Teologiese opleiding vir missionale bediening

Oor die toekoms van teologiese opleiding in ’n vinnig veranderende wêreld word daar nou al die afgelope klompie jare hard gedink en gewerk in die NG Kerk. FREDERICK MARAIS verduidelik waar die kerk nou hiermee staan.


Hoe sou dit wees as teologiese opleiding mense wat geroep is, toerus vir ’n missionale bedie­ning in en deur gemeentes op verskillende vlak­ke? Sal dit nie wonderlik wees nie as ons mense wat geroepe is, kan help om te begin met opleiding wat hulle stap vir stap help om te vorder soos wat hulle kan – al is hulle in ’n ander beroep? Sou dit moontlik kon wees dat ons begin om vir geroepenes verskillende paaie te begin bou om hulle bekwaam te maak vir hulle bediening? Dit is hierdie soort vrae wat die verbeelding van ’n taakspan van die Algemene Kurato­rium gestimuleer het in die ontwikkeling van ’n verslag oor missionale bedieningsontwikkeling.

Binne die struktuur van die kerk is daar ook reeds vir ’n tyd lank gesprekke oor teologiese opleiding. Daar is vrae of predikantsopleiding soos ons dit ken, be­kostigbaar is. Of gemeentes in die toekoms predikante wat opgelei is, sal kan bekostig. Hoekom jeugwerkers en ander mense in diens van gemeentes se op­­leiding nie deur die kerk erken word nie en verder hoekom hulle nie deel uitmaak van die struktuur van die kerk nie. Daar is ook vrae oor lidmate wat geroepe is om dienswerk te lewer, maar nie opleidingsmoontlik­hede in ringe of sinodes het om toegerus te word vir hulle bediening nie.

Die Algemene Sinode het in 2013 ’n beleid goedge­keur wat teologiese opleiding herdefinieer en aan die uit­dagings hierbo kreatiewe oplossings bied. Waar teo­logiese opleiding in die verlede verstaan is as die vol­­tydse opleiding van predikante alleen, maak hierdie beleid ruimte vir veel meer geleenthede vir teo­lo­gie­­se opleiding. Die bedoeling van die verslag was om teologiese opleiding oop te maak en te verbreed sodat veel meer mense opgelei kan word vir diens­werk in die gemeente en gemeenskap.

In die lig hiervan het die Algemene Kuratorium nou ’n verslag – Raamwerk vir missionale bedienings­ont­wikkeling – die lig laat sien. Die dokument gee nou voorstelle oor hoe daar aan die 2013-beleid praktiese uitvoering gegee kan word. Die raamwerk-dokument word nou in November bespreek by die verskillende ku­ratoria en vroeg in 2018 sal sinodes ook geleentheid kry om kommentaar te lewer. Die hoop is dat die verslag, na hierdie konsultasies, in Maart 2018 by die Al­ge­mene Kuratorium en Al­­gemene Sinodale Mo­de­ramen voorgelê kan word vir goedkeuring. En­kele kerkregtelike wy­si­gings sal dan aan die 2019 Algemene Sinode voor­gelê moet word vir vol­le im­ple­mentering van die verslag.

In die verslag word voor­sien dat daar in die toe­koms teologiese opleiding sal wees op verskillen­de vlakke.

Die eerste vlak is opleiding vir ouderlinge en diakens wat deur die kerk­raad gekeur is. Die opleiding geskied deur diplomakursusse van Hu­­­genote Kollege wat deur geakkrediteerde pre­­dikante in rings- of si­­nodale verband aangebied kan word. Dit lei tot be­­voegdheid vir spesialisbedie­nings soos erediens­te, pastoraat, jeugwerk, diako­naat en aanbidding.

Standplaasleraars word opgelei vir spesifieke bedienings, soos aan Dowes of die San. Die opleiding word deur verskillende akademiese vennote gedoen en verskil soos die kontekste waarvoor mense op­gelei word, verskil. Die kuratoria keur die leer­plan­ne goed. Hierdie leraars kry bevoegdheid vir die bediening in ’n spesifieke konteks en is nie be­roepbaar na ander kontekste nie.

Diensleraars word opgelei vir ’n spesifieke terrein van bediening, soos pastoraat, jeug- en familie­bedie­ning, diakonaat, geloofsvorming, kerkplanting en evangelisasie of aanbidding. Hulle opleiding kan tipies ’n BTh-graad wees. Hulle word gelegiti­meer vir hulle bedieningsveld, word proponente en kan beroep word. Hulle kan ook die sakramente be­dien. Diegene wat as jeugwerkers opgelei is, sou hier­volgens diensleraars vir jeugbediening kon word.

Vir tweedeloopbaanstudente word opleidings­moont­likhede voorsien wat aansluit by reeds verworwe kennis en vaardighede (wat van student tot student sal verskil) en daarop voortbou tot op dieselfde vlak as predikante wat heeltyds gestudeer het.

Daarby gaan die bestaande heeltydse opleiding van pre­dikante voort soos in die verlede.

Die Raamwerk vir missionale bedieningsontwikkeling is so ontwikkel dat daar van een vlak na ’n volgen­de gevorder kan word. Dit beteken dat as iemand op­ge­lei is op een vlak, die persoon kan aanbeweeg na ’n vol­gende vlak sonder om weer heel voor te begin.

Daar is verskillende voordele vir gemeentes. Gemeentes kan nou die verskillende vlakke van goed­ge­keurde opleiding benut deur bedieningspanne in ­diens te stel. Naas leraars, sou ’n gemeente ook diens­leraars in diens kon stel wat spesialiseer in sekere mis­sio­nale bedieningsvelde. Daarnaas sou ouderlinge en diakens wat hulle laat bekwaam het as bedienaars ook nog verder die bedieningspan van die gemeente ver­sterk.

’n Ander voordeel is dat gemeentes nou meer opsies het om hulle boeke te laat klop. ’n Gemeente wat byvoorbeeld nie langer ’n voltydse leraar kan bekostig nie, kan nou met behulp van ouderlinge en diakens met bevoegdheid onder leiding van ’n konsulent met ’n bediening voortgaan.

Dr Frederick Marais is ondervoorsitter van die Algemene Kuratorium.