Op watter vraag is die evangelie die antwoord?

Die Refo500 vieringe is verby. Het die her­denking sin gemaak en iets blywends by ons te weeg gebring?

Het Luther se vraag: “Waar vind ek ’n genadige God?” nie heeltemal irrelevant geword nie?

Meer nog: het die vraag na relevansie nie irrelevant geword nie? In die kerk hou ons ons eindeloos lank besig met die bemarkingsvraag: op watter vraag is die evangelie van Jesus Christus nou eintlik die antwoord? Dié vraag het dwarsdeur die geskie­denis die kerk besig gehou en meestal is teenoorge­stelde antwoorde gegee.

Ons het verskillende antwoorde probeer. Vanjaar het die Luther-vraag weer aandag gevra. In die vorige eeu is agtereenvolgens gevra: wat is die sin van ons bestaan? Daarna, die vraag na hoop in die lewe. Toe: is dit wat ons belewe al wat daar is? En in ons dae: is daar enigsins nog iets te belewe?

Hier te lande het ons in die vorige eeu dikwels gevra hoe kan ons ons identiteit behou/beskerm? Later: hoe gaan ons met mekaar om in ’n diverse samelewing? Hoe gemaak met kerkeenheid?

Calvinisme het die skuld gekry vir alles wat in die land verkeerd geloop het. En sekularisasie het hand oor hand toegeneem. Nou is die vraag hoe kry ons mense terug in die kerk?

Vir ’n groot groep is die kerk klaarblyklik heeltemal nie meer belangrik nie. Ek kry ook die indruk dat dit vir talle gewoon om godsdienstigheid, een of ander religieuse gevoel gaan. Ek hoor sogenaamde gospelliedere waarin daar nie ’n enkele verwysing na die Here gemaak word nie – dit gaan alleen maar oor “die liefde”, medemenslikheid, erbarming, en so meer.

Die antwoord was die Jeug-tot-Jeug-aksie, daarna was die gonswoord: gemeentebou. En nou: ’n missionale kerk. Dit alles hou ons baie besig. Ons moet nuwe plakkate, pamflette, preekhulpmiddels en PowerPoint-aanbiedings hê – om nie eens te praat oor die tallose vergaderings, beplanningsessies, berade en wat nie al nie. ’n Soort “kerklike rat-race”.

Op die ou end het dit alles nie die proses van sekularisasie omgekeer nie – dus (in dié sin ten minste) nie baie opgelewer nie, behalwe dat ons kerklik vermoeid en uitgeput geraak het. En beangs oor wat volgende versin gaan word, waaraan ons almal moet meedoen of verketter word.

Op watter vraag is die evangelie van Jesus Christus nou eintlik die antwoord?

Douglas Adams sê in sy wetenskapsfiksieboek The hitchhiker’s guide to the galaxy: “The ultimate answer to life, the universe and everything is … 42!” – maar op watter vraag dit die antwoord is, het ons nie die vaagste benul nie.

Dit is miskien die beste om te erken dat die evangelie van Jesus Christus nie op slegs één vraag ’n antwoord gee nie. Maar wat onbetwisbaar is, is dat die evangelie van Jesus Christus vir Christene altyd relevant is. Die hartklop van die geloof in Christus is nie dat dit al ons vrae beantwoord nie, maar dat die Here ons vashou – ook al vra ons en het ons nie antwoorde nie.

En net miskien is “die evangelie van Jesus Christus” die antwoord op die wêreld se vraag waarom ons elke week byeenkom om Iemand te dank vir ons lewe, om überhaupt nog te aanbid en om ’n anderse, nie-wêreldse lewe te lei.

Dr Gert Duursema is ’n lid van die Algemene Sino­dale Moderamen as verteenwoordiger van die NG Kerk in Noord-Kaapland.