Ladismith trakteer plaaskinders op Kerspartytjie

Sowat 130 kinders wat andersins geen behoorlike Kerspartytjie sou hê nie, is einde verlede jaar deur die NG gemeente Ladismith in die Klein-Karoo bederf met ’n fliekoggend, worsbroodjies en koeldrank en ander lekker eetgoed en die kosbare geskenk van ’n eie kombers.

Die kinders is meestal die kinders van plaaswerkers en kom uit arm omstandighede, vertel Andrew Viljoen, die gemeente se jeugwerker. Hy het na die fliek ook ’n kort boodskap gebring waarin hy die waardes uit die fliek beklemtoon het.

Dit is nou al die derde jaar dat Ladismith op dié ma­nier uitreik na die armstes in hulle omgewing.

Annamarie Rall, koshuismoeder en lidmaat van die gemeente, vertel die gedagte van so ’n Kersfeespartytjie vir arm kinders het by haar ontstaan toe sy ’n klaargebreide teddiebeer gesien het. Sy het dames in die plaaslike ouetehuis en ander lidmate gevra om te help en hul­le het begin om almal teddiebere te brei. Dit is vir die meisies as geskenke gegee. Die seuns het albasters gekry.

Dit was maande se werk om alles te reël. Kinders kon op springkastele baljaar, daar was hansworse en selfs ’n brandweerwa het ’n draai kom maak. Die vreug­de wat uit die blink ogies ge­straal het, het alles die moeite werd gemaak.

Hulle het egter besef hul­le moet bietjie afskaal as hul­le die Kerspartytjie ’n jaar­likse instelling wil maak. Daarom is daar die vol­gen­de twee jaar ’n fliekoggend gehou wat steeds op ’n heerlike Kerspartytjie uitgeloop het. En die komberse was klaarblyklik ’n treffer. “Nog nooit is ’n kombersie so styf teen ’n kinderlyfie vasgedruk nie,” sê Annemarie.

Vir haar is dit baie lekker om kinderharte bly te maak. Sy sê dis ook bemoedigend om te sien hoeveel mense bereid is om vir ander iets te doen. Dit was ’n regte spanpoging.