Herwinning – daar is nou ’n stelsel wat werk

In Pretoria is daar ’n stelsel ontwikkel waarin lidmate, gemeentes en ’n middestadbediening vennote is om herwinning van huishoudelike afval ’n maklike en skoon proses te maak. Ds Fouché de Wet van die NG gemeente Suidoos-Pretoria (ook bekend as Stellastraat) het vir NEELS JACKSON gewys hoe dit werk.


Die hele proses van herwinning van huishoudelike afval begin in die kombuis. In Fouché se pastorie staan daar drie houers netjies langs mekaar. Die eerste is vir blikkies en bottels, die tweede vir alle soorte plastiek, en die derde vir papier en karton.

Ander nie-herwinbare afval, waaronder nat afval soos oorskietkos, gaan na die gewone vullisblik waar­van die inhoud uiteindelik deur die munisipale diens as vullis verwyder word.

Die klein bietjie dissipline om die afval in die kombuis te sorteer, is van die min dinge wat van ’n gewone huis­bewoner verwag word om die stelsel te laat werk. En dis belangrik dat die stelsel maklik moet wees. As dit vir die huisbewoner te moeilik raak, misluk dit nog voor dit begin het.

Fouché sê die meeste mense dink dis ’n goeie ding om te herwin. As dit nie te moeilik is nie, sal die mees­te mense dit doen.

David Khoza verf die planke aan die kant van ’n herwinningshouer met kreosoot om dit te beskerm. Hy was vroeër werkloos, maar help nou onder meer om die herwinningshouers te maak.

Nie almal bring dit by hulle geloof uit nie, maar volgens Fouché is dit deel van ’n gelowige se Christelike verantwoordelikheid om met sorg met God se skepping te werk. Mense is immers afhanklik van die skepping. ’n Mens moet in vennootskap met die omgewing lewe – ter wille van die omgewing self, ter wille van ander mense en ter wille van jouself.

Verantwoordelike omgang met die skepping is ook ’n saak van geregtigheid, sê Fouché. Dit is tipies arm mense wat om rommelhope woon. Mense met geld se rommel word weggery. Hulle kry afstand van hulle afval. Maar die arm mense wat naby die rommelhope bly, kan dit nie doen nie. En dis nie reg nie.

Die mikpunt deur die gemeente se betrokkenheid by herwinning, is onder meer om mense se vullisvoetspoor te verklein, om mense meer sensitief te maak vir ander se leefomgewing.

Die boodskap van verantwoordelik lewe ter wille van die omgewing en ter wille van ander mense word ge­reeld en op verskillende maniere in die gemeente oorgedra. Van die kansel af, in die afkondigings, maar ook deur ’n eenbladsypamflet wat teen die yskas kan hang. Dit verduidelik waarom daar herwin word, wat herwin kan word en hoe ’n mens te werk moet gaan.

So word daar gevra dat blikkies en bakkies waarin daar kos of drinkgoed was, uitgespoel word voor dit vir herwinning gebring word. Dít, verduidelik Fouché, word gedoen ter wille van higiëne, maar ook uit re­spek vir mense wat verder met die materiaal moet werk. Houers wat nie uitgespoel word nie, lok bye en vlieë, wat allerlei gevare inhou vir mense wat die afval verder moet hanteer.

Die volgende stap vir ’n lidmaat is om die materiaal kerk toe te bring en daar in die verskillende houers vir herwinning te gooi.

Dit is nog ’n punt waar herwinningsprojekte soms skeefloop. As die houers waarin mense hulle afval gooi, nie gereeld leeggemaak word nie, ontaard dit in ’n onooglike gemors wat organisasies liewer laat halt roep met herwinning. Mense gooi ook enige afval in enige houer of sommer langs die houers.

By Stellastraat het hulle eers groot plastiekasblikke gebruik waarin mense die verskillende soorte rommel kon gooi. Maar dié houers het te gou vol geword en dan het mense die afval langs die houers gelaat.

Die antwoord op dié probleem was dat Fouché (wat as ingenieur opgelei is voordat hy dominee geword het) ’n stel houers ontwerp het waarin mense hulle rom­mel by die kerk kom gooi.

Die netjiese herwinningstasie langs Stellastraat se parkeerterrein. Die geel asblik links is vir elektroniese afval. Dit is baie minder as die ander afval. Pen se Volitionsentrum hanteer nie sulke afval nie, maar die gemeente ry dit self elke paar maande weg na ’n instansie wat sulke afval hanteer.

Fouché verduidelik dat ’n suikersak van 1 kubieke meter die hart van die ontwerp is, omdat dit die soort sak is wat algemeen in die herwinningsbedryf gebruik word. “Dit is die swart asbliksak van die herwinningsbedryf,” sê hy. Dit kos R50, hou ses maande en is koste-effektief.

Fouché se ontwerp het ’n raamwerk van metaal waar­binne die suikersakke aan hake gehang word. Aan die een kant van die raamwerk is ’n deurtjie wat kan oopswaai, sodat ’n swaar sak vol rommel nie uit die raamwerk opgelig hoef te word nie, maar uitge­sleep kan word.

As die sak in die raamwerk hang, is die bokant groot oop sodat mense maklik hulle afval daarin kan gooi. Maar omdat dit oop is, het die raamwerk ook ’n dakkie om die reën uit te hou. By dit alles word die raamwerk afgewerk met planke uit ou palette, sodat die houers self uiteindelik baie netjies vertoon.

Fouché sê daar is al sowat 30 van dié houers gemaak. Benewens Stellastraat is daar enkele ander gemeentes wat dit gebruik, kleuterskole in die middestad gebruik dit, die middestadbediening Pen se projekte maak gebruik daarvan en daar is ’n woonstelblok in Sunnyside wat dit ook al benut.

’n Ketelmaker wat sy werk verloor het maak die metaalraamwerk van die houers. Iemand anders wat werkloos was, saag die planke, sit dit vas en verf dit met kreosoot sodat dit sal hou. Met die materiaal en arbeidskoste ingereken, kos die houers R2 500 elk.

Stellastraat se ses houers kos die gemeente dus R15 000. Maar met ’n weeklikse inkomste van R100 tot R300 uit die herwinde materiaal, sal die opbrengs uit die herwinning die kapitaaluitleg kort voor lank betaal. Die hele gedagte is dat so ’n projek ’n gemeente uiteindelik niks kos nie.

Stephanie Kachelhoffer van die Volition Centre by ’n houer waarin karton gepak word vir herwinning.

Wanneer Fouché sy drie kombuishouers se herwinbare afval kerk toe bring, wag daar ’n laaste bietjie sorteerwerk, want by Stellastraat is daar nou ses houers. Daar is byvoorbeeld twee verskillende houers vir verskillende soorte plastiek. Daarby is daar ook een houer vir karton en ’n ander houer vir papier.

Fouché verduidelik dat verskillende soorte papier verskillende pryse behaal. Karton is byvoorbeeld baie minder werd as wit papier. As ’n mens alles in een bondel verkoop, word jy vir alles die prys van karton betaal. As jy die wit papier afsonderlik kan aanbied, kry jy heelwat meer daarvoor.

Die ander twee houers is vir glas en vir blikkies.

Eva Makhubela help om die verskillende soorte plastiek te sorteer.

Stellastraat se herwinningspunt was vroeër teen die heining aan die straat se kant, maar dit het nie goed gewerk nie. Daar was mense wat hulle goed sommer oor die heining gegooi het en dan het dit sleg gelyk. Nou is dit dieper in die kerkterrein, mense moet inry om daarby uit te kom, en dit bly netjies.

Die hele herwinningsprojek geskied in vennootskap met Volition, Pen se herwinningsentrum in Sunnyside. Hulle kom weekliks, haal die sakke met rommel uit en hang leë sakke op.

Stephanie Kachelhoffer, bestuurder van Volition, sê sy het ’n span met twee bakkies en sleepwaens wat die herwinbare afval gereeld by punte soos Stellastraat gaan haal. Dit kan weekliks of twee maal per week gebeur afhangende van hoeveel afval daar is.

Dan het sy werklose mense in diens geneem wat die afval verder sorteer. Net die verskillende soorte plas­tiek is al ’n lang lys. Daar is die harde deurskynende plastiek waarvan party koel­drankbottels gemaak word, en die gekleurde plas­tiek van ander koel­drank­bottels. Die dik plastiek van die koel­drankbottels se doppies is weer ’n ander soort. Plas­tiek­sakke is weer iets anders. En so gaan dit voort.

Wanneer die afval in hulle ver­skillende soorte gesorteer is, word dit gehaal deur die instansies wat dit verwerk. Telkens word daar per gewig daar­voor betaal.

Die herwinning, as ’n verantwoordelike omgang met God se skepping, is opsigself ’n belangrike doel. By Pen vorm dit egter ook deel van ’n holisitiese werk met mense. In die herwinningsproses word daar op verskillende punte werk geskep. Daardeur help Pen werklose mense om van die straat af te kom, om hulle selfrespek te herwin, ’n inkomste te verdien en weer die lewe in die oë te kan kyk.

Drie houers vir verskillende soorte herwinbare afval in die kombuis. Links is glas en blikkies, in die middel plastiek, en regs papier en karton.

Sulke mense word ook op verskillende ander ma­nie­re ondersteun. Dit wissel van ’n plek om te stort, tot maatskaplike hulp, mediese hulp en geestelike ondersteuning.

Die opbrengs van die herwinning betaal mense se salarisse, sê Stephanie, en as daar geld oor is, neem sy nog iemand in diens, of die geld gaan na Pen se ander projekte toe.

Fouché noem dit ’n holistiese program waardeur Pen daarin slaag om arm mense van die straat af te haal, hulle van dwelms af te kry en hulle emosioneel te help heel word.

Dit alles beteken dat die lidmaat wat die bietjie moei­te doen om sy of haar plastiek, blikkies, papier en glas in afsonderlike houers in die kombuis te gooi, nie net besig is om verantwoordelike omgewingsorg te doen nie, maar ook om hawelose mense te help om ’n bietjie menswaardigheid te herwin. Dis ’n manier om sulke mense te help om iets van God se versorgende lief­de te ervaar.

Wat verder belangrik is, is dat dié hele stelsel nou gevestig is, dat ’n klomp groeipyne uitgestryk is en dat dit nou ’n model is wat elders gedupliseer kan word. Gemeentes in Pretoria kan inskakel by die stelsel waar­volgens Pen en ’n handvol gemeentes in die stad reeds saamwerk.

In ander sentrums kan soortgelyke samewerking tus­sen middestadbedienings en gemeentes begin word.

Enigiemand wat belang stel om meer van die hele proses te wete te kom, kan ds Fouché de Wet bel by 073 234 0156.