Nou lê die harde werk voor

Die verkiesing van ’n nuwe ANC-president was hopelik ’n keerpunt in die politieke ge­skie­denis van Suid-Afrika van die afgelope de­kades. Mnr Cyril Ramaphosa se verkiesing in Desember 2017 as ANC-leier het geweldige verwagtinge ontketen en by baie hoop gebring dat ons kan terugkeer na die paaie van nasionale eenheid en versoe­ning, van ekonomiese groei en werkskepping.

En toe volg daar die lang wag op president Zuma se bedanking. Nou is dit alles geskiedenis. Die direksie van Eskom is vervang, die staatsrede is gelewer. Die begrotingsrede is gelewer. Die kabinet is herskik. Die Guptas en hulle vriende word gesoek.

Nou lê die harde werk voor. En dis hier waar die vraag ontstaan waar die kerk se verantwoordelikheid lê. Oor die afgelope jare het die kerk die grootste moont­like morele druk op die regering geplaas om met integriteit te regeer. Daar is saam gebid en gewerk en vir ’n nuwe morele bedeling beding. Maar nou moet ons waarskynlik ons strategie verander. Ons moet krities bly en moreel rigting aandui. Maar ons sal ook moet moue oprol en daadwerklik ’n verskil maak.

Die NG Kerk lewer jaarliks deur sy diensorganisasies welsynsdienste aan ver meer as ’n miljoen Suid-Afri­kaners. Daar word uitstekende werk gedoen. Ons gemeentes doen ongelooflik baie om diens te lewer en nood te verlig. En dan praat ons nie eens van al die diens­werk en hulp wat verleen word deur lidmate waar­van niemand boekhou nie.

Maar in ’n gesprek vandeesweek met Theo Maye­kiso van die Zwane Presbyterian Church in Gugule­thu, vertel hy my dat hy dink die NG Kerk hou die sleu­tel tot die ontsluiting van baie van die uitdagings van ons land. Die verrassing is egter dat hy nie dink dit is in wat ons kan gee wat die oplossings lê nie, maar veral in wat ons kan leer.

Hy twyfel nie aan ons goedgesindheid nie. Hy twy­fel ook nie aan ons goeie bedoelinge met al ons aksies nie. Hy twyfel aan ons insig in die lewe van die swartmense van Suid-Afrika.

Toe ek hom daarop nooi om met ons gemeente te kom praat oor swartmense se lewenstyl en verwag­tinge, wys hy die uitnodiging dadelik van die hand. Want, sê hy, ons sal moet verhoudings bou, egte verhoudings, vriendskappe wat sal lei tot diepgaande begrip en insig. Wat daarna sal volg, is eintlik nie nou be­langrik om te weet nie. Die Here sal daarvandaan die pad verder uitwys.

Die moderamen het vroeër ’n aantal gesprekke geïni­sieer met politieke partye en met die Khulumani Support Group. Laasgenoemde groep van oor die 100 000 mense soek nog herstel van hulle apartheid­skade. Hulle is goed georganiseer en het takke dwars­oor Suid-Afrika.

Ons het verlede jaar met hulle ’n buitengewone geestelike ervaring gedeel toe ons na mekaar se ver­hale geluister het. Tien mense van Khulumani en 10 van die NG Kerk het op ’n baie persoonlike vlak aan mekaar blootstelling gehad. Die Here het ons almal diep aangeraak en ons insig in mekaar se lewe is vir altyd verander. En hulle wou niks van ons hê nie. Die onlangse gesprek tussen ons en die EFF se dagbestuur was net so insiggewend. Ons voorsiende oplossings vir ons land verskil radikaal, maar hulle kon leer dat ons nie ’n klomp wit rassiste is nie en ons kon leer dat hulle, soos ons, diepgaande geloofsverbintenisse het. Hulle bid ook, hulle is ook bewus van hulle verantwoordbaarheid teenoor God.

Ons kon onder meer met hulle praat oor ons kommer oor die plaasaanvalle. Ons kon waarsku teen die impak van leiers se uitsprake oor die verwydering van boere op mense wat dit as aanmoediging beleef om land­bouers en hulle werkers met geweld van plase te verwyder. Hulle kon met ons praat oor hulle voort­gaan­de gevoel van uitsluiting uit baie sfere in die samelewing.

Die NG Kerk is uitstekend geposisioneer om ’n ka­talisator te wees vir versoening en vrede. Terloops, wit­mense is in baie gevalle baie meer veroordelend teen­oor die NG Kerk as swartmense. Kollega Tewie Pie­ters vertel die mees aangrypende verhale van die rol wat die NG Kerk in Coligny speel na afloop van die rassekrisis wat in Mei 2017 daar ontstaan het.

In Kleinmond het frustrasie in die gemeenskap net so oorgekook. Weereens het die NG Kerk ’n leidende rol gespeel om die gemeenskap te dien en tot vrede te lei. Dieselfde het gebeur met die kampusonrus vroeër onder meer in Pretoria, Bloemfontein en Stellen­bosch. Leraars en lidmate van die NG Kerk was daar om die vrede te help herstel.

Ons kan egter nie telkens wag vir ’n krisis om ons te herinner aan ons getuienis oor die vrede van Christus nie. Gelukkig is daar talle gemeentes in ons land wie se getuienis die uitreiking na medegelowiges van andersoortige gemeenskappe as hulle eie, insluit. Dit is nou die tyd om die gapings tussen mense te vul met Christelike liefde en welwillendheid.

Ons ekumeniese reisgenote is ons natuurlike vennote in ons getuienis oor die transformerende krag van Christus wat storms kan stilmaak en nuwe lewe kan gee. Wat nou nodig is, is die inspirasie van die Gees wat leiers na vore laat tree om die gapings tussen mense te vul met nuwe drome. Pres Ramaphosa kan nie alleen die land genees nie. Ons sal die verhou­dings­werk in elke uithoekie van die land moet help doen.

Ds Nelis Janse van Rensburg is voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen.