Wat gaan die kerk doen?

Coligny in Noordwes het verlede jaar deur diep trauma gegaan met oproer wat dele van die dorp verwoes het. Vir ds Tewie Pieters van Coligny-Oos was dit die begin van ’n reis wat hom ’n baie ryker mens gemaak het. Hy het die storie vir Neels Jackson vertel.


Wat gaan die kerk doen?”

Dit was die vraag wat ds Tewie Pie­ters van Coligny-Oos tot stilstand geruk het nadat dié dorp einde April en begin Mei ver­lede jaar onder onrus en plundery deurgeloop het.

Dit was ’n chaotiese tyd. ’n Swart kind, Mathlomola Moshoeu, is dood. In die wit gemeenskap word gesê hy is betrap waar hy ’n boer se sonneblomme gesteel het. Hy is op ’n bakkie gelaai om hom polisie toe te neem, toe spring hy af en breek sy nek. In die swart ge­meenskap is gesê hy is deur die boere vermoor.

Mense uit die township Thlabologang en die plakkerbuurt Skotland het die dorp ingevaar, klippe gegooi, huise en winkels geplunder en afgebrand. Dae lank het dié chaos voortgeduur.

Daar was regse groepe wat opgeruk het Coligny toe. Tewie vertel dat hulle al hulle dae gehad het om dié groepe uit die dorp uit te hou. Intussen het hulle sagte teikens, soos die ouetehuis op die dorp beveilig. Daar was ’n gebedsgroep wat elke dag gebid het. “Ge­bed was ’n sleutelding,” merk Tewie op.

Maar verder het hulle gestaan en kyk hoe hulle dorp vernietig word. Die polisie was daar, maar dit het gelyk of hulle niks wou doen om die verwoesting te keer nie.

In een stadium, vertel Tewie, het hulle gestaan en kyk hoe ’n paar belhamels vragmotors aan die brand probeer steek. Hulle het probeer en probeer, maar kon dit nie laat vlam vat nie. Na ’n lang gesukkel het hulle dit tog reggekry. En toe gaan daar miljoene rande in vlamme op. Nie net in die koste van die vragmotors self nie, maar ook in die opbrengs van ’n vervoerbesigheid wat verlore was.

En te midde van alles kom vra mense vir Tewie: “Wat gaan die kerk doen?”

Ds Tewie Pieters in een van die huise wat tydens die oproer in Coligny verwoes is. Groot dele van die dorp se hoofstraat is so herstel dat ’n mens nie meer die tekens van verwoesting kan sien nie.

En hy het nie ’n antwoord gehad nie. Want terwyl sy agtergrond hom deur die jare presies voorberei het vir dié soort situasie, het dit aan die ander kant hom totaal onvoorbereid gelaat.

Dit was in 1985 dat Tewie Pieterse sy teologiese studie voltooi het en hy deur die kerk beroepbaar ge­stel is. Altesame 27 jaar lank was hy beroepbaar sonder dat hy beroep is. Deur dit alles het hy lief gebly vir die kerk, maar tog gevoel die kerk dink hy is nie goed genoeg nie.

In kerktaal was hy beroepafwagtend, maar hy kon nie die heeltyd op sy hande sit en wag nie. Daarom het hy begin boer. Twintig jaar lank het hy redelik groot geboer, vertel Tewie. Hy het 1 200 hektaar geplant. Tabak, sonneblom, mielies, soja, katoen, rissies.

Daarby het hy ook 27 jaar lank ’n mynboumaatskappy bedryf. Hulle het mynventilasie gedoen, tonnels geskiet, dakke versterk. Dit alles het vir Tewie ’n klomp vaardighede geleer, soos om te onderhandel, wat later op Coligny handig te pas sou kom.

Deur dit alles het hy by die kerk betrokke gebly. In ’n stadium het hy as ouderling op die Noordelike Sinode se sinodale diensraad gedien. Maar hy het swaar gekry met dominees, vertel hy.

Agt jaar lank het hy sonder betaling gewerk in gemeentes wat in die moeilikheid was. Hy het selfs in gemeentes van die Hervormde Kerk en die APK gehelp, maar meestal was dit NG gemeentes.

Hy sou Sondae preek en Vrydae huisbesoek doen.

Eerw Kenneth Gagane van die Episkopaalse kerk vertel van die kerke se samewerking in Coligny. Op die agtergrond is ds Tewie Pieters.

In Rustenburg se moedergemeente het hy begin werk toe dié gemeente baie swaar gekry het. Eers was dit as proponent, en toe, na ’n jaar, word hy ’n dominee. Maar toe die gemeente na drie jaar waarin hy hard gewerk het uiteindelik sterk genoeg is om te beroep, toe kies hulle iemand anders. En Tewie word weer ’n proponent.

Later het hy as brugpredikant in Coligny se moe­dergemeente gedien. Vrydae se huisbesoek het vir hom oor verhoudings gegaan. Hy het dit gesien as ’n geestelike reis waarop hy lidmate vergesel. Mense moes verstaan hoekom hulle in die kerk is, dat hulle werk het om te doen.

In 2010 het hy in Coligny-Oos begin preek. Weer sonder betaling, as tentmaker. En toe, in 2012, word hy beroep.

Tewie vertel dat sy agtergrond by militêre inligting tydens sy diensplig en daarna hom geleer het dat jy, as jy op ’n nuwe plek kom, verhoudinge smee om inlig­ting oor dié plek te kan insamel. Daarom het hy op Co­ligny vriende gemaak met konstabel Happy Masibi, die polisiekantoor se man vir gemeenskapsverhou­dinge.

By hom het hy gehoor dat daar baie probleme is onder die jeug op Coligny. Die konstabel wou ’n straatkerk vir jongmense begin. Tewie het hom gehelp met stoele vir sy kerk en ook daar gaan preek.

Hulle gemeente het ook die VGK-predikant se salaris betaal en Tewie het gaan help om die dominee se huis se dak te herstel. Daarby het die gemeente twee sendelinge in Mosambiek ondersteun.

Ten spyte van dié soort betrokkenheid in swart gemeenskappe, was Tewie in ’n sin heeltemal onvoorbereid toe die hel op Coligny losbars en mense vra: “Wat gaan die kerk doen?”

Dit was hulp op ’n afstand, sê Tewie. Van die moeilike goed soos versoening het hy niks gedoen nie. En die armoedeverligting wat hulle gedoen het, was net in die wit gemeenskap.

En sy eie gesindheid was nie reg nie. Sy eie ervaring in die mynbou en landbou was dat daar onbillike eise gestel word. Boonop is hy deur die jare 36 keer besteel. Dit het hom bevooroordeeld gemaak teenoor swart mense. Hy wou niks met hulle te doen hê nie. Om iets van sy eie gesindheid te weerspieël, vertel hy dat hy die begrafnis van die AWB-leier Eugene Terre’blanche bygewoon het.

Mentors

En toe kom die vraag van verskillende kante af: “Wat gaan die kerk doen?”

In hierdie tyd was daar twee mentors wat vir Tewie gehelp het.

Die een was Flip Buys, die leier van Solidariteit. Hy vertel hoe hy en Buys gesels het oor die pad vorentoe. Buys het vir hom gesê die politici het beheer verloor. Die kerk moet nou toetree. Hulle moet verhoudings bou en die kommunikasiekanale oopkry.

Ds Tewie Pieters kuier saam met twee van die jeugleiers in Thlabologang. Links sit Godwin Swartz en regs is Lebo Se­natla.

Die ander was biskop Paul Verryn van die Metodistekerk. Vir hom het Tewie ontmoet toe hy en ds Johan Brink, moderator van Sinode Goudland, midde in die krisis Lichtenburg toe is vir ’n vergadering. Verryn, met die groot geloofwaardigheid wat hy al sedert die struggle-jare in die swart gemeenskap opgebou het, het die vergadering gelei.

By dié vergadering het die premier van Noordwes die kerke gevra om te help. Hulle sou by mense se harte kon uitkom, het hy gesê.

Daar kies hulle toe ’n komitee van 40 mense uit Coligny en Thlabologang om versoening in die gemeenskap te fasiliteer. Die binnekring was die kerkleiers en saam met vennote is ’n reeks projekte aangepak wat ’n groot verandering bewerkstellig het.

Vir Tewie was dit die begin van ’n nuwe reis. Hy het baie broers en susters in Thlabologang ontdek wat hy nie geken het nie. “Watter ongelooflike Christene leef langs ons,” merk hy op, en voeg by: “Misdaad het vir my oogklappe opgesit.”

Saam het hierdie medegelowiges ’n span gevorm wat gehelp het om Coligny te verander. Hulle het tel­kens in kerke vergader. Dit is neutrale grond.

En ’n rits projekte het saam met ander vennote vorm aangeneem.

Nedbank het leierskapsopleiding van mense in Thlabologang kom doen en die kerkleiers het die proses op die spoor gesit.

Hulle het in die gemeenskap, onder meer by skoolhoofde, gaan vra wat die probleme is waarmee hulle sukkel. Een groot probleem was dat baie kinders nie geboortesertifikate het nie. Dit het gevolge soos dat daar nie subsidie vir sulke kinders is nie, dat voedselprogramme nie vir hulle voorsiening maak nie en dat daar nie maatskaplike toelaes vir hulle betaal word nie.

Daarna is reëlings getref dat die Departement van Binnelandse Sake sou kom om hiermee te help. Die skole sou intussen die nodige inligting oor die kinders bymekaar kry.

Nog ’n probleem was die gebrek aan water vir die mense van Skotland. Dit is ’n informele nedersetting waar mense gevestig is sonder dat daar infrastruktuur voorsien is. Daar is begin om water aan te ry en kort voor lank is daar 40 000 liter water per dag gelewer. Boonop is planne gemaak om met die hulp van Agri SA te boor vir meer water.

Mediese sorg was nog ’n kopseer, maar Verryn het met die Departement van Gesondheid gereël om ’n mobiele kliniek na die gemeenskap toe te bring.

Ander projekte het aan die gang gekom, nog ander word beplan en daar is drome van ’n nuwe toekoms op Coligny.

Familie

“Ons en 10 gemeentes in Thlabologang het familie geword,” verklaar Tewie. “Ons maak ’n verskil. Daar het rustigheid gekom.”

Daar was die tyd toe Coligny heel voor was met brand. Maar ’n paar maande later, toe ander dorpe brand, toe is daar geen insident op Coligny nie, sê Tewie.

Lebo Senatla en Godwin Swartz is jeugleiers uit Thlabologang wat saam met Tewie in die Vredesforum werk. Hulle is jonk, entoesiasties en vol planne om Coligny ’n beter en vreedsame plek vir al die inwoners te maak.

Vir hulle het Tewie ’n mentor en inspirasie geword. “Wow,” sê Godwin as ’n mens hom oor Tewie vra. “Hy speel so ’n groot rol.” En hulle vertel hoe hulle ’n by­een­koms vir Jeugdag gereël het en dat die spyseniers hulle in die steek gelaat het. Maar ds Tewie het hulle gehelp en die dag was ’n sukses.

Eerw Kenneth Gagane van die Episkopaalse Kerk vertel hoe kwaad hulle was vir die tsotsi’s wat die dorp verwoes het. En hoe lekker dit is om saam met ds Te­wie te werk vir vrede.

Masibi sê ds Tewie is ’n engel wat deur God gestuur is. Hy is ’n leier, nie ’n baas of ’n voorman of bestuurder nie. Hy het nie goeie woorde vir die politieke partye op die dorp nie, maar saam met diensknegte van God soos ds Tewie, bou hulle graag aan ’n gemeenskap waarin almal gelukkig kan saamleef.

Saam met sulke mense het ds Tewie Pieters nuwe antwoorde gevind op wat die kerk gaan doen. Waar hy in die verlede tevrede was met sending op ’n afstand, sê hy nou jy moet betrokke raak. “Jy moet daar wees waar klippe gegooi word.” Die uitdaging, sê hy, is om sy mense saam met hom te mobiliseer.