The Wound begin ’n broodnodige gesprek

THE WOUND (INXEBA), 2017
Genre: Drama/kunsfliek
Ouderdomsbeperking: Onlangs in Suid-Afrika ver­ander na 18 (’n waarskynlike poging tot sensuur)
Resensie deur Charlene van der Walt


In ag genome die onderwerp en kulturele omge­wing waartoe die internasionaal bekroonde Suid-Afrikaanse fliek The Wound (Inxeba) behoort, is dit te verwagte dat die fliek uiteenlopende en heftige reaksie sou ontlok. Dit is inderdaad nie ’n fliek wat van jou verwag om jou brein af te skakel en jou kritiese vaardighede opsy te sit sodra die filmteater verduister nie. Die regisseur John Trengrove bring ’n komplekse verhaal na die skerm met weerlose eerlikheid en ontnugterende realisme.

Ons ontmoet vir Xolani (Nakhane Touré) as ’n vurk­hyseroperateur en volg hom woordeloos soos hy sy weg vind na die diep, landelike Oos-Kaap. Xolani het ’n reputasie dat hy jong Xhosa-stadseuns met sorg en deernis begelei deur die mistieke manlikheidsoorgangs­ritueel eie aan en diep gesetel in die Xhosa-kultuur.

Kwanda (Niza Jay Ncoyini) is na my mening die juweel van die fliek en beliggaam op kwesbare dog uit­dagende wyse een wat die reis van seun na man on­der­neem in ’n ritueel so oud soos die kultuur self. Xolani se sorg vir die jong uitdagende kultuurvreemde Kwanda is gevul met deernis en wysheid.

Ons ontmoet ook vir Vija (Bongile Mantsai), ’n jaar­likse weersiens-jeugvriend van Xolani, wat ook jong mans begelei tydens die oorgansritueel.

Die spanning tussen Xolani en Vija is tasbaar van die eerste oomblik en daarom is die seksuele ontmoe­ting tussen hulle nie ’n groot verrassing nie. Die seks wat uitgebeeld word, wissel van aggressief tot diep weerloos en teer en maak volkome sin as ’n mens iets van hulle verhaal leer verstaan.

Xolani se lewenswens is opgesluit in Vija en hoewel Vija se gevoelens wederkerig is, is hy (soos dit in ’n heteronormatiewe samelewing gedikteer word) getroud en leef hy die verwagte standaarde van manlikheid uit.

In die konstruksie van manlikheid wat ook deur die Xhosa-oorgangspraktyke bevorder word, is daar nie plek vir die liefde wat tussen Xolani en Vija leef nie. As Kwanda hulle intimiteit ontdek en dreig om dit te ontmasker, is die einde op ’n manier onafwendbaar. Die jong, weerbarstige profetiese stem wat sê dat so ’n liefde gevier moet word, sal nie gehoor word nie.

In die lig van die nuwe ouderdomsbeperking, waarskynlik ’n poging tot sensuur, blyk dit dat die fliek op sigself dieselfde lot in die gesig staar. Die fliek vertel ’n storie wat gehoor moet word en begin ’n gesprek wat ons landskap broodnodig het.

▶ Prof Charlene van der Walt is hoof van die departement Gender en Religie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.