Leesprojek help kinders ontwikkel

Kerkbode het die uitdaging van Diaconia aanvaar om op 1 Februarie, Wêrelddag vir Hardop Lees, vir ’n groep kinders te gaan lees.

Diaconia, die NG Kerk se diensgroep in Wes-Kaapland, en Nal’ibali, ’n projek wat poog om kinders lief te maak vir lees, het hande gevat en wou vanjaar 1 miljoen kinders met dié hardop lees-uitdaging raak.

By Wagenmakersvallei Primêr, ’n plaasskool in Bo­vlei buite Wellington, het die leerders van graad 1 tot 3 Wêrelddag vir Hardop Lees met ’n “laduma!” begroet.

Conette le Roux, joernalis by Kerkbode, het die voor­gestelde storie, Die laaste minuut, wat oor ’n opwindende sokkerwedstryd gaan, voorgelees. Die storie gaan oor beste maats, Neo en Priya, se sokkerwedstryd teen ’n ander klub. Neo het dalk nie die twee wendoele geskop wat hy wou nie, maar het vir Priya gehelp om die wendoel te skop.

Wagenmakersvallei se leerders het die storie baie geniet en besef duidelik hoe belangrik lees is. Randal Samuels, ’n graad 2-leerder, het gesê hy wíl lees “want dit maak vinnig slim”. Cordea Hendriks, ’n graad 1-leerder, kan weer nie wag om haar Bybel self te lees nie: “Ek wil vinnig leer sodat ek van Jesus kan lees.”

Diaconia wil gemeentes aanmoedig om betrok­ke te raak by vroeëkinderontwikkeling deur leesgroepies in hul­le omgewing te stig. Stuur ’n e-pos na nioma@kaapkerk.co.za om betrokke te raak by dié dinamiese geleentheid wat feitlik ten volle befonds word.