Rock-ikone hou ‘missionale eredienste’

Die Ierse rockgroep U2 het in hulle 41ste bestaansjaar in 2017 ’n konserttoer deur 40 stede onderneem ter  viering van die uitreiking van hul album The Joshua Tree. Dié album is 30 jaar tevore in 1987 uitgereik. Francois Mulder, ’n predikant van die NG gemeente Blanco in George, vertel van sy belewenisse met die bywoning van twee van dié konserte in Texas in die VSA.


“So wat was die hoogtepunt van jou Texas-trippie?” vra iemand my onlangs.

“Die drie eredienste wat ek bygewoon het saam met 160 300 mense,” antwoord ek.

Die eerste een in die All Saints Dallas Anglikaanse kerk was iets besonders om te beleef. Dit was hulle tweede erediens wat deur 300 gemeentelede bygewoon is. Mense van verskillende agtergronde en spiri­tualiteite word met drie s-woorde saamgesnoer: Scriptures (die Woord), Sacraments (Doop en Nagmaal) en Spirit (Heilige Gees).

Hulle preek die Woord soos Gereformeerdes, beoefen die sakramente soos liturgiese Anglikane en inkorporeer die gawes van die Gees soos Charismate.

Hulle musiekspan is ook besig met ’n missionale musiekprojek, Liturgical Folk, waarin Ryan Flanigan liturgiese gedigte van Nelson Koscheski toonset vir gemeentesang en uitreikkonserte na die gemeenskap.

Die tweede en derde erediens-hoogtepunte van my besoek aan die VSA vind plaas in Amerikaanse voetbalstadions met 80 000 sitplekke elk. Die predikers is U2 en hul missionaal-uitdagende liturgie staan bekend as The Joshua Tree.

Die akteur Jared Leto verklaar op 12 November 2017 by MTV se EMA-toekennings: “U2 changed my life. ‘The Joshua Tree’ became the soundtrack of my youth. U2 is not just a band, it’s a way of life. Their songs are prayers, their shows are a church.

As jy my sou kon dwing om vir die res van my lewe net één musiekalbum te luister, dan kies ek U2 se 1987-meesterstuk. Terugskouend was hul belydenis-en-soeke-lied op dié album – I still haven’t found what I’m looking for – een van die redes waarom ek ’n predikant geword het.

Joshua Tree

Maar hoekom heet die album The Joshua Tree en nie The Two Americas soos die werkstitel was nie? Fotograaf Anton Corbijn het met die voorstel gekom van omslagfoto’s wat by Zabriskie Point in die Joshua Tree-nasionale park in die Mojave-woestyn afgeneem moet word. Dis slegs in hierdie omgewing waar die Josuaboom (Yucca brevifolia) voorkom. Die boom se unieke vorm het ’n groep setlaars wat in die middel negen­tiende eeu deur dié woestyn getrek het, laat dink aan die Bybelse verhaal waar Josua sy arms in gebed oplig na God in die woestyn.

Die vier figure van die groep U2 word verdwerg deur die groot Josuaboom agter hulle op die verhoog. Die foto is geneem aan die begin van hul lied Where the streets have no name.

U2 se album reflekteer ’n diep geestelike dors en ’n worsteling tussen hoop en wanhoop, liefde en haat. Die Josuaboom in die dorre woestyn wat murmureer maar tog vasbyt, oorleef en floreer in ’n gebedshou­ding tot God, is die beeld wat hierdie 11 liedgebede uit 1987 perfek opsom. Vasgevang in woestynsand maar groeiend na die hemel.

Die 2017-vertonings in Houston en Dallas is nostalgies, ja, maar vuishou-relevant. Tegnologies is hierdie vertonings van U2 uniek. Dit is die grootste, mees gevorderde videoskerm wat al ooit gebruik is vir ’n musiektoer.

Beide konserte in Texas begin met ’n aantal pre-Joshua Tree liedere as opwarming vir die hoofdis op die spyskaart. Die anti-geweld-lied Sunday bloody Sunday uit 1983 is die votum van die konsert met die orkeslede wat elkeen alleen, een vir een instap op ’n verhoog wat in die middel van die skare in die vorm van ’n Josuaboom lê. Dié lied is veral ná die aanval, twee dae tevore in Manchester, tydens Ariana Grande se konsert, uiters relevant. Die woorde vertel van “the victory Jesus won on a Sunday”. In die middel van die lied skreeu Bono teenoor die skare: “We’re so sick of it! No more! No war!” In daardie oomblik besef ek op­nuut die krag en relevansie van protesmusiek.

Aan die einde van hul 1985-proteslied Pride vertoon Martin Luther King se beroemde “I have a dream”-toespraak op die grootskerm. Bono wonder hardop of die Amerikaanse droom dalk dood is. Dan verklaar hy: “Not in Texas! Not tonight! Maybe the dream wants us to wake up!”

Die vier lede van U2 kom staan langs mekaar en groet die juigende skare. Dan stap hulle na die hoofverhoog en neem stelling in by ’n swart Josuaboom van 20 meter hoog. Bono lig sy regterarm op met ’n koordlose mikrofoon in sy hand. Vir ’n paar sekondes staan die vier vriende stil vir ’n nou ikoniese oomblik wat die professionele fotograwe verewig.

En so begin die klanke van Where the streets have no name met die grootskerm wat ons verplaas na ’n teerpad in die woestyn. Vir die res van die lied ry ons stadig op hierdie pad met ’n ryloper of twee waarby ons verbygaan. Dit voel of jy dáár is, ’n opwindende 3D-belewenis. Die lied wil die “gemeente” inspireer om in Jesus-Naam ’n verskil te maak daar waar hoop sterwend is deur mure tussen mense af te breek en liefde uit te deel.

Geloofsbelydenis

“Let’s go to church!” nooi “dominee” Bono die skare uit tydens I still haven’t found what I’m looking for terwyl die grootskerm dosyne Josuabome in die woestyn vertoon. Die lied funksioneer as die “erediens” se rustelose geloofsbelydenis.

Vir With or without you word ons verskuif na Zabriskie Point met die beroemde uitsig oor kleur­volle klowe en heuwels aan die rand van die Swartberge in die Doodsvallei Nasionale park van Kalifornië. Tydens hierdie erediens word nie net liefde vir God besing nie, maar ook die uitdagende toutrek-liefde tussen man en vrou.

Bullet the blue sky waarsku steeds soos destyds op profetiese wyse teen Amerikaanse imperialisme wat uitmond in boeliegedrag en oorlogsbloed. Die wet van die liefde moet die wêreldse wet van oorlog ontwapen.

Deernis en empatie vir heroïen-verslaafdes in Dublin spoel uit die klanke van Running to stand still.

Die stryd van myners en hul gesinne tydens sta­kings in Brittanje van die tagtigerjare word in herinnering geroep in Red Hill mining town gegrond op die boek van Tony Parker (Red Hill: A mining community.)

Die Amerikaanse landskap word briljant geverf in die woorde van In God’s country en die grootskerm word versier met ’n massiewe foto van ’n Josuaboom. Die landskap is pragtig maar ook droog, gevaarlik en haatlik, waarsku die verwysing na die Ku Klux Klan se “burning crosses”.

Moeg en strompelend in die woestyn smag elkeen na die water van lewe. Maar, vra Trip through your wires, is my lugspieëling “Angel or Devil“? Dan is daar versadiging: “I was thirsty and You wet my lips.”

One Tree Hill, die somber ode aan die Kiwi Greg Carroll, U2 se roadie wat in 1986 in ’n motorfietsongeluk dood is, word opgedra aan elkeen wat al beroof is deur die dood. Beelde van inheemse Amerikaners in tradisionele drag deel die skerm met beelde van U2.

’n Dertig sekonde lange videogreep uit die 1950’s se TV-reeks Trackdown stel ons voor aan ’n skurk met die naam “Trump” (nee regtig!) wat almal probeer oortuig dat net hy hulle sal kan red van die einde van die wêreld deur ’n muur te bou. Bono verander met ’n swart cowboyhoed in ’n karakter genaamd “Shadow man” tydens die lied Exit wat volg. Die lied beeld die gedagtes uit van ’n reeksmoordenaar uit die roman The executioner’s song. Ons word gewaarsku en opgeroep om uit die donker te beweeg na die lig. Die lied funksioneer soos die tien gebooie as spieël wat ons dring na Jesus Christus vir verlossing.

Die gesig van Omaima, ’n Siriese vlugteling in die Zataari-vlugtelingkamp in Jordanië, op die groot skerm. Die speel van die onderhoud met haar was deel van ’n verstommende oproep aan Amerikaners om in ’n tyd van laertrek eerder missionaal te dink.

Die album word afgesluit met Mothers of the disappeared, ’n huldeblyk aan moeders in Suid-Amerika wie se kinders as gevolg van brutale diktators in Argentinië en Chili verdwyn het in die tagtigs. ’n Lang ry moeders met kerse op die grootskerm hou wag oor die skare ter afsluiting van die epiese album.

Die encore-gedeelte van die konserte begin met Miss Sarajevo wat destyds opgeneem is saam met Luciano Pavarotti. Tydens die lied speel ’n onderhoud op die grootskerm met ’n vyftienjarige Siriese vlugteling genaamd Omaima. Sy woon in die Zaatari-vlugtelings­kamp in Jordanië. Haar woorde word in Engels as onderskrifte vertoon. Wanneer sy verklaar: “I love America. It’s the place of dreams,” is daar ’n luide toejuiging. Hierdie moment in U2 se “erediens” funksioneer soos ’n oproep tot sending of uitreik na hulle wat swaarkry. Dit is ’n verstommende oproep aan Amerikaners om in ’n tyd van laertrek eerder missionaal te dink.

Ultraviolet (Light my way) word opgedra aan U2 se huweliksmaats asook verskeie vroulike ikone wie se gesigte op die skerm flits. Almal word aangemoedig om “HIStory” te verander in “HERstory“.

Tydens One word ons weer herinner aan ’n verdeelde wêreld waarin ons opgeroep word om mekaar te dra en te verdra. “You just need one thing to agree with somebody on to start a conversation” het Bono die vorige aand op Jimmy Kimmel Live! verklaar.

In Dallas eindig die vertoning as ’t ware in ’n katedraal as “dominee” Bono en sy worship-band die “erediens” afsluit met hul eerste enkelsnit uit 1980, I will follow. Hy moedig almal aan om hul hande op te lig na bo. Hierdie geloofsbelydenis-lied word ’n gebed van oorgawe as Bono sing: “We surrender, surrender to your love. We surrender to the Holy Dove.” En só spreek hy die seën uit oor die skare.

’n Groot deel van die kollekte en offergawes is reeds opgeneem met meer as twee en ’n half miljoen kaartjies wat vir hierdie toer verkoop is. En ons weet ons dollars gaan nie net vir Bono en kie se sakke nie, maar ook vir die talle liefdadigheidsorganisasies wat hulle deur die jare passievol begin het en ondersteun in die stryd teen armoede, vigs, malaria, seksisme en korrupsie.

Die U2-familie/-gemeente keer terug huise en hotelle toe, aangespreek en geïnspireer om ’n 2 000 jaar oue boodskap – verpak in ’n 30 jaar oue album – van geloof, hoop en liefde te gaan uitleef in ’n woestyn-wêreld. Ook daar waar die armste van die armes en weerlooste van weerloses bly in naamlose strate.