God se genade is vir almal

Dit was die jaartema van die NG gemeente Pretoria-Dowes: “God se liefde vir almal.”

Op 19 November het dit op ’n besondere manier waar geword vir een van hulle lidmate, Monica Lotz.

Monica is as baba in die gemeente gedoop. Haar ouers, Emil en Martie Lotz, is albei doof. Pa Emil is die koster van die gemeente wat sorg dat elke ding op sy plek is voor ’n erediens begin.

Monica self is multigestremd. Sy is nie doof nie, maar hardhorend én swaksiende. Dit beteken dat dit selfs vir skole vir mense met spesifieke gestremdhede moeilik was om vir haar unieke gestremdheid voorsiening te maak.

Pa Emil vertel hoe sy in verskillende skole was en uiteindelik graad 9 geslaag het voordat sy te oud was om skool te gaan.

Toe die versoek kom dat ds Anel Pienaar haar moes begelei om belydenis van geloof af te lê, het die kerk­raad toestemming gegee dat sy ’n unieke pad met Mo­ni­ca kon stap.

Ds Anel Pienaar bedien die nagmaal aan Monica Lotz.

Sy het geweet sy kan nie al die inligting met Monica probeer deurwerk wat gewoonlik deel is van die kate­gese nie. Sy het sleutelkonsepte gekies soos die Drie-een­heid, genade, die sakramente en die wet. Met klei en tekeninge en kleur het Anel dié temas met Monica be­handel.

In ’n stadium het sy op facebook vir ander predikan­te om raad gevra. “Ek wou seker maak ek maak nie droog nie,” vertel sy. Verskeie dominees het van hulle er­varinge vertel. Sy het ook materiaal gekry wat vir die ka­tegese van gestremdes opgestel is.

Dr Johan Pienaar het gesê dat hy met verstandelik gestremdes uiteindelik vier vrae gebruik het: Glo jy dat die Here jou liefhet? Het jy die Here ook lief? Glo jy dat die Here al die ander mense ook liefhet? Wil jy hulle ook liefhê?

Die boodskap van verskeie dominees se verhale was: Hou dit eenvoudig. Dit gaan nie bloot oor kopkennis nie. Dit gaan oor ’n verhouding met God.

Anel sê sy het verstaan dat dit belangrik is om die spesifieke persoon te ken wat sy moes begelei, dat sy haar konteks moes verstaan en daarvolgens moes werk.

Dit was ’n reis saam met Monica, vertel sy. Daar is nog vrae wat hulle moet deurwerk, oor gebed byvoorbeeld, maar dit sal deel wees van die voortgaande reis wat geloof is.

Emil Lotz hang ’n silwer kettinkie met ’n kruisie daaraan om sy dogter Monica se nek nadat sy haar geloof bely het.

In Monica het sy iets van haarself gesien, sê Anel, ’n behoefte om naby God te leef, die worsteling in die reis om daarby uit te kom.

Uiteindelik, sê Anel, is Monica nie so anders as ander mense nie. Daar is absoluut niks wat enigeen kan doen om God se genade te verdien nie. Om belydenis af te lê, is eintlik net ’n aanvaarding daarvan.

Dit is sulke geloofswaarhede wat telkens met bewe­gende hande in gebaretaal oorgedra word tydens die diens waarin Monica haar geloof bely.

Ná haar belydenis hang haar pa vir haar ’n silwerhangertjie met ’n fyn kruisie om die nek. Dis ’n tasbare teken om haar aan haar belydenisaflegging te herinner.

Dan sit Monica saam met Anel voor by die tafel as die gemeente die nagmaal vier. En dié prentjie word ’n getuienis van die woorde wat Anel se hande en arms herhaaldelik tydens die diens vir haar Dowe gemeente beduie: “God se genade is vir almal.”