Liewe Lynnwoodrif (1)

Tielman Roux, (ongetroude) leraar van die NG gemeente Hendrina, skryf:

Iemand deel die advertensie vir die medeleraarspos van die NG Lynnwoodrif, wat in Kerkbode gepubliseer is, op sosiale media.

Ek vra myself of die reaksie op sosiale media wat die gemeenteraad uitkam, regverdig is. My antwoord: Beslis!

Die gemeenteraad word daarvan beskuldig dat hulle nie “biddend afhanklik” van die Here is nie, want die advertensie beeld hulle eie vooroordele en vrese uit. Ons sien wat húlle soek.

Tweedens bou hulle nie voort op die gereformeerde tradisie nie. En derdens is hulle so ver in trurat, dat hulle dink hulle besig is om vorentoe te beweeg.

Hulle word beskuldig van seksisme teenoor vroue en diskriminasie teen oumense, jongmense, ongetroude persone en mense wat gay is. Want jy moet tussen 30 en 35 wees, ’n man, getroud met ’n pastoriemoeder én hierdie man moet vrugbaar wees – hy moet reeds kinders hê.

Die hartseer ironie is dat die gemeente in die advertensie sê: “Ons wil almal omarm en laat tuis voel.”

Na ek hierdie advertensie gelees het, het ek ’n diep behoefte gehad aan dieselfde Matteus 11:28, wat hulle in hulle gemeenteprofiel aanhaal, wat sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is …”

Lynnwoodrif is nie die eerste gemeente wat hulle aan vooroordele in die publiek skuldig maak nie. Daar word al hoe lank gevra dat daar aandag gegee moet word aan die beroepingsproses. Ek dink gereeld nie Jesus of Paulus sou ’n kans gekry het om vandag in “hierdie” gemeente ’n leraar te wees nie, want beide was ongetroud. Gemeentes soek biddend afhanklik na die engel Gabriël as leraar, maar selfs hy is te oud.

Lynnwoodrif se advertensie het hopelik nou die voorbeeld geword, van hoe ’n advertensie nie moet lyk nie. Die sinodehuise en die ringskommissies behoort toe te sien dat dit nie gebeur nie.

– Brief verkort – Redakteur

Lees ook Lynnwoodrif 2