God is getrou

Watter beter versekering is daar om ’n nuwe jaar mee in te gaan as dié in Psalm 111:3? Die Here se trou staan vir altyd vas.

Op reis die onbekende toekoms in, kan ’n gelowige, ’n gemeente, ’n kerk wéét dat God getrou is. Dié God wat liefhet, wat sorg, wat bewaar, sal ons nie in die steek laat nie. Dit is ’n diep sekerheid wat krag gee.

Natuurlik is dit nie ’n waarborg dat daar geen klippe op die pad sal wees nie. Die psalmskrywer se belydenis is nie ’n soort alles-loop-reg-altyd-reg-advertensietaal nie. Dit weet ons uit die verhaal van Job.

Maar wanneer die teenspoed kom, werk dit dikwels soos ’n brand wat al die plantegroei verwoes, maar die prikkel is vir die lieflikste lelies om te begin blom.

God is getrou ook wanneer die rampe tref. Dit het die verhaal van die brande in Knysna en omstreke verlede jaar gewys. Want toe die brande verwoes, toe blom die liefde wat God in sy mense se hart bewerk, die liefde wat versorg en beskerm.

Die verhaal van Knysna se brande was een voorbeeld. Vroeër het die verhaal van die groot droogte ’n soortgelyke opbloei van sorg-vir-mekaar tot gevolg gehad.

En op hoeveel ander plekke speel soortgelyke verhale hulle af? Klein verhale van individue of dié van groot samelewingsprojekte.

Dis tog presies wat die kerk op al meer plekke doen waar gemeentes betrokke raak by vroeëkinderontwikkeling. Aangegryp deur die armoede om hulle, help gelowiges om die fondamente in kleuters se opvoeding te lê. Daarop kan hulle suksesvolle skoolloopbane bou en vaardighede verwerf sodat hulle eendag bo die armoede kan uitstyg.

God gee vir sy kerk die instrumente om ’n stukkende wêreld te help heelmaak: liefde, diens, deernis. God is getrou.