Dalpark en Garsfontein steek grense oor

’n Helderkleurige klimraam en 40 rolstoele – dit is die konkrete getuienis van twee NG gemeentes se onlangse uitreike na Swaziland waar die Shiselweni-gemeente van die Swaziland Reformed Church ’n arm, landelike gemeenskap bedien. Dr ARNAU VAN WYNGAARD van die Swaziland Reformed Church vertel.


Die gemeente Dalpark in Brakpan se eerste besoek aan Shiselweni het reeds in 2013 plaasgevind. Ds Nati Stander het geroepe gevoel om met ’n klompie lidmate van sy gemeente na Swaziland te gaan. Toe hulle hoor dat daar juis tóé ’n behoef­te was vir ’n klimraam by ’n kleuterskool op Dwaleni, was ds Nati se woorde: “Consider it done.”

’n Paar maande later was die groep van Dalpark daar en binne ’n dag het hulle ’n stewige klimraam gebou. Daarna het dit tradisie geword dat hierdie gemeente jaarliks gedurende die Oktober-vakansie na Swaziland kom om ’n klimraam te bou. Vanjaar was dit Big Bend se beurt om ’n klimraam te kry.

Die gemeente by Big Bend is teenaan die Ubombo-suikermeule geleë. Die gemeente het ’n kleuterskool op die perseel waar 130 kinders voorberei word vir “groot” skool en verder ontvang 250 kinders elke dag ’n gekookte middagete by die kerk – ’n behoefte wat al hoe groter word vanweë die verskriklike droogte van die afgelope paar jaar.

Daar is dus voortdurend kinders op die kerkterrein. In samewerking met die leier van die gemeente op Big Bend, Mduduzi Lukhele en die ander gemeen­telede, is die klimraam gebou en geverf en reeds die vol­gende dag het die kinders heerlik baljaar op hulle “jungle gym”.

Die gemeente Garsfontein in Pretoria se verbintenis met die Shiselweni-gemeente dateer terug tot 1988 – die groot Sendingjaar van die NG Kerk, toe ­dr Arnau van Wyngaard, leraar van die Shiselweni-gemeente, uitgenooi is om daar te preek. Alhoewel daar deur die jare gereelde kontak tussen die twee gemeen­tes was, het daar ’n behoefte bestaan om prakties be­trok­ke te raak by die werk in Swaziland.

Veertig stewige rolstoele waarmee liggaamlik-gestremde mense gehelp kan word. Op die foto is van links Sarie de Villiers, Hanneline Vorster, Arnau van Wyngaard, John Nxumalo (rolstoel-koördineerder), Johanna van Wyngaard, Christo Fouché, Ben Vorster, Henk le Roux en Joep Joubert.

In 2010 het Shiselweni begin met die verspreiding van rolstoele aan liggaamlik-gestremde persone. Die rolstoele word deur middel van Free Wheelchair Mission – ’n Christen-organisasie in die VSA – ingevoer, maar dan moet hulle nog gebou word. Normaalweg word ’n rolstoel eers gebou as daar iemand geïdentifiseer is wat ’n rolstoel benodig, maar die proses om ’n rolstoel te verskaf kan baie bespoedig word as daar ’n voorraad geboude rolstoele bestaan. En toe dr Gavin Meistre van die Garsfontein-gemeente in Pretoria hier­van hoor, was hy onmiddellik vuur en vlam om sy gemeente hierby betrokke te kry. Hierdie uitreik is toe beplan vir die laaste naweek van Oktober.

Agt lidmate van Garsfontein tesame met die leraars­paar van die Shiselweni-gemeente het die Saterdag-oggend begin om stukke pyp en wiele aanmekaar te bout. Die eerste rolstoel of twee het stadig gegaan en toe begin die groep momentum optel. Teen die mid­dag het daar 40 voltooide rolstoele gestaan in verskillende groottes, gereed om gratis afgelewer te word waar daar ook al ’n behoefte aan ’n rolstoel is. Die voor­siening van die rolstoele word gekoördineer deur John Nxumalo, wat opgelei is om professionele advies te gee rondom die groottes van die rolstoele. Hy is ook vaardig om die nodige verstellings aan die stoele aan te bring om hulle so gemaklik moontlik te maak vir die gebruiker daarvan.

Die klimraam en die rolstoele is die konkrete pro­duk­te van Dalpark en Garsfontein se uitreike, maar eintlik gaan dit oor baie meer. In die lewe van die kleuters van Big Bend en die gestremdes wat rolstoele ont­vang, maak dit ’n verskil wat nie gemeet kan word nie. In omstandighede waar elke dag ’n stryd om oorle­wing is, is hierdie kontak met mense wat regtig omgee die blootstelling aan ’n gevoel van menswaardigheid waarna soveel van hulle hunker.

Maar hulle is nie al wie se lewe na so ’n uitreik an­ders lyk nie. Daar is baie mense wat op ’n uitreik gaan en wat later met groot dankbaarheid kan terug­dink aan hoe dit hulle lewe verander het. Een van die spanlede laat weet ná die tyd: “Ek het ervaar hoedat baie van die kinders hunker na liefde en aanraking en dit was lekker om op so ’n manier die liefde van die Here met hulle te kon deel.” ’n Ander een skryf: “Vir my het Galasiërs 5:6 ’n werklikheid geword: ‘Al wat van be­lang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oor­gaan.’” ’n Derde laat weet: “Dit het my laat besef dat God ’n doel met my lewe het.”

Dit is moeilik om op ’n goed-georganiseerde sen­ding­uitreik te gaan en onaangeraak daarvan terug te keer. Baie daarvan het te doen met die oorsteek van gren­se. Die sendingwetenskaplike, prof David Bosch, het sen­ding juis beskryf as die Christelike bediening van die oorsteek van grense – nie net landsgrense nie, maar ook kulturele en sosiale grense. Swaziland bied die geleentheid aan individue en gemeentes om nie alleen landsgrense oor te steek nie, maar om ook, soos Dalpark en Garsfontein, kulturele en sosiale grense te deurbreek en om persoonlik kontak te maak met die vriendelike en gasvrye Swazi’s.

Gemeentes wat graag aan hulle lidmate blootstelling wil gee aan die “oorsteek van grense”, is welkom om Arnau van Wyngaard by wyngaard@lando.co.za of 082 924 5632 te kontak.

Gaan kyk ook gerus na die gemeente se webwerf by www.shbcare.org.