Om God te aanbid, ‘waar jy nie wil wees nie’

The Calvin Institute of Christian Worship in Grand Rapids, Michigan, bied jaarliks die Calvin Worship Symposium aan, met sowat 1 500 deelnemers van regoor die wêreld. Prop Louis van der Riet, een die Suid-Afrikaners wat dit vanjaar bygewoon het, vertel van sy belewenis.


Dit is Saterdagoggend in die ouditorium van Calvin College. Die laaste dag van ’n drie dae lange simposium oor aanbidding en liturgie het aangebreek. Drie van ons groep van agt Suid-Afrikaners sit langs mekaar.

Ons staan op vir die eerste lied, maar my ge­dagtes draai elders, versadig deur die kreatiewe werk­­winkels van die afgelope paar dae. Sosiale en aktuele vraagstukke is in verband getrek met liturgie en kerk­like bediening.

Die jaarlikse Calvin Worship Symposium dek ’n verskeidenheid van belangrike onderwerpe, baie waarmee ek as proponent nog nie “liturgies” heeltemal bekend is nie. Onder meer het ons geleer oor ge­stremdheid, ras, migrasie en immigrante. Die lys is indrukwekkend, byna oorbodig, soos die VSA maar is (of vertoon).

Maar hier, tussen die dominees, draai my ge­dagtes veral by ons eie konteks en die eerlike ge­sprek­ke wat ons die vorige aand gehad het – ’n soort bui­ten­gewone sinodesitting, hier in die Noordelike Half­rond.

Ek luister met ’n halwe oor na die sensitiewe li­turg. Vandag word daar nie gelees uit die Woord nie, die Woord word beliggaam. ’n Talentvolle groep studente neem ons na die strand langs Tiberias, waar Jesus in gesprek is met Petrus. Met slegs die woorde uit die geskrewe Evangelie van Johannes 21 as teks, voer hulle hierdie ontmoeting op met deurdagte, simboliese bewegings. Hulle het my aandag.

Nadat Jesus drie maal vir Petrus vra, “Het jy my lief?”, verduidelik hy vir Petrus die implikasies van sy volgelingskap. Die Petrus-karakter se uitgestrekte arms word opgelig, kruisvormig, en Jesus se woorde kry meteens nuwe trefkrag: “… maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy nie wil wees nie.”

Daar is ’n heilige oomblik se stilte in die ouditorium terwyl Petrus met sy arms uitgestrek staan, hemelsbreed. Ek herken hierdie kruis.

My eerste gedagte is: Die kerk wat my gelegitimeer het, is dikwels ’n plek “waar jy nie wil wees nie”. Jy, wat nie wit is nie. Jy, wat nie heteroseksueel is nie. Jy, wat nie Afrikaans is nie.

Aanbidding is nie net moeilik omdat dit weerloosheid en gehoorsaamheid verg nie. Dit is moeilik, want al aanbid ons saam in een kerk, is ons steeds besig om te getuig téén ons eie vermoë om Christus se liggaam te sien in ander wat nie soos ons is nie.

Die gesprekke van die vorige aand herinner my hoe ons sukkel om met uitgestrekte arms van inslui­ting en genade, God te aanbid. Ek voel skielik die pyn van liggame wat nie wit, heteroseksueel of Afrikaans “genoeg” is nie. Ek huil. Nou het God my aandag.

My belewenis is dat aanbidding gewoonlik gebeur daar “waar jy nie wil wees nie”. Dit kan die plek van uitsluiting en miskenning wees wat veroorsaak is deur ander se vrese. Maar dit kan ook net die las van die lewe wees, wat na ons toe kom op talle onbeheerbare maniere; die stormwaters, die donker nagte, die geslote deure.

Ons herken ons kruise. Dit is hier, in die ongemaklike plek “waar jy nie wil wees nie”, waar uitgestrekte arms genade verkondig.

Ons sien iets van hierdie plek van aanbidding in die paradoks van die kruis. Dit is die simbool van Christus se kruisiging, maar ook van genade en verlossing. Aanbidding – om God te eer – vra herhaalde “bekering” en empatie, ook met jouself. Aanbidding leer ons juis om die liggaam van Christus te sien as ’n kruisvormige spanningsveld van gee én ontvang. Ons gee ons laste, en ons ontvang genade.

Nadat Jesus vir Petrus bevestig in sy identiteit en sy roeping, gee hy hom die ondubbelsinnige opdrag: “Volg My!”. “Volg My”, in die ongemak in. “Volg My”, almal wat uitgesluit word. “Volg My”, almal wat sit met skaamte en skuld oor hoe hulle Jesus verloën, soos Petrus. “Volg my”, al is die agenda van jou “sinodesitting” ongemaklik, pynlik en eksklusief.

Ek hoor op hierdie Saterdagoggend die stem wat sê, “Volg My”, ter wille van hulle wat nog nie hul eie liggaam in die liggaam van Christus herken nie; hulle wat net die oordeel, en nie die verlossing, van die kruis ken nie.

Êrens tydens die diens voel ek hoe my arms opgelig word deur die twee volgelinge langs my. En dis hier, tussen die twee eerlike dominees, wat dit vir my weer moontlik word om vir God te aanbid.

Hier kan ek ook sê, soos Petrus, “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet”. Deur hierdie aanbidding, kan ek ook die opdrag wat God vir Petrus gegee het aanneem en gaan uitleef, ook in my kerk: “Laat my skape wei”.

Proponent Louis van der Riet is besig met sy doktorale studie.