Kom deel in God se oorvloed

Toe ds Fay van Eeden ’n groentetuin op die sy­paadjie voor hulle pastorie aangelê het, het ’n bekommerde buurvrou na haar toe gekom om haar te waarsku. Die mense gaan jou groente steel, het sy gesê.

Maar dis presies wat sy wil hê moet gebeur. Mense moet kom pluk en dit gebruik. Dis juis daar, op die sy­paadjie, vir die mense wat in die straat verbyloop en dit wil gebruik, het Fay verduidelik.

Ds Fay van Eeden tussen die jong spinasieplante in die groentetuin op die sypaadjie voor haar pastorie. Foto: Neels Jackson

En in hierdie stukkie interaksie lê die hart van die saak. Aan die een kant is daar die lewensingesteldheid waarmee die samelewing ons vorm: “Ek” wat “myne” moet beskerm teen “hulle”. Aan die ander kant is daar die evangeliese alternatief van ’n vrygewige lewenstyl wat ander wil help.

Fay vertel dat sy oor die radio gehoor het van so ’n groentetuin vir die mense voor ’n kantoorgebou in Johannesburg. Sy het gedink dit sal wonderlik wees as so iets in haar gemeenskap kan gebeur.

Toe, een jaar op Mandeladag, het sy en van die jong­mense van hulle gemeente (Lynnwood in Pretoria) hulle 67 minute gebruik om die groentetuin op die sy­paadjie te maak. Later het nog ’n groentetuin teen die kerk se heining gevolg. Dis ’n gemeenteprojek, sê sy.

Die eerste keer het hulle spinasie, pampoen en mielies geplant. Die mielies het lank gevat om te groei en toe kom daar iemand en pluk op een dag al 12 mie­liekoppe. En toe is dit verby met die mielies. Die pampoen het ook nie goed gewerk nie.

Maar die spinasie is dankbare plantjies wat op ’n manier ’n vergestalting van die evangelie is: Dit hou net aan om te gee en te gee en te gee. Mense kom en pluk die buitenste blare af en dan maak dit net weer nuwe blare.

Aanvanklik het van die mense wat kom pluk het ook skuldig gereageer as hulle besef sy sien hulle pluk die groente, maar dan het sy vir hulle gaan sê hulle mag maar. Dit is juis vir hulle bedoel. Later het hulle selfs ’n bord opgesit wat mense nooi om van die groente te kom pluk.

Fay sê vir haar gaan dit oor geloof wat prakties uitgeleef word. In Lynnwood wil hulle 24/7-Christene wees, hulle wil lewegewende Christene wees, verdui­de­lik sy. Hulle wil mense aanmoedig om ’n verskil in ander se lewens te maak.

Christina Sithole, wat vir haar ’n sakkie spinasieblare kom pluk het in die groentetuin op die sypaadjie. Foto verskaf

Die groentetuin is ’n klein dingetjie, sê sy, maar daar is mense vir wie dit ’n verskil maak. Dis ook nie ’n ma­nier van help wat ander mense sleg laat voel nie. “Dis daar, dis iets van God se oorvloed, so kom kry vir jou,” som Fay dit op.

As ’n mens, soos Fay, langs die kerk bly, dan klop daar nogal dikwels bedelaars aan jou deur. Nou pluk hulle al self vir hulle kos, vertel sy.

En dis vir haar lekker om te sien as mense kom pluk. Iets van Jesus se woorde in Handelinge 20:35 dat dit ’n mens gelukkiger maak om te gee as om te ont­vang, beleef sy dan.

By dit alles is dit vir die kategese ’n leerervaring. On­langs, toe dit weer tyd was om nuwe groente in te sit, het ’n groep tieners kom help om spinasie en tamaties te plant.

Fay se droom is dat dit sal aansteek, dat meer mense dit sal doen. Dink net as ’n hele gemeenskap dit doen en verskillende groente plant en hulle dan van mekaar se groente kan geniet.