So word Christene vervolg

Delft (Nederland). – Meer as 215 miljoen Christene word wêreldwyd op die een of ander manier weens hul geloof vervolg. Daarmee is die Christendom tans die mees vervolgde van alle godsdienste op aarde.

Dít is die gevolgtrekking van die Christelike organi­sasie Geopende Deure, wat sedert 1955 die vervolging van Christene internasionaal jaarliks boekstaaf. Die organisasie se hoofkantoor is in die Nederlandse stad Ermelo en hy het pas sy jaarlikse lys uitgereik van lande waar Christene die meeste vervolg word oor hulle geloof.

Vir die 17de agtereenvolgende keer staan Noord-Korea bo-aan die lys, met Afganistan en Somalië kort op sy hakke. Onder die eerste 10 lande is dit net Noord-Korea wat nie ’n oorwegend Moslemland is nie.

Die organisasie het in 2017 die moord op 3 066 Christene geboekstaaf, mense wat vermoor is omdat hulle geweier het om van hul godsdiens afstand te doen. In 2016 was die getal 1 207 en 7 106 in 2015.

Meer as 50 000 Christene word in ellendige omstandighede in Noord-Koreaanse konsentrasiekampe aangehou, bloot weens hul geloof.

“Dit is regtig dramaties,” meen Ruud Kraan, direkteur van Geopende Deure. Op ’n skaal van 100 punte behaal Noord-Korea 94.

Die verslag identifiseer ook ander tendense, onder meer dat die Hindoeïsme en Boeddhisme besig is met ’n “opmars” in Asië. Sowel in Indië as Sri Lanka is daar sprake van toenemende “religieuse nasionalisme”.

In Indië is daar kwaai nasionalistiese druk op die bevolking om die Hindoe-godsdiens aan te hang. Die land het in die laaste vyf jaar 17 plekke op die ranglys gestyg, van 28 na 11.

“Die bron van die Christenvervolging is die groeien­de Hindoetva-beweging, ’n nasionalistiese ver­lange om van Indië ’n Hindoeïstiese land te maak. Christene het te make met maatskaplike uitsluiting, verdrywing uit hul huise en dorpe, gevangeneskap, bedreiging, mishandeling en soms moord.”

Die Indiese regering wil glo dat alle nie-Hindoes voor 30 Desember 2021 tot die Hindoeïsme bekeer word.

In die Boeddhistiese wêreld – Sri Lanka, Bhoetan en Mjanmar – is soortgelyke neigings merkbaar.

Luidens die verslag groei die “geheime kerk” in talle lande, maar om veiligheidsredes wil Geopende Deure geen syfers publiseer nie. “Die groei is sigbaar in onder andere Noord-Korea, Indië, en baie Islamitiese en Boeddhistiese lande.”

Die ergste geweld kom egter in Moslemlande voor. Die gruwelikste geweld is in Pakistan gemeet: Altesame 168 kerke is in 2017 aangeval, 26 Christene is gedood, 100 Christene is sonder verhoor aangehou, meer as 700 is ontvoer, 83 is verkrag of seksueel mishandel, en meer as 700 Christelike vroue is gedwing om met ’n Moslem te trou.

Luidens die verslag gaan dit egter deesdae beter in Sirië en Irak. Dit is hoofsaaklik toe te skryf aan die feit dat die Islamitiese terreurbeweging Islamitiese Staat (IS) nagenoeg militêr verslaan is.

Ruud Kraan het ’n beroep op politici, die media en kerke gedoen om vervolgde Christene by te staan.

“Ek roep ook die kerke op om agter hul geloofsge­note te staan. Bestee in die kerkdiens aandag aan vervolgde Christene en bid vir hulle. Ek hoop dat alle kerke aanstaande Sondag vir die vervolgde kerk sal bid,” het hy gesê.

Die onveiligste lande:

1. Noord-Korea

2. Afganistan

3. Somalië

4. Soedan

5. Pakistan

6. Eritrea

7. Libië

8. Irak

9. Jemen

10. Iran