‘Weerlose weerstand’ is ’n móét

WEERLOSE WEERSTAND

Deur André Bartlett
Uitgegee deur Protea Boekhuis
Resensie deur Hanna Kotze


Weerlose weerstand is esteties ’n aantreklike boek. Die skry­wer André Bartlett het moeite gedoen om toestemming te bekom om die gay kunstenaar Jerry Lee Frost se kunswerk “Love is Love” as voorbladillustrasie te gebruik. Hierdie titel bied terselfdertyd heerlike ironie op die slagspreuk “Liefde is Liefde” wat op die T-hemde van die mense op die galery tydens die 2016 Spesiale Algemene Sinode te siene was.

Die titel van die boek bied ’n ryk paradoks en is geïnspireer deur die gedig Ontsnapping van die gay digter Ernst van Heerden. Deurentyd is die leser bewus van die weerloosheid van persone met LGBTI-identifikasie, veral teenoor die kollektiewe mag van die kerk. Daarteenoor is lesers egter ook bewus van meedoënlose volharding om die saak van gays weer en weer voor die kerk se aandag en gewete te bring.

Weerlose weerstand bied verskeie lae stories:

– Die storie is een belangrike refrein van die NGK se moderne geskiedenis, asook van ’n kerk in stryd met haarself;

– Die persoonlike verhale van gay lidmate se wroe­ging met hulleself, God en die kerk; asook

– Die storie van een persoon se standhoudende toe­wy­ding aan sy oortuigde standpunt oor gay gelowiges en hulle plek in die kerk. Die oorsprong van hierdie oor­tuiging lê in ’n gesprek met ’n gay soldaat tydens die destydse grensoorlog. Op kapelaan Bartlett se vraag oor hoe die homoseksuele man glo God hom sien, antwoord dié: “God dink ek is ’n hond” (p 24).

Rondom bogenoemde hooftemas lees ’n mens verskillende subtekste raak; die eb en vloei van verandering teenoor weerstand-teen-verandering in die NG Kerk, patriargie en mag in die kerk, asook gelowiges se begrip van genade en, vir hierdie leser, ’n (onbewuste) soeke na ’n kollektiewe sondebok.

’n Belangrike bydrae van die boek is die chronologiese tydsverloop van die LGBTI-saak in die kerk wat vir die eerste keer beskryf word en sodoende bepaalde patrone in die ontvouing daarvan blootlê.

Van waarde is die onderskeid wat tussen Skrifinterpretasie en Skrifgesag getref word. By verskeie ondersoeke bevestig beide die ‘behoudende’, sowel as die ‘pro­gressiewe’ groeperinge mekaar se erkenning van Skrifgesag. Dit lees egter asof die behoudende groep hul letterlike Skrifinterpretasie as die morele hoër grond beskou.

Appropriasie is ’n netelige kwessie by alle gesprekke oor diversiteit. Hoeveel mag ’n bevoordeelde namens benadeeldes praat? Randfigure kry selde geleentheid om namens hulleself te praat. ’n Groot persentasie van die LGBTI-groepering het natuurlik al lank die kerk hul rug toegedraai. Daar is egter nog diegene wat soos Jakob aan die kerk sê: “Ek sal jou nie los voordat jy my nie geseën het nie” (p 302).

Ter wille van hulle is hierdie boek van pro­tes, geskryf deur ’n hoofstroomfiguur, on­ont­beerlik.

Hanna Kotze is ’n kliniese maatskaplike wer­ker van Port Elizabeth.