Nico ontdek wonderlike kollegas langs die pad

Toe ds Nico Swart einde verlede jaar sy 30 dae Sabbatsverlof neem en nog ’n klompie dae ander verlof bysit, het hy met sy fiets van Pretoria af tot in Gordonsbaai gery, en toe die Pelgrimstog van Hoop van Kaappunt tot by Kaap Agulhas gaan stap. Hy het vir NEELS JACKSON vertel hoe dit gegaan het.


Nico Swart, 51-jarige predikant van die NG gemeente Skuilkrans in Pretoria, hou van avontuur. Hy het die Iron Man (3,8 km swem, 180 km fietsry en 42 km draf) nou al 12 keer voltooi. Maar hierdie slag, het hy besluit, moes dit nie net oor avontuur gaan nie. Dit moes ’n pelgrimstog wees. En dit was.

Een van die aspekte van die reis waaroor sy opge­won­denheid oorborrel, is die kollegas wat hy langs die pad ontmoet het en wat hom eindeloos verryk en geïn­spireer het.

In sy beplanning van die fietsrit het hy NG dominees langs die pad gebel, vertel van sy planne en gevra of hulle vir hom een nag se slaap­plek kan reël. En die reaksie was baie goed, vertel Nico. Baie was nie mense wat hy voor­af geken het nie. Hy het hul­­le letterlik eers ontmoet as hy by hulle aangekom het.

Maar hoe het hulle hom nie met gasvryheid oorlaai nie.

Nico vertel hy het 11 dae lank fiets gery. Alleen. Net hy en sy fiets en die absolute minimum bagasie. Op ’n tipiese dag sou hy teen halfses die oggend begin ry en na so 130 of 140 km teen middag­ete by sy oornagdorp aankom. Nie net is hy daar be­derf met lek­ker kos nie, maar hy het verskriklik lekker met die dominees gekuier. Binne ’n paar uur het vreemdelinge vriende geword.

Hy vertel hoe ds Manus Duminy van Victoria-Wes hom rondgewys het. Hy ken die dorp so goed, hy ken selfs die honde se name.

Op Beaufort-Wes het hy vir René Potgieter leer ken en iets van haar bediening gesien. Haar visie en volharding het ’n groot indruk op hom gemaak.

En op Laingsburg het hy met ds Mias Nortier ge­kuier. Hy is ’n jong dominee, maar hy het so ’n koninkryksvisie, sê Nico.

En so het dit van dorp tot dorp gegaan, van dominee tot dominee. Tot waar dr Jannie le Roux van Gordonsbaai hom ontvang het en vir hom ’n kers gegee het. Vir Nico was dié kontak met kollegas ’n inspirasie en ’n versterking.

Ook toe hy die Pelgrimstog van Hoop gestap het, was daar telkens mense wat sy pad gekruis het en ’n indruk op hom gemaak het. Soos Vishoek se Visvoete. Dis die gemeente se stapklub saam met wie hy gekuier het. Hy vertel hoe hulle die berge ken en die omge­wing versorg. “Dis my mense,” was sy gevoel.

Dr Danie Nel van Wynberg het saam met Nico oor Tafelberg gestap. By Danie het Nico die verhaal gehoor van Wynberg se soeke na eenheid. Dit het hom diep geraak en hulle het saam gebid.

Nico aan die stap op die strand tydens die Pelgrimstog van Hoop.

In Kaapstad het hy die Reformasiefees saam met die Lutherse kerk bygewoon. Die multikulturele diens was ook ’n hoogtepunt.

Dit was een van die geleenthede waar hy kontak gemaak het met ander kerke. Nog so een was op Genadendal waar die Morawiese Kerk, daardie voorlopers van die kerkhervorming van ’n halwe millennium gelede, hulle sendingwerk in Suid-Afrika begin het.

En op Volmoed naby Hermanus was daar prof John de Gruchy en die bejaarde maar steeds joviale aartsbiskop Desmond Tutu wat hom verwonder het aan Nico se kuite.

Naby Stellenbosch het hy by ds Marié Britz en haar man oorgebly. Hy vertel van haar video’s oor mense wat God in die stilte ontmoet het. Marié se woorde bly hom by: “Stilte is die poort na jou siel en die siel is die poort na God.”

Stilte was ’n belangrike deel van Nico se pelgrims­tog. Tydens sy staptog, vertel hy, het hy elke 5 km vir ’n rukkie gaan sit. “Jy val in die stilte in,” vertel hy. Dit het vir hom ’n geweldige stuk vrede gebring. Dit het gelei tot tevredenheid. Hy kon sien dat God ’n god van oorvloed is uit Wie genade op genade vloei.

Hy het hulpmiddels gebruik soos die app Pray as you go en die Keltiese gebedeboek, want hy wou God beleef in die stilte en die natuur. Terwyl hy getrap en gestap het, het hy elke dag die Onse Vader gesing, sommer so op sy eie wysie.

Naby Gansbaai, waar sy pa gebore is, het hy ook plekke gevind waar sy voorvaders gebly het. Op dié manier het Nico ook van sy eie wortels tydens die pelgrimstog ontdek.

As hy terugkyk op die hele ervaring, het hy op­nuut in kontak gekom met homself, met sy liefde vir avontuur, kontak gemaak met interessante men­se, weer na­by aan God gekom, in kontak gekom met die natuur.

By die einde van die pelgrimstog by Kaap Agulhas, het ds Franziska Andrag-Meyer van Suidpunt-ge­meen­te vir Nico ingewag. Daar het hulle saam Nkosi Sikelel’ iAfrika gesing, vertel hy, en vra: “Wat kan beter wees as ’n visie? Ek is hier om hoop te gee vir Afrika.”