie so erg baie van lees nie. Maar fliek!

Sy wen-geld? R500 sal hy vir koshuisgeld gebruik. Die res … daarmee gaan dié Story Bosso homself be­derf!

– Besoek http://nalibali.org/ vir meer inligting.