’n Belegging in my medemens

In Ceres se omgewing boer Wilhelm de Kock met beleggings in sy medemens. En hulle pluk, wedersyds, ’n besonder goeie opbrengs van mekaar. Daarbenewens boer hy ook met appels en pere. ANNALISE WIID het op die plaas De Eiken met hom en sy kollegas gaan gesels.


Net anderkant die dorp vat ’n mens die Bo-Swaarmoedpad. Kronkel deur skurwe steiltes uit. Byna boDe Eiken op jou regterkant. In ’n holte, styf teen Matroosberg se rug. ’n Laslap van die allerlieflikste, glim-groen boorde. Omring van einde­lose klip.

Wilhelm wag waar die plaaspad vurk. Hy ry gou vooruit, sê hy, want die plaas se kore wil graag vir my sing. By die saal sit hulle reeds oorgehaal op die stoep: Almal in wit T-hemde en hoedjies. Terwyl ons eers ’n bietjie koek-en-koeldrank, vertel die vroue: “Nee, ons werk nie in die pakstoor nie – ons vrugte word Ceres Fruit Growers toe gery daarvoor. Ons werk in die boorde. Snoei bome. Pluk. Ons werk vinnig, goed, partykeer onder die manne uit! Doen ook kwaliteitbeheer. Ja, die droogte is kwaai. Op ’n kol het ons gedink ons gaan nie vanjaar veel van ’n oes hê nie. Maar die vrugte vorm nou mooi. Ons het hoop. En ons bid en werk vir die beste.”

Ons. Eienaarskap. Dis húlle plaas ook.

In een deel van die saal word skoolgehou vir die plaaskinders. Die kore sing langsaan vir my, in die agterste deel wat Wilhelm aangebou het en weer wil vergroot – want 12 omliggende plase se mense kom Sondae soontoe vir kerk.

Die koor se eerste note gee my onmiddellik hoen­dervleis! Sterk, helder stemme: Before the world began, you were on his mind … Eers sing net die vrouekoor. Ook hulle Xabara!-liedjie. Loslit. Lekker. Daarna die gemengde koor. Weer ’n gewyde lied: Ek het U lief, Heer. Innig. Dan val die manne weg met Sê vir jou ma ek is die man in jou lewe. Waarop die vroue weerklank: Ag, Ma, gee hom ’n kans; nee, Ma, hy’s glad nie so sleg nie. Dinge sal regkom, solank ek hom net kan liefhê

Die manne sit en luister terwyl die vrouekoor sing. Die “Nuts” in “Nuts for Jesus” agterop hulle hoedjies en T-hemde staan vir Never Underestimate The Spirit.

Later, na verskeie ge­sprek­ke, besef ek: Dít, hierdie inge­steld­heid van “regkom met die liefde”, is in elke hart-grond op hierdie plaas ingespit.

Vanessa Kruger (36) is nou vyf jaar op De Eiken. Sy, haar man en twee seuns, het hierheen gekom “vir ’n beter toekoms – geestelik en finansieel”.

Wat vir haar uitstaan hier?

“Maandae begin ons die week met godsdiens. Ons luister saam na die Woord voor invaltyd. Dit vorm ons. Woensdae ook. Vrydae sluit ons weer die week so af ook, dan met ’n broodjie en koffie daarby. Seisoentyd kom hier mos plukkers wat nie kos het nie.”

“Hier word omgesien na die werkers se behoeftes. Jy’s nie net ’n ‘pay-nommer’ nie. Hier is respek. Meneer Wilhelm ken elkeen op sy naam. Selfs die seisoenwerkers. Hy voel nie soos ’n werkgewer nie, hy is ons mentor. Sy kantoordeur staan oop vir ons. Maak nie saak watter probleem jy het nie, jy kan met hom kom praat. En as hy nie self kan help nie, sal hy vir jou iemand soek wat jou kan help.”

Vanessa het haar NQF4-kwalifikasie hier op De Eiken kom kry. Afstandsonderrig. “Ek en my man albei. Ons het baie ingesit.” Twee jaar later “het Meneer vir my die pos van assistent-produksiebestuurder aangebied. Ek moes plaagbeheer hanteer. Het baie geleer!” Sedert Julie 2017 is Vanessa produksiebestuur­der. Vertroue groei twee kante toe.

Daar word skoolgehou in die voorste gedeelte van die saal, terwyl die koor in die aangeboude gedeelte langsaan sing.

“Ek werk hard. Ek wil tog nie vir Meneer teleurstel nie. ’n Mens raak eintlik hartseer as jy sien wat jy hier op De Eiken het. My kinders vorder. Ons voel veilig hier. Een ding van hier werk: Jy moet belangstel in die plaas se aktiwiteite. Jy word nie geforseer nie. Maar dis goed om betrokke te wees. By die rugbyspan. Of by die koor, byvoorbeeld.”

Hulle was al die algehele wenner van die ATKV se plaaskoorkompetisie. “Die koor is baie lekker. Ons bid saam, praat oor ons dag … En as ons eers begin sing, die atmosfeer … Mens vergeet van als wat sleg is, jy besef daar’s groter dinge …”

Van hangovers na gebedsgroepleier

Freddie Skippers (55) is die koorbestuurder. Ook voor­sitter van De Eiken-skool se beheerraad en president van Bo-Swaarmoed se Puma-rugbyklub.

Hy het nie dadelik in die koor begin sing toe hy in 2007 De Eiken toe gekom het nie. “Ek was toe nog ’n afgedwaalde skapie. Maar toe ek hulle die eerste keer hoor sing, het ek myself in daai koor gesien. Nooit gedink ek sou eendag hulle leier word nie. Ons oefen nou vir die Suidoosterfees. Ons het in Februarie ’n slypskool.”

Freddie, voorheen voorman by die Witzenberg-munisipaliteit en nou spuitoperateur op De Eiken, is van sy eerste vrou en vier kinders geskei weens sy drankmisbruik. De Eiken het hom ’n tweede kans en ’n nuwe lewe gegee. “Hier is ander aktiwiteite waaruit ek genot kan put. Met die koor, byvoorbeeld. Dit het ’n groot impak op mense se lewe. Mens sing ’n boodskap …”

Vanessa en Freddie Kruger met twee van die verskeie trofeë wat die koor al ingepalm het.

Daar is ’n reël: Niemand mag onder die invloed van alkohol sing nie. Maar, sou jy ’n drinker wees, en kom aansluit, word jy nie weggewys nie. Jy word gehelp. Die koor word jou ondersteuningsgroep. Hulle help jou oor die bult.”

Van reëls gepraat, Freddie sê: “Goeie reëls help almal. Die plaas. Die land ook. En ’n leier moet regloop. Vir dié wat agter jou aankom. Meneer Wilhelm – dié man tel my op! Hy is baie ondersteunend.”

Wilhelm is Freddie se mentor. En Freddie mentor weer ander: “Ek motiveer die jongmanne, sê vir hulle: Bly binne jou raampie; dis regtig nie so moeilik nie; kyk mooi – hy’t ’n silwer randjie.” Freddie waardeer die silwer raam. Hy val met ’n glimlag in op ’n Maan­dag­oggend. “Dit is lekker om te gaan werk sonder ’n hangover. Ek staan nou op ’n goeie plek.”

Hoe doen Wilhelm de Kock dit? Reëls en dissipline is belangrik, ja. Maar mense is vir hom nóg belangri­ker. “Ek wou graag iets doen om my mense uit die gat te kry – almal was drinkers. Ek het ’n kleintjie langs haar bewusteloos besope ma sien lê. ’n Kultuur van ge­weld­dadige verhoudings; mens-misbruik; verkrag­ting …”

Hoër lone en beter behuising het nie gehelp nie. “Toe drink hulle net duurder drank. En ek besef: Kosmetiese veranderinge is nie voldoende nie; hulle hele kultuur moet verander.”

Nadat hy Rick Warren se Purpose driven life by Ceres Moedergemeente deurloop het, het Wilhelm meer as ooit geweet: “My mense is mý verantwoordelikheid.”

Hy doen toe met hulle ook Purpose driven life. Vir 40 dae, 20 minute soggens. Voor werk. Vrywillige deelname dus. “Ons het in die winter begin, onder ’n oop afdak. Byna almal het gekom. En ek het net weer gesien: Don’t judge someone on face value. Krap net die roof af, en jy sal sien watter potensiaal die Here in daai mens gesit het.”

Hierna het werkers meer openlik met Wilhelm oor persoonlike probleme begin praat. Aanvanklik was hy uit sy diepte: “Toe die eer­ste drie vroue oor die laaiblad aangeloop kom en sê ‘Meneer moet ons help’, het dit gevoel of iemand my trip switch afgesit het! Maar al drie het daai dag in my kantoor tot bekering gekom.” En mettertyd het die werkers se kultuur, hulle leefstyl, totaal veran­der. Drinkers en daggarokers voel nou eenvou­dig nie meer tuis daar nie.

“Vat nou maar vir Jeffrey. Toe hy hier kom werk soek, bel ek sy vorige werkgewer. Dié sê vir my: ‘O nee, Jeffrey-geduld is bo-menslike geduld!’ Maar Jeffrey, ’n volslae alkoholis, het vir my gevra: ‘Meneer, gee my ’n kans, stap die pad saam met my, ek wil verander.’ Vandag lei hy ons gebedsgroep. Werk hy as betroubare toesighouer.”

Wilhelm vertel storie na storie van verandering en groei. Sy eie groei ook. Hy is voorsitter en koördineerder van Patmos Inter­kerklike Arbeidsbediening, wat in 1995 in die Bo-Swaarmoed-om­gewing ontstaan het. En sedertdien so uitgebrei het, dat hulle 12 000 mense met die evangelie­bood­skap bedien. Deurlopend. In verskeie streke: die Weskus, Hantam, Koue- en Warm Bokkeveld, Sand­veld, Noord-Kaap. Elk met sy eie pastor.

Dina Prins, ’n koorlid, voor haar netjiese huis met die mooie roostuin en Matroosberg op die agtergrond.

Cecil de Kock, (nie familie van Wilhelm nie), die Patmos-pastor van Bo-Swaarmoed, sê: “As ek met die grondpad hier by De Ei­ken inry, voel dit of ek afsak in ’n poel vrede.” Cecil doen berading, Bybelstudies, bidure, huis- en sie­ke­besoeke. Hou kerk. Kampe. En veel meer.

Hy en Wilhelm reik met die plaasarbeiders uit na minder be­voorregtes. So ver as Graafwater en die Steinthal-kinderhuis op Tulbagh. “Ons het lank gedink oor hoe ons ons mense kan help om vir ander goed te wees sonder dat hulle hoef te praat. Nou gaan deel hulle, onder andere, lekkergoed uit op omliggende dorpe. Elke lekkertjie is vasgemaak aan ’n papiertjie met ’n Bybelvers en kontaknommers daarop – wat mense kan bel as hulle hulp benodig. Ons kry soms verstommende reaksie daarop. Of ons gaan maak arm mense se huis skoon. Sorg dat hulle kos het; meubels. Bid vir hulle.”

Altyd ingestel op mense se geestelike groei; na beter verhoudings, wyer horisonne. Hulle gaan “ice camp” wintertyd in die Moordenaarskaroo; vlieg met 40 plaaskinders Johannesburg toe; ry met Patmos se 65-sitplekbus vol werkers Hartenbos toe, selfs Swakop­mund toe. Uitsonderlike projekte; sommige daarvan in vennootskap met die ATKV.

Wilhelm de Kock stuit vir niks as die Gees hom iets op die hart lê nie. “Sommige boere sê vir ons nee, dit kos darem te veel geld’, maar ek sien dit as ’n belegging in my mense. Ons lag en huil en bid en eet saam. En ons oes lojaliteit en goeie koninkryk-verhoudings.”

– Vir meer inligting oor Patmos Interkerklike Arbeids­bediening, kontak:

  • Boland / Witzenberg: Wilhelm de Kock (voorsitter) 072 245 3889.
    Cordre Smith (sekretaris): 082 809 2935.
    Weskus / Noord-Kaap: 060 526 5890.