SKATTEJAG-BYBEL
Deur Ewald van Rensburg (spanleier), Noeline N Neumann (opdraggewende redakteur), Thea Brink (redakteur), en ander
Uitgegee deur Christelike Media Bybels (druknaam van Christelike Media Publikasies), 2017
Resensie deur Frits Gaum
Hierdie is ’n merkwaardige konsep. In één kleurvolle boek (1 739 bladsye!) is die ganse Bybel opgeneem met daarmee saam nege “Weggies” wat vir kinders help om die skatte van die Bybel te ontdek. Die Weggies het interessante name: Pratie, Dinkie, Selfie, Samie, Sienie, Doenie, Singie, Hartie en Groenie, en op die ry af herinner hulle aan Bybelkarakters: Paulus, Salomo, Maria, Petrus, Hiram, Besaleël, Dawid, Barnabas, Johannes die Doper. Dié span help die jong Bybellesers om die Bybelboodskap prakties toe te pas.
So vra “Pratie” die leser na aanleiding van Josua 1:7-9 en 6:27 of hy/sy ook ’n persoon ken soos Josua wat dapper en sterk is, en waarom dié persoon as ’n held beskou kan word. En “Hartie” vra nadat Amos 5:10-15 gelees is: “Hoe voel jy wanneer jy sien hoe verkeerde dinge gebeur en niemand dit regmaak nie?” “Selfie” raai die leser weer aan om, in die lig van Romeine 7:15, 18-19, na te dink “oor alles wat jy vandag gedoen het, vir God dankie te sê omdat Hy jou gehelp het om die regte dinge te doen, en Hom te vra om jou te vergewe as jy verkeerde dinge gedoen het”.
Die Bybel word bladsy vir bladsy deurgegaan, oral word kort, hanteerbare gedeeltes voorgestel om te lees, en die “Weggies” gee dan raad en stel vrae sodat die Skrifboodskap in die kind se leefwêreld kan posvat. Die bedoeling met die Skattejag-Bybel “is om kinders te lei om die skatte in God se Woord vir hulleself te ontdek”.
Voorin vertel die samestellers in ’n nota aan ouers dat hulle nege maniere gekies het waardeur kinders leer: logiese redenasie, visualisering, gesprekke, die gebruik van interpersoonlike vaardighede, die ervaring van emosies, eksperimentering en doen, refleksie, gebruik van beweging, en die buitelug. Die nege “Weggies” verteenwoordig elk een van hierdie maniere van leer en help die kinders om hulle weg deur die Bybel te vind en die skatte daarin te ontdek.
Vir my is hierdie boek/Bybel ’n voltreffer. Die drukwerk is dalk aan die klein kant, maar dit is bedoel vir jong oë en hulle sal nie daarmee probleme hê nie. ’n Belangriker vraag is wie die teikengroep presies is. Ek het geen aanduiding gekry of dit veral vir laerskool- of hoërskoolkinders bedoel is nie. Ek vermoed die teikenmark is kinders van 9 of 10 tot 15 of 16. Met ’n bietjie ouerleiding hier en daar behoort Skattejag-Bybel vir hierdie kinders geweldig baie te beteken … sodat hulle die Bybel as ’n boek vol “skatte” wat vir hulle persoonlik in hulle lewe van elke dag bedoel is, sal leer ken.