Die Woord gee lewe

Die Bybel, word daar soms gesê, is die mees gelese boek in die geskiedenis van die mensdom. Daarby, hoor ’n mens ook, is dit seker die mees misbruikte boek ooit.

Daarom is die gesprekke wat in die kerk gevoer word oor hoe ’n mens die Bybel reg moet verstaan, van kritiese belang. As kerk bely ons immers dat die Bybel die Woord van God is. Deur die Bybel hoor ons dat God met ons praat.

Psalm 19:8a gee vir ons ’n maatstaf waaraan ons ook ons Bybelverstaan kan meet. Dit lui: “Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe.”

Dié woorde eggo Psalm 1 se beeld van ’n boom langs ’n waterstroom wat vrug dra. Dit herinner ook aan Jesus se woorde dat Hy gekom het om oorvloedige lewe te bring.

’n Mens kan die Bybel so hanteer dat dit nié lewe bring nie. Dink maar net hoe die geleerdes in Jesus se tyd die wet verstaan het. Telkens bring hulle verstaan van God se wet hulle daarby om beswaar te maak daarteen dat Jesus mense genees.

Jesus bring nuwe lewe in ’n man se gebreklike hand, in ’n blinde se oë, in ’n kromgetrekte vrou se rug. Maar die godsdienstiges sou liewer dat hulle met die dood in hulle liggaam bly sit, as dat Jesus hulle op die sabbat genees.

As ons Skrifverstaan gedomineer word deur wetlikheid, deur skemas van skuld en onskuld, loop ons die gevaar om soos die geleerdes in Jesus se tyd hierdie be­langrike aspek van God se woord uit die oog te verloor: Die Woord gee lewe.

Ons moet die Bybel so hanteer dat dit ’n kanaal van God se lewegewende liefde is wat na mense toe vloei. Slegs dan is dit die Woord van God.