’n Hartverskeurende verhaal van gehoorsaamheid en verlies

TERREUR IN KABOEL
Deur Hannelie Groenewald
Uitgegee deur Lux Verbi, 2017
Resensie deur Frits Gaum


Hannelie Groenewald se verhaal is in baie opsigte hartverskeurend. Elke leser sal aan die einde van die boek met ’n hele klomp vrae sit: Hoe kan dit gebeur (waarom laat God dit toe?) dat ’n gesin wat alles feil het vir die evangelie en die uitdra en uitleef daarvan, uiteindelik op een na almal in ’n terreur-aanval uitgewis word? Hoe werk die “sending­roeping” as ’n pa en ’n ma hulle onmondige kinders saam­neem na ’n gevaarlike land en die pa en kinders daar op ’n vreeslike manier tot hulle einde kom? En dan die kwellende vraag: Is dit ooit die ontsaglike moeite en opoffering werd?

Werner Groenewald, destyds predikant van Moreletapark-gemeente, het die roeping ontvang om na Afganistan te gaan en daar op verskillende maniere sy geloof in die praktyk uit te leef. Sy vrou, ’n mediese dokter, was aanvanklik nie baie lus vir so ’n totale ommekeer in hulle rustige voorstedelike lewe nie, maar raak algaande al hoe meer oortuig dat God hulle gesin roep om Afganistan toe te gaan.

Hulle familielede, veral Hannelie se ouers, is van die staanspoor af teen die plan gekant, maar oortuig van hulle roeping, vertrek die Groenewalds.

In Kaboel is die aanpassing in die arm, geweldda­dige Moslem-land baie moeilik. Algaande raak die gesin tog tuis in die vreemde, oortuig daarvan dat dit die plek is waar hulle moet wees. Uiteindelik sou hulle langer as ’n dekade in Kaboel woon en werk – Werner besig met opheffingswerk en leierskursusse, Hannelie bedrywig as dokter en huisvrou en tuis-onderwyser vir haar kinders.

Hannelie se ouers pleit gedurig dat hulle moet terug­kom na Suid-Afrika, maar eers teen die einde van hulle verblyf begin Werner ook in daardie rigting dink. Daar­van sou egter vir hom en sy twee kinders niks kom nie.

’n Terreuraanval op hulle kantoor en huis op 29 November 2014 bring ’n wrede einde aan hulle lewe. Net Hannelie, wat daardie dag ’n kongres moes bywoon, ontkom aan die dood.

Hannelie vertel breedvoerig van hulle lewe in Kaboel, van die aanval en alles daaromheen, van die dae na die aanval en haar worsteling om te verstaan waarom die ramp haar gesin getref het. Vir my een van die ontstellendste gedeeltes in die boek is haar vertelling hoe sy gehelp het met die balseming van haar man en kinders voordat die lyke in staalkiste na Suid-Afrika geneem is. Hierdie vrou het ongelooflike moed aan die dag gelê.

Sy vertel ook hoe sy algaande tot be­rus­ting gekom het en leer aanvaar het dat dit die wyse is waarop haar man moes sterf. Hy het immers meermale gesê: “Ons sterf net eenmaal, dit kan net sowel vir Jesus wees”. Hannelie het nie haar geloof verloor nie – inteendeel, sy het in haar geloof gegroei.

Die vrae oor sendingwerk in vyandige lande, sal egter bly. Hoe moet dit aangepak word? Is dit gereg­verdig om jou kinders aan hierdie soort gevare bloot te stel? Dan onthou ’n mens weer: “Die bloed van die martelare is die saad van die kerk”. As daar nie mense was wat deur die eeue in totale selfopoffering gehoorsaam was aan wat hulle geglo het God se roeping vir hulle was nie … sou die Christelike geloof dan ooit êrens wortelgeskiet het?

Leunstoelkritici moet maar hulle woorde tel en goed nadink oor God se roeping vir hulleself. Op die ou end is dit iets waaroor elke gelowige self voor die aan­gesig van God moet besluit.