Na wie se stemme luister ons?

Die kerk is ’n plek van verskillende mense en verskeie stemme, wat ons dan saamroep om iets te probeer verrig, ’n visie te dryf, of selfs om ’n probleem op te los, en dit is dán wanneer daardie stemme begin praat.

As geloofsgemeenskap, as kerk van Christus, sê ons dat ons insluitend is, of dat ons na almal luister en ’n leierskapstruktuur probeer behartig wat ’n on­der-na-bo-ingesteldheid voorhou. Dus neem ons aan, en verkondig ons, dat alle stemme ’n plek het in die kerk.

Ongelukkig is dit nie noodwendig waar in die praktyk nie.

Indien daar enige kerklike liggaam is, of dit ’n sinode, ’n kerkraad, of net ’n kategese-komitee is, en daar word ’n visie uitgedink of ’n besluit geneem, soek ons dikwels mense wat sal saampraat. Die moei­lik­heid kom wanneer almal se stemme nie oor die saak oor­eenstem nie. Indien daar verskillende opinies is, en al­mal nie saamstem nie, na wie luister ons?

Te dikwels sien ons hoe die kleiner stemme ’n opinie het wat teen die hoofstroom is, maar dat hulle nie so ernstig op­ge­neem word soos die stem­me van mag en gesag nie. Te dikwels sien ons ’n jong­mens, of ’n randfiguur, of iemand wat ontsteld is oor die status quo, na wie se stem nie geluister word nie omdat hulle teen die hoofstroom is en dikwels as ontwrigtend beskou word. Te dikwels sien ons hoe daar net na men­se in posisies van invloed geluister word as daar iets nuuts of anders voorgestel moet word.

Weereens vra ek, na wie luister ons?

Indien ons positiewe verandering soek in die kerk, wat elke dag meer nodig en meer dringend raak, is dit nodig om te luister na die stemme van die randfigure, die buitestanders, die stemme van die jongmense, en die stemme van mense sonder invloed. Hierdie is juis die stemme van die mense en groepe wat buite die mag­strukture en teen die stroom beweeg, en nie bang is vir die nodige verandering nie.

Hierdie ontwrigtende stemme, wat nie mag probeer uitoefen of behou nie, wat vanuit die randfigure in ons kerk en samelewing roep, behoort gehoor te word en is die stemme waarna ons moet luister. Die stemme van die jongmense, die randfigure, die mense wat steeds as ongelykes beskou word, die mense wat nie die volle regte van ander lidmate mag geniet nie, is die stemme wat teen die stroom is, wat buite die magstruk­tu­re praat, en wat ons as kerk die nodigste het.

Etienne Snyman is ’n jeugwerker, aanbiddingsleier en lid van die Wes-Kaapse Sinode se Jong Volwassenes Leer­gemeenskap.

Lees ook Ken ons ons jong volwassenes?