Die koninkryk van God in 2018

Die koninkryk van God, of die koninkryk van die hemel soos Matteus dit noem, is myns insiens een van die belangrikste temas van die Evangelies. Die oudste Evangelie, Markus, begin sommer in hoofstuk 1:15 met die woorde: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo in die evangelie (goeie nuus).”

Jesus se Bergpreek handel hoofsaaklik oor die lewe in die koninkryk van die hemel. Hy leer onder meer die mense om te bid: “Laat u koninkryk kom, laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” In die gelykenisse wat Jesus vertel, gaan dit dan ook oor die lewe in die koninkryk. Hy gebruik praktiese voorbeelde uit sý lewenswêreld om die koninkryk te verduidelik. Die koninkryk is soos ’n skat in die saailand, ’n mosterdsaadjie, suurdeeg … In die koninkryk gaan dit soos met ’n handelaar wat op soek is na goeie pêrels.

Dit is opvallend dat Jesus nooit sê dat mense die koninkryk kan laat aanbreek nie. Net God kan dit doen. Mense kan die koninkryk slegs ontvang soos kindertjies, hulle kan die geheime van die koninkryk ken, hulle kan dit verkondig, hulle kan dit binnegaan.

Van die begin af was dit moeilik, ten spyte van al dié praktiese toeligting, om die koninkryk te verstaan. Die mense met wie Jesus hieroor in gesprek tree het ander koninkryksagendas gehad.

Die Sadduseërs was priesters. Die hoëpriester was ’n Sadduseër. Jesus tree in stryd met die Sadduseërs wanneer hy verduidelik dat die koninkryk se aanbreek nie te danke sal wees aan die mag of gravitas van die kerk nie.

Die Fariseërs weer, was ’n groep wetsgehoorsame Jode, wat ontstaan het in die tyd van die Makkabeërs toe die Griekse leiers die Hellenistiese godsdiens en kultuur op Israel wou afdwing. Jesus tree in stryd met die Fariseërs wat die begrip koninkryk direk assosieer met politieke mag. Vir die Skrifgeleerdes is sy koninkryk ook vreemd omdat ’n wettiese moraliteit nie daarmee versoenbaar is nie. Anders as die Esseners, wat hulle afgeskei het van die wêreld, leer Jesus dat die koninkryk tussen hulle is. Hulle moet dit net raaksien, ontvang, binnegaan, verkondig.

Maar hoe? Dalk is Jesus se openingswoorde in sy Bergpreek een van sy belangrikste aanduidings van die hoe. “Gelukkig is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”

En dié wat treur en die sagmoediges, en dié wat honger en dors na wat reg is en dié wat barmhartig is, en rein van hart is. Hulle is gelyke ontvangers/besitters van die koninkryk. O ja, en dan is daar dié wat hulle ego’s en eiebelang ondergeskik stel aan wat reg is, wat die vreemde koninkryk besit. En diegene wat nie popu­liste is nie, nie publieke opinie eerste stel nie, omdat hulle gefokus is op die ewige lewe.

2018 lê voor ons. Hoe sal eietydse, praktiese gelykenisse oor die koninkryk vandag klink? Daar was ’n man wat ’n app (toep) ontwikkel het wat mense gewaarsku het wanneer hulle die heeltyd oor hulleself praat … Daar was ’n baie slim vrou wat haar kennis en geleerdheid in diens gestel het van die armes … In ’n klein dorpie was daar ’n kategeseskool waar die kinders geleer is van geregtigheid vir alle mense, gay mense, arm mense, persone met gestremdhede … Daar was ’n gemeenskappie van gelowiges wat dit gewaag het om die armste mense van hulle dorp in te sluit by hulle geloofsfamilie … Eendag was daar ’n groep mense wat saam Bybelstudie gedoen het en besluit het om vir vigs­wesies by die hospitaal van kos te voorsien … Op ’n dag het die verbeelding van die Gees mense geïnspireer om oor alle grense heen uit te reik na die rykste mense van die gemeenskap …

Mag ons in 2018 miljoene kere die koninkryk in ontvangs neem.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.