Bestuur jou dagboek met 10to8

Vir ’n predikant is dit belangrik om sy of haar dagboek goed te be­stuur. Dis onder meer belangrik vir selfsorg, omdat ’n skedule wat buite beheer is, sy tol eis. Ek gebruik die webblad 10to8.com daarvoor.

Vir baie gemeentes is huisbesoeke uitgedien, tog is daar enkele lidmate wat steeds besoeke van hulle predikante verwelkom. Maar hoe weet ek wie hulle is sonder dat ek ure hoef te spandeer om gemeentelede te skakel? Dit bly ’n uitdaging om toeganklik te bly met almal se besige skedules.

Met 10to8 het ek vooraf my weeklikse beskikbare tye opgestel en mense kan via ’n verpersoonlikte webblad met my ’n afspraak maak vir huis- of sieke­besoeke en pastorale of doopgesprekke. Wie met my afsprake gemaak het, bly egter vir ander persone wat ’n afspraak wil maak verberg en slegs die beskikbare tye word op die webblad vertoon. Jy kan byvoorbeeld ’n skakel van jou gemeente-webblad na die aanlyn afspraaksisteem opstel of ’n SMS uitstuur na lidmate in jou wyk, met ’n verpersoonlikte skakel (jy kan bit.ly hiervoor gebruik) wat die keuse om huisbesoeke in hulle hande plaas.

Wat my verder gehelp het, is dat ek my reeds bestaande selfoonkalenders (die webblad integreer met Google en iCal) kon integreer om so­doen­de dubbelbesprekings te vermy. Die sisteem stuur dan vir my ’n e-pos met die afspraak wat gemaak is, sodat ek dit kan goedkeur of die lid­maat kan kontak om die afspraak te skuif, indien dit nie vir my geleë sou wees nie. Die goedgekeurde afspraak, met die adres, word dan direk op my selfoon se kalender geplaas en ek kan my foon se GPS-fasiliteit ge­bruik om my na my afsprake te begelei.

Die 100 gratis afsprake wat 10to8 maandeliks toestaan, was vir my so­ver voldoende, sodat ek nie vir ’n betaalde diens van hulle hoef in te skryf nie. Dit sluit selfs ’n gratis SMS-herinneringsdiens in. Die betaalde opsie kan jou gemeente toelaat tot meer afsprake en om die kalenders van al die gemeentepredikante op een profiel te plaas. Hierdie opsie mag egter die selfoonkalender se integrasie bemoeilik.

Kom éérste by jou kalender en dan gemaklik by gemeentelede uit!

▶ Dr Pieter J Visser is leraar van die NG gemeente Wierdapark.