NG Kerk bid vir onderwys

Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, het ’n beroep gedoen om saam met die biddag vir onderwys op 11 Februarie uit te reik na opvoedkundige instansies. Claassen sê talle gemeentes het die gebruik om by dié geleentheid op ’n besondere wyse aandag te gee aan onderwysers en dosente in hulle gemeentes.

Teen die agtergrond van die biddag het Claassen ook die aandag op ’n aantal belang­rike onderwyskwessies geplaas wat tydens die biddag in gedagte gehou kan word.

Hy het die matrieks van 2017 namens die NG Kerk gelukwens met hulle uitslae. Hy sê die matriekuitslae van 2017 het in sekere opsigte duidelike vordering getoon. Die slaagsyfer van 75,1% is ’n verbetering teen 2016 se slaagsyfer van 72,5%. Die ek­sa­menproses is oorwegend goed bestuur. Insidente waartydens vraestelle uitgelek het, soos in vorige jare, het geensins die integriteit van die uitslae negatief beïnvloed nie.

Aanpassings van vakke op- en afwaarts is bykans met die helfte minder as in die verlede gedoen. Byvoorbeeld is geen opwaartse aanpassings van kritiese vakgebiede soos wiskunde, wiskundige geletterdheid en fisiese wetenskap gedoen nie. Meer skole het ’n 100 persent slaagsyfer gehad en minder ’n slaagsyfer van 0-19%.

Townshipskole het besonder goed presteer en getoon dat arm skole ook goeie prestasies kan lewer. Die afstand tussen ryk en arm skole het verklein. Dit is ’n baie positiewe ontwikkeling.

Tog, sê Claassen, is daar nog rede tot kommer. Die vakkennis van party onder­wysers is steeds ’n probleem, soos die slaagsyfer in wiskunde en wetenskap toon. On­derwys is nie gefokus op positiewe uitkomste vir die arbeidsmark nie. Die werkloosheidskoers van Suid-Afrika het deurlopend die afgelope nege jaar gestyg en staan tans op 27,7%.

Daarby gaan die wysigingsontwerp van die Skolewet, indien dit deurgevoer word, min bydra om die gehalte van onderwys te verbeter. Ouers se demokratiese regte word deur die voorgestelde wysigings ernstig benadeel deurdat dit die on­derwys­stelsel wil sentraliseer. Slegs 20% van 23 719 openbare skole funksioneer tans goed. Indien die voorstelle sou slaag kan dit ernstige gevolge hê vir openbare skole.

Claassen sê ook die uitdaging van gratis onderwys skep geweldige probleme vir tersiêre instansies en is ontwrigtend op die hele sisteem. Universiteitsowerhede waarsku teen die onhaalbaarheid daarvan wat broodnodige tersiêre opleiding in duie kan laat stort.