’n “Nuwe” Onderwyswet?

Johan Jooste van Pretoria skryf:

Diegene wat destyds by die ontwikkeling van die Model C-skole betrokke was, neem met sorg kennis van die nuwe rigting wat die staat inslaan. Uit die geskiedenis kan mens leer en daarom is dit miskien goed om te weet hoe die denke destyds met die ontwerp van Model C-skole geloop het.

Die Model C-skole was nie vir almal aanvaarbaar nie. Selfs NP-ministers was ontstoke daaroor, maar die grootste kritiek was vanaf die destydse Konserwatiewe Party. Die ou vraag was ter sprake: wie is primêr vir onderwys verantwoordelik? Is dit die onderwysers, die staat of die ouers? Tot op daardie stadium was dit hoofsaaklik die staat, maar Model C het die staat se rol drasties verklein.

Dit word algemeen aanvaar dat die staat ’n beskawingsbelang in die onderwys het. Die staat sorg vir standaarde en daarom ook vir finansiering wat regverdig toegedeel moet word. Die Grieke het al gemeen dat kinders opgelei moet word om goeie burgers te wees, maar die optrede van state soos Duitsland tydens die Derde Ryk, die USSR, Sjina en Noord-Korea wys op die gevaar van te veel staatsgesag. Ons eie geskiedenis is ook ’n bewys daarvan. Goeie kerkskole is byvoorbeeld as deel van die apartheidsbeleid gesluit sodat die staat ’n groter seggenskap in die opleiding van swart gemeenskappe kon kry.

In tye waar die staat sy rol versaak, het die kerk al toegetree. Luther het hom byvoorbeeld beywer vir verpligte aanvangsonderwys. In Suid-Afrika het sendelinge en verskeie kerke probeer om die agterstand onder die swart bevolking met goeie onderwys te verminder. Ná die Anglo-Boereoorlog het die sogenaamde VCHO-skole onder leiding van die kerk ontstaan.

Ouers se betrokkenheid mag nooit onderspeel word nie. Van ons grootste probleme in die onderwys het te doen met die onbetrokkenheid van ouers: dit is veral probleme met dissipline en motivering. Voor die totstandkoming van Model C-skole is daar op verskeie wyses probeer om ouers meer betrokke by skole te kry, maar omdat hulle nie belangrike besluite kon neem nie, was dit minder suksesvol.

Die model A-keuse, naamlik privatisering, was ’n eerste poging om die oormatige staatsgesag in skole te beperk, maar gebrekkige finansiering het dit onrealisties gemaak, met ander woorde, die staat as finansierder se rol was te klein. Model B sou die status quo wees, maar die staat se rol was hier weer te groot. Model C was die Goue Lokkies-model waar al die partye tot hulle reg kon kom. Dit was uiteindelik ’n veel groter sukses as wat ooit verwag is.

Interessant genoeg is daar met die ontwikkeling van die Model C-opsie na kerkregering gekyk. Martin Luther het met die beginsel gekom wat Subsidiarität genoem word, naamlik dat besluitneming so ver moontlik op plaaslike vlak moet plaasvind. Eers wanneer dit van meerdere belang is, moet dit hoër op verwys word. In Duitsland is hierdie beginsel na die hele staatsbestel deurgetrek (soos ten opsigte van die Länder). Die ervaring is dat die onderskeie belanghebendes die beste tot hulle reg kom wanneer daar vir samewerking op die plaaslike vlak voorsiening gemaak word.

Uiteindelik gaan dit nie om die belang van enige een van die vennote, die onderwysers, die ouers en die staat, nie. Dit gaan om die leerders, die kinders, die jongmense.

Nie een van die partye mag hulle besit nie!

  • Leerders mag nie staatsbesit word en skole mag daarom nooit staatskole word nie.
  • Ouers mag hulle kinders nie teen hulle omgewing so verskans dat hulle vreemd aan hulle samelewing is nie; ouers moet hulle geleidelik al hoe meer blootstelling daaraan kry.
  • Onderwysers mag leerders nie verlengstukke van hulle eie prestasie maak of, na die ander kant toe, afskeep nie.
  • Wanneer een van bogenoemde “skoolkapings” gebeur, moet die kerk sy stem dik maak, want dan het onreg plaasgevind.