Geroep om voortdurend te reformeer

En toe is dit, dit! 31 Oktober het gekom en gegaan. Die feeste waaraan maande en jare lank beplan is, is verby. Refo500 is deel van die ge­skie­denis. Die groot vraag is: “Wat nou?”

Die antwoord op hierdie vraag vind ons na my mening in die leuse van die Reformasie: Ecclesia reformans semper reformanda – die kerk van die Reformasie moet voortdurend bly reformeer. As die feeste wat rondom Refo500 gevier is enigsins impak op die NG Kerk gehad het, sal die kerk nie anders kan as voortdurend te bly reformeer nie.

Voortdurende reformasie beteken egter nie dat daar met ’n nuwe sak vol truuks vorendag gekom moet word nie. Dit beteken nie dat daar meer en meer kompromieë met die denke van die tyd aangegaan moet word nie. Dit beteken dat die kerk getrou aan sy gereformeerde wortels op reis sal moet gaan met die Bybel as die gesagvolle Woord van God. Dit was die wese van die Reformasie en is steeds die kern van gereformeerd-wees.

In die geskiedenis van die NG Kerk is daar talle voor­beelde van hoe getrouheid aan hierdie beginsel tot groot herlewings gelei het en waar ontrouheid aan hierdie beginsel tot groot dwaling gelei het. Dit wás getrouheid aan hierdie beginsel wat daartoe gelei het dat die kerk in 1986 kon wegbreek van die ondersteu­ning van apartheid en dit ís getrouheid aan hierdie beginsel wat die missionale roeping van die kerk op­nuut weer die belangrikste uitdaging vir die kerk in sy huidige konteks maak.

Kry die NG Kerk dit reg om lidmate te laat besef dat elkeen ’n gestuurde van die lewende God is, en dat gemeentes gestuurde gemeentes is en dat die kerk ’n ge­stuurde kerk is omdat dit die opdrag van God aan sy kerk in sy Woord is, sal die kerk daarin slaag om ’n verskil te maak. In huwelike en gesinne, in skole en universiteite, in kantore en in trekkers op landerye – nie omdat daar wonderlike besluite geneem is, of omdat die Kerkorde oorgeskryf is, of omdat iemand so sê nie, maar omdat ons gereformeerd leef!

Kry die NG Kerk dit reg, is Refo 500 die begin van ’n grootse herlewing, ’n tweede Reformasie waarsonder Suid-Afrika nie kan klaarkom nie.

Prof Johan van der Merwe doseer kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.