‘We are growing,’ sê Floyd

Ds Jannie Pelser se bediening Toekomsvenster bring die evangelie van God se liefde op praktiese maniere na mense toe. Een daarvan is deur studente op te lei in verskillende soorte vaardighede. Hy het vir NEELS JACKSON gaan wys waaroor dit gaan.


Munsieville is ’n swart woonbuurt by Krugersdorp. Dit is ’n wêreld wat vir baie witmense van die omgewing onbekend is, ’n wêreld van armoede en swaarkry en jongmense wat smag na iets beters.

Ds Jannie Pelser het jare gelede die kloof na Munsieville oorgesteek en vriende gemaak met Tembeni Joni, ’n jong man wat drama gebruik om vir ander jong­mense geleenthede te skep. Jannie het vir Tembe­ni ondersteun, deur hom jongmense van Munsieville leer ken en bewus geword van hulle drome en frustrasies.

Toe hy hoor van ’n stroom houtpalette wat hulle kon kry, het Jannie gedink aan moontlikhede om dit te gebruik om vir werklose jongmense vaardighede aan te leer. Hy het met Tembeni gaan gesels en vir hom gesê hy soek twee jong mans wat hulle so kan help. Tembeni het vir Oupa Rathebe (27) en Floyd Stoffel (29) gebring.

Jannie het ook met Frikkie Botha gaan gesels. Frikkie is ’n lidmaat van die NG gemeente Rant-en-Dal Prisma waaraan Jannie verbonde is. Hy was 10 jaar lank in die boubedryf, maar het begin afskaal. Hy het ook by die huis houtwerk gedoen. Frikkie het onder­neem om vir Oupa en Floyd te leer houtwerk doen.

Nog ’n vroeëre lidmaat van Rant-en-Dal Prisma, Hennie van Aswegen, het ’n ruimte op ’n hoewe naby Munsieville beskikbaar gestel waar hulle kon werk. Dit was aanvanklik weinig meer as ’n sementblad, maar intussen is ’n houtwerk-werkwinkel daar ingerig.

Oupa praat van die “rough furniture” wat hulle uit die hout van die palette maak. Dit wissel van tuinbanke tot doelgemaakte meubeltjies vir kleuterskole. Dis vir hom lekker om dit te doen. Hy leer nuwe vaardighede aan.

Hy voel hy is êrens heen op pad, sê Oupa. Hy weet nie presies waarheen nie, maar hy is seker hierdie pad gaan iewers heen lei. Met sy nuwe vaardighede kan hy dalk eendag ’n werk kry. Dalk kan hy sy eie besigheid begin.

En dis nie net houtwerkvaardighede wat hulle aanleer nie. Dis lewensvaardighede. Floyd vat dit eenvou­dig saam: “We are growing,” sê hy.

“In die lokasie,” sê Floyd, “werk die mense nie. Dit is nie ’n gesonde lewenstyl nie. Hierdie sal my lewe op ’n positiewe manier ver­ander.”

Hy vertel ook dat Moruti, soos hy na Jannie verwys, vir hom ’n Bybel gebring het en vir hulle vertel van die Bybel.

Om die naaldwerktafel. Van links is Bet­­sie Kruger, Ntakasi Manhique, Rina Schu­botz, Kgomotso Mosinki en Memory Dube.

Die lewens van Oupa en Floyd en die ander studente wat intussen bygekom het, is reeds baie verryk deur wat as ’n eenvoudige houtwerkprojek begin het. Maar dis nie net hulle s’n nie. Ook Frikkie vertel dat dit sy lewe meer sinvol maak. As ’n mens aftree en later net met jouself besig is, is dit nie sinvol nie, sê hy. Vir hom is dit lekker om te sien hoe sy studente vorder.

In Rant-en-Dal Prisma se kerksaal speel ’n soortgelyke verhaal hom af. Maar daar is dit Rina Schubotz en Betsie Kruger wat jong vroue leer om naaldwerk te doen. Sakke, klere, kussings, gordyne en nog meer.

Die 71-jarige Rina was ’n huishoudkundeonder­wyser wat later by die nasionale onderwysdepartement leerplanne en handboeke opgestel het. Dit was vir haar baie swaar om af te tree, vertel sy. Maar met haar betrokkenheid by hierdie jongmense voel dit vir haar “of die lewe teruggekeer het”.

Senior lidmate soos Rina, sê Jannie, sit met 30 of 40 jaar se ervaring. Dit sluit tegniese ervaring in, maar ook lewenservaring. Hulle het soveel om terug te ploeg in ander se lewe. Dit bring sin in hulle lewe. Hulle voel hulle lewe beteken iets en hulle entoesiasme is aansteeklik.

En vir naaldwerkstudente soos die 20-jarige Ntakasi Manhique beteken die naaldwerk ook baie. Sy hoef nie langer heeldag te sit en niks doen nie. Sy het reeds soveel vaardighede aangeleer dat sy oor Desember ’n klein besigheid kon bedryf waarin sy gordyne en klere vir mense kon regmaak.

Jannie voel oor die hele projek soos wat Floyd oor homself voel: “We are growing.”

As mense sien wat gebeur, koop hulle in. Hulle raak betrokke en dit groei. So het hy onlangs ’n jongmens geplaas by ’n kunsgalery waar hy gaan leer om rame vir kunswerke te maak.

En die drome is groot. Hulle wil hê dit moet teen einde vanjaar groei tot ’n funksionele opleidingsinstansie, ’n satellietsentrum van ’n groter instansie waar geakkrediteerde kursusse aangebied kan word. Meubelmakery. Tekstielwerk. Daar is ook reeds gesprekke aan die gang oor opleiding in bakkery.

By ’n skool in die omgewing het hulle ’n onbenutte seunskoshuis gekry wat hulle kan inrig vir hulle doel en die planne is besig om al duideliker vorm aan te neem.

Dis ’n geloofspad waarop Jannie, Toekomsvenster se medewerkers en hulle studente is. Maar dit is ’n reis waarop hulle reeds die eerste vrugte begin pluk.