Kerkbode wil die Here en die kerk dien

“Jesus is die Here.”

Dit is die belydenis waarmee ek die heel eerste hoofartikel begin het wat ek in Januarie 2014 as nuwe redakteur vir Kerkbode ge­skryf het. Dit was die uitgangspunt toe, dit was deur­lopend die afgelope vier jaar die uitgangspunt, en dit is steeds die uitgangspunt van Kerkbode.

Hierdie Here se stem roep steeds: “Volg my!”

Vir Kerkbode beteken dit in praktyk dat ons besondere klem plaas op missionaliteit. Ons vertel graag die verhale wat in die NG Kerk afspeel waar God se genade deur sy mense na die wêreld toe ­vloei. Ons doen dit as ’n getuienis van hoe God deur sy men­se stukkende plekke en stukkende mense in hier­­die wêreld heel maak.

Ons doen dit verder om vir die kerk modelle voor te hou van wat gedoen kan word. Ons hoop dat dit kan help dat mense binne die kerk van mekaar kan leer, dat mense kan sien wie is reeds besig op ’n terrein waar hulle wil waag sodat hulle daar kan gaan kers opsteek. Almal hoef nie die wiel van voor af te ontwerp nie.

Ons doen dit ook om as inspirasie te dien vir ander in die kerk. As mense lees hoe gewone gemeentes en gewone lidmate in hulle navolging van Christus daadwerklik ’n verskil in hulle omgewing maak, gee dit hopelik vir ander moed om dit ook te doen.

Naas hierdie hooffokus op missionale kerkwees, dra Kerkbode ook (tipies op bladsy 3 tot 5) nuusberigte oor ’n verskeidenheid sake in die kerklike lewe. Daar is ook ruimtes soos rubrieke en briewe waar mense hulle eie perspektiewe kan deel.

In ’n diep verdeelde kerk soos die NG Kerk is dit soms moeilik om ’n koerant uit te gee. Die strewe is egter om billik te bly en die kerk te dien.

Vir sy lesers vra Kerkbode om geduldig te wees as hulle iets lees waarvan hulle nie hou nie. Onthou daar is mense in die kerk wat anders dink as jy. Kerk­bode is hulle koerant ook.

Kerkbode self stel perspektiewe in die hoofartikel. Wat daar staan, is nie die stem van die NG Kerk nie. Dit is ’n stem, ’n lojale stem, binne die kerk. Dis ’n stem waarmee ’n mens kan saamstem of kan verskil, maar dit is ’n stem wat die kerk wil help.

Soos by enige koerant is die redakteur ’n mens met sterk- en swakpunte en met eie menings. Enige joernalis leer egter gou die kuns aan – en dit is ’n kuns – om nie sy eie sienings en perspektiewe voor­op te stel as daar oor ander se sienings berig word nie. Maar daar is ook ruimtes, soos die hoofartikel, waar die redakteur perspektiewe en standpunte formuleer. Dit is sy werk.

Laastens: Kerkbode verskyn nou in gedrukte en elektroniese formaat. Dit is twee perde wat nie atyd mooi in gelid draf nie. Wees asseblief geduldig met ons terwyl ons die beste vorm van kommunikasie vir die kerk probeer vind.