Sal God ‘sy gemeente’ laat doodloop?

Cobus Olivier van Sasolburg skryf:

In ons dorp het twee NG gemeentes die afgelope twee dekades deure gesluit, en ’n derde gemeente sit dikwels met minder as 20 lidmate in ’n erediens.

In beide die twee geslote gemeentes se geboue het Engelse gemeentes oopgemaak. Dalk het die behoefte na die NG Kerk verdwyn, maar prys die Here dat die behoefte na kerk nie verdwyn het nie.

Dit lyk of die NG gemeentes nie die behoefte vir kerk in sy buurt kon bevredig nie. Ek gee toe dat dit tot ’n groot mate ’n taalkwessie is.

Is ’n gemeente se plig nie om wie ook al binne sy geo­grafiese gebied woon, te bedien nie? Of hoef ’n ge­meente slegs ’n sekere groep mense te bedien? Wat ’n voorreg om die evangelie in Afrikaans te kan hoor, maar gee dit my die reg om ander van die evangelie uit te sluit?

As daar genoeg lidmate is sal ons vier Afrikaanse eredienste op ’n Sondag bied, maar ons bied eerder slegs een erediens in Afrikaans as ’n tweede erediens in ’n ander taal. As ons argument is: “Daar is mos ge­noeg Engelse en Sotho-kerke waarnatoe die mense kan gaan”, moet ons nie kla as ons kerk doodloop nie, want soos jy sê “dis ons kerk”, en nie God se kerk nie.

Is dit nie wat al die jongmense wat die kerk verlaat mis nie?

Dan is daar NG gemeentes soos in Bloemfontein wat onder dieselfde omstandighede waaronder ander sluit, uit hul nate bars omrede hulle die mense in hulle wyk bedien sonder voorbehoud.